Krugersdorp-tiener is Google Doodle-wenner

Katya Ludick se wen-doodle wat op 3 Desember 2014 op google.co.za te sien is

Katya Ludick se wen-doodle wat op 3 Desember 2014 op google.co.za te sien is

Katya Ludick van Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp se kunswerk pryk vandag op die webwerf google.co.za nadat sy dié maatskappy se Doodle 4 Google-kompetisie gewen het.

Katya was die algehele wenner en kategoriewenner in die ouderdomsgroep 12 – 14 jaar met haar doodle, “My bewaringsdroom”. Sy het 6 349 stemme gewerf.

“Die Suid-Afrikaanse vlag is trots verteenwoordig in die Google-letters,” het sy gesê. “Die weerkaatsing simboliseer 20 jaar van vryheid. In my Suid-Afrikaanse droom is daar nie meer stropery nie. Ons moet baklei vir diegene wat nie kan praat nie. Bewaring is ons toekoms.”

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrikaanse skoliere tussen ses en 17 jaar oud het aan die “Doodle 4 Google”-kompetisie deelgeneem en die publiek kon vir hul gunstelinge kom stem. Die tema vir vanjaar was “Die Suid-Afrika van my drome”.

“Die doel van Doodles is om mense te verras en te vermaak wanneer hulle die Google-tuisblad besoek,” aldus die kompetisie-webwerf. Google het dieselfde kompetisie in 2010 as deel van ʼn wêreldwye veldtog vir die Sokkerwêreldbeker gehou maar hou jaarliks die kompetisie wêreldwyd in verskillende lande.

Katya wen ʼn R100 000 tegniese toelating vir haar skool, ʼn Android-tabletrekenaar, R500 Google Play-geskenkbewys, ʼn geraamde afskrif van haar Doodle, ʼn T-hemp met haar wen-Doodle daarop en ʼn Google-geskenkpakkie.

Die ander ouderdomsgroepkategoriewenners is soos volg:
6 – 8 jaar oud: Kayleigh Breytenbach van Laerskool Sabie in Sabie, Mpumalanga (3 798 stemme)
9 – 11 jaar oud: Zehiye Rahman van Clarendon Preparatory School in Selborne, Oos-Londen (2 986 stemme)
15 – 17 jaar oud: Alexandra Wuzyk van Hoërskool Secunda in Secunda, Mpumalanga (4 395 stemme)

Klik hier om die kategoriewenners se doodles te sien.
Klik hier om die oorspronklike berig op Maroela Media te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.