Krugersdorp-verkragtings ruk weduwee opnuut

Koos Kruger is op 6 Junie by Sibanye-Stillwater se Cooke-aanleg doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

ʼn Gebroke weduwee van Randfontein meen die onlangse verkragtings in Krugersdorp, wat glo deur ʼn groep zama‑zamas gepleeg is, kon verhoed gewees het indien die polisie destyds met haar man se moord teen onwettige myners opgetree het.

Die vakbond Solidariteit sê ook dié probleem is nie ʼn nuwe een nie en dat myners lank reeds vir hul lewens vrees.

Koos Kruger (68) is in Junie vanjaar by Sibanye-Stillwater se Cooke-aanleg doodgeskiet terwyl hy en ʼn span van 23 ander mans kragkabels op die aanleg herstel het. Die vermeende moordenaars, wat glo die res van die groep erg aangerand en beroof het, is na bewering ook zama‑zamas.

Maroela Media het vroeër berig dat die aanvallers destyds in die honderde op die groep werkers toegesak en op hulle begin skiet het.

Estie Kruger, Koos se weduwee, het opnuut die wonde van daardie dag oopgekrap toe sy die afgelope week haar man se moord aan Maroela Media beskryf het.

Volgens Estie is haar man, wat vir meer as 30 jaar vir Sibanye gewerk het, die Maandagaand ontbied om aan die bo- en ondergrondse kabels te werk.

Terwyl Koos en sy kollegas aan die bogrondse kragkabels gewerk het, is daar skote op hulle afgevuur.

“Dit is eerlike en opregte mans wat daardie dag by die werk was om geld te verdien om vir hul families te sorg,” sê sy.

Die groep het noodgedwonge vir skuiling na ʼn gebou toe gehardloop. Hulle is deur die onwettige myners vasgekeer, maar het gesien hulle kan deur die ondergrondse skag ontsnap en het een vir een deur die gaping geglip.

“Terwyl hulle besig was om ondergronds te beweeg, het die aanvallers op hulle geskiet. As hulle nie daar ingegaan het nie, sou al 24 mans dood gewees het, nie net my man nie.”

Koos was een van die laastes wat moes afklim toe ʼn skoot hom in sy sleutelbeen getref het. Hy is nog drie keer daarna geskiet. Die onwettige mynwerkers het glo oor Koos se liggaam getrap en hom rot en kaal besteel – selfs sy bril gebuit.

Van Koos se kollegas wat ondergronds probeer wegkruip het, is glo deur die aanvallers uitgepluk en aangerand. Van hulle is selfs met skroewedraaiers gesteek.

“Hy het op die ouderdom van 18 jaar by die myn begin werk. Jare later het hy net daar dood gegaan,” sê Estie.

Koos is ʼn paar dae ná die voorval begrawe.

Te min te laat

Koos is dae na sy dood begrawe. (Foto: Verskaf)

Kort voordat Koos vermoor is, kon van sy kollegas tussendeur die chaos ontsnap in ʼn poging om hulp te ontbied. Dit nadat die sekuriteit wat op die perseel was, skynbaar net verdwyn het.

Sy kollegas is inderhaas na die Westonaria-polisiestasie toe, maar is glo aangesê dat die aanleg nie hulle polisiëringsgebied is nie en dat hulle eerder elders vir hulp moes aanklop. Die groep is na Bekkersdal-polisiestasie toe en polisiebeamptes is eindelik na die aanleg ontbied. Hulle het na bewering nie ingetree om die plofbare situasie te beredder nie.

“Die polisie het twee ure lank geweier om tot die situasie toe te tree, selfs die brandweer het gesê dit is te gevaarlik. Hulle het daar gestaan en niks gedoen nie terwyl my man vermoor is.”

Nadat die zama‑zamas self uit die gebied onttrek het, het die polisie glo eers die perseel betree.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, maar het glo nog geen tasbare leidrade nie.

Maroela Media het navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog op terugvoer hieroor.

Die jongste aanvalle op die filmspan in West Village in Krugersdorp en die inhegtenisnemings wat daarop gevolg het, het Estie opnuut geruk.

“Was een man se dood en talle ander se aanranding dan nie genoeg vir die polisie om toe al iets oor die onwettige myners te doen nie? Hulle is vinnig om nou die zama‑zamas vas te trek, maar al die voorvalle sedert my man se dood kon verhoed gewees het as hulle toe al opgetree het,” sê sy.

Steve Scott, Solidariteit se verteenwoordiger vir mynwerkers by Sibanye, het aan Maroela Media gesê dat dié aanleg, en talle soortgelykes gebuk gaan onder onwettige mynbedrywighede.

“Solidariteit is baie bekommerd oor die veiligheid van sy lede by die myne en ons het al by verskeie geleenthede met die bestuur vergader om oplossings hiervoor te vind,” sê hy.

Die vakbond is self ook bewus van ʼn aantal gevalle waar sy lede deur zama‑zamas gekaap, aangeval en beroof is.

Volgens Estie is sy enkele weke ná Koos se dood na die toneel geneem – boonop met pantservoertuie en gewapende mans in oorvloed.

“Ek wens hulle kon die soort veiligheidsmaatreëls wat vir ons getref is vir my man en sy kollegas ingestel het,” sê sy.

Maroela Media het Sibanye genader vir kommentaar oor die stand van hul veiligheidsprotokolle na aanleiding van die voorval, maar wag nog op terugvoer in dié verband.

“My man se bynaam by die werk was gentleman want hy het almal, gee nie om wie nie, met dieselfde vlak van respek behandel,” sê Estie.

“Hy het nie verdien wat hom oorgekom het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Hoekom klink dit asof die polisie bang was vir die zama zammas?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.