Krugersdorpse skool weer oop ná etlike virusgevalle

Krugersdorp High School is weer oop nadat 11 leerders van die meisieskoshuis onlangs by dié skool positief vir Covid-19 getoets het. (Foto: Facebook)

Die Krugersdorp High School is weer oop nadat geen nuwe positiewe gevalle van Covid-19 by dié skool aangeteken is nie.

Maroela Media het verlede week berig dat die skool sy deure gesluit het nadat 11 leerders van die meisieskoshuis by dié skool positief vir Covid-19 getoets het. Die seunskoshuis was ook in April tydelik gesluit nadat een van die matrieks in die koshuis positief getoets het.

Ivan Bailey, skoolhoof, sê dat daaropvolgende toetse op leerders wat in nabye kontak met diegene was wat vroeër positief getoets het, die afgelope week in samewerking met die Gautengse departement van gesondheid uitgevoer is.

“Ek is bly om te kan sê dat al dié leerders negatief getoets het.

“Ek kondig egter met groot hartseer aan dat ’n ouer van die skool Donderdag aan Covid-19 oorlede is. Ons is tans is kontak met die familie,” sê Bailey.

Bailey sê dat leerders Maandag met hulle terugkeer na die skool verpligte protokol moet volg en stiptelik moet aanmeld.

Hy het voorts ’n beroep op ouers gedoen om Covid-19-regulasies tuis na te kom – ook oor naweke.

“Daar is bewyse dat leerders massabyeenkomste in Braamfontein, Roodepoort en Kagiso bygewoon het. Byeenkomste soos dié, waar die virus baie vinnig versprei, skep groot probleme en bemoeilik die bestuur van die skool.

“Ek glo dat die skool ’n veilige omgewing is waar leerders minstens ses keer per dag hulle hande en lessenaars ontsmet. Dus is dit belangrik dat dat daar ook ’n veilige ruimte vir leerders by die huis geskep word,” sê Bailey.

Maroela Media het Donderdag berig dat hoewel Suid-Afrika nog nie in die derde vlaag van die pandemie is nie, is die risiko daar en is dit nou tyd vir verhoogde waaksaamheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.