Krugerwildtuin maak gereed vir Eloise

Argieffoto (Foto: HubertRams, Pixabay)

Die Nasionale Krugerwildtuin begin solank voorsorgmaatreëls tref in afwagting op die tropiese sikloon Eloise wat al hoe nader aan Suid-Afrika beweeg. Die wildtuin sê sy rampbestuurspanne en noodspanne is op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas en sal geaktiveer word sodra dit lyk of enige gevaar dreig.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) word stormsterk winde en swaar reën dié naweek vir die verre noordelike gedeeltes van die Krugerwildtuin voorspel weens die tropiese storm Eloise wat tans van Madagaskar na Mosambiek beweeg.

Gareth Coleman, besturende direkteur van die wildtuin, sê hul wetenskaplikes, in samewerking met die weerdiens, monitor die ontwikkeling van die storm noukeurig.

“Hulle sal ons in kennis stel sodra ons die kampe – in die gebiede wat erg deur die storm geraak kan word – moet ontruim,” sê Coleman.

As voorsorgmaatreël het die wildtuin reeds al die grondpaaie en sommige fasiliteite in die Pafuri-omgewing gesluit nadat swaar reën Woensdagaand uitgesak het.

Mense met besprekings by kampe in die verre noorde van die wildtuin, soos Sirheni-, Shimuwini- en Bateleur-bosveldkampe, asook Sable Hide sal in die Letaba-, Mopani-, Shingwedzi- en Punda Maria-ruskampe gehuisves word.

Die wildtuin doen ʼn beroep op besoekers om ekstra versigtig in hierdie tyd te wees en hul noodnommer (076 801 9679 of 013 735 0197/4064) te skakel indien daar enige probleme is.

Intussen waarsku Eskom mense oor die groter risiko om tydens stormweer deur elektrisiteit geskok te word.

Maroela Media het vroeër berig swaar reën kan Sondag oor die suide van Mosambiek, die oostelike Laeveld, die Limpopo- en Mpumalanga-platorand, asook die noorde van KwaZulu-Natal verwag word.

Eskom waarsku inwoners in dié provinsies om ekstra versigtig te wees vir oorhoofse kragkabels wat beskadig is, ineengestort het of dalk laag hang.

“Met die erge wind en reën wat skade aan die elektriese infrastruktuur kan aanrig, is ons reeds in verbinding met ons rampbestuursentrums om te verseker dat moontlike skade so gou moontlik reggestel word. Daar is egter ook veiligheidsmaatreëls wat elke inwoner self kan toepas om sy of haar eie veiligheid te verseker,” sê Miranda Moahlodi, senior bestuurder vir gesondheid en veiligheid by Eskom.

“Omdat water ʼn goeie geleier van elektrisiteit is, kom elektriese skokke ook meer voor gedurende die reënseisoen. As die oop of beskadigde kragkabels met water in aanraking kom, kan die water die elektrisiteit in die grond, waterplas, boom of stroom gelei. As iemand die kabel aanraak terwyl dit nat is of in die water staan, is daar ʼn kans op ʼn elektriese skok.

Moahlodi deel die volgende wenke om ʼn elektriese skok tydens die stormweer te verhoed:

  • Sodra dit lyk asof water jou huis gaan binnestroom, skakel jou huis se hoofskakelaar onmiddellik af.
  • Verwyder alle elektriese toerusting, soos verwarmers, laaiers, waaiers en kraguitbreidings, van die vloer af en plaas dit op hoë oppervlakke om waterskade te voorkom.
  • Moenie elektriese toestelle gebruik indien jy vermoed dat dit onder water of in kontak met water was nie. Laat ʼn professionele persoon eers daarna kyk.
  • Moenie bome of takke wat omgeval het self probeer verwyder nie en meld dit aan by jou plaaslike munisipaliteit. As ʼn kragkabel met dié boom of tak in aanraking gekom het en jy vat dan aan die boom, kan dit ʼn elektriese skok veroorsaak.
  • As daar onwettige kragverbindings in jou omgewing is, meld dit aan by Eskom deur 0800 11 27 22 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Op die stadium sit die oog naby Quelimane, noord van Beira, en lyk dit eerder of Zim en Malawi die wind gaan kry na Mosambiek. Daar is nie eens van Eloise se wolke by Maputo nie. Beira loop egter goed deur!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.