Krugerwildtuin-stropers skuldig bevind

Argieffoto (tpsdave, Pixabay)

Argieffoto (tpsdave, Pixabay)

Vier mans is Vrydag in die Nelspruit-streekshof skuldig bevind nadat hulle die Krugerwildtuin betree het om renosters te stroop.

Patrick Ngwenya (28), Sibusiso Mpangane (26), Thulani Mchunu (31) en Charles Zitha (29) is almal informele nedersettings naby Hazyview in Mpumalanga afkomstig. Hulle is skuldig bevind op aanklag van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, betreding en die uitvoer van ʼn beperkte aktiwiteit in die Krugerwildtuin.

Wildbewaarders het die mans op 7 Desember 2010 in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. ʼn Vyfde beskuldigde, Bongi Mliba, is tydens ʼn skietgeveg doodgeskiet. Die polisie het op die toneel beslag gelê op ʼn 9mm-pistool, ʼn R5-geweer, ammunisie en ʼn byl.

Landdros Andre Geldenhuys het tydens sy uitspraak gesê twee wildbewaarders wat op patrollie was, het op die betrokke dag die vyf verdagtes op ʼn afstand van 2 km in die park opgemerk. Die verdagtes het in die park gestap. “Die wildbewaarders was op ʼn uitkykpunt en hulle het die verdagtes bly volg. Hulle het gesê twee van die verdagtes het gewere gedra, een persoon het ʼn sak gedra en die ander een ʼn byl. Die mans was ongeveer 1.2 km van die grensdraad af.”

Volgens Geldenhuys het die bewaarders op die verdagtes geskree om stil te staan, toe die verdagtes op hulle losgebrand het. “Die wildbewaarders het teruggeskiet en die verdagtes het in verskillende rigtings gevlug. Die bewaarders het ondersteuning ontbied en ʼn helikopter het gou opgedaag om hulle in die jaagtog by te staan.”

Twee getuies, wat in die helikopter was, het getuig hulle het gesien vier mans hardloop in verskillende rigtings terwyl die bewaarders hulle agtervolg. “Twee het in die rigting van die grensdraad gevlug en die ander twee het saam in ʼn ander rigting gevlug.”

Drie van die verdagtes is uiteindelik buite die heining langs ʼn dam aangekeer. ʼn Vierde verdagte, wat tydens die skietery gewond is, is in die wildtuin in hegtenis geneem. ʼn R5-geweer is ongeveer ses meter van hom af aangetref.

Volgens Geldenhuys het Ngwenya aangevoer hy het visgevang. Hy het aangevoer hy het beskuldigde twee en drie eers in die polisieselle gesien. “Daar was egter geen melding gemaak van die vis wat jy gevang het, die vislyn of nette nie,” het Geldenhuys aan hom gestel.

Mpangane het ook aangevoer hy het saam met Ngwenya by dieselfde dam visgevang.

Mchunu het gesê hy het na beeste omgesien buite die wildtuin toe hy geskiet en in hegtenis geneem is. Sy medebeskuldigdes het egter gewys in watter rigting hy gevlug het en die wildbewaarders het ʼn bloedspoor gevolg tot hulle op hom afgekom het. ʼn R5-geweer is langs hom gevind. “Jy is nie buite die wildtuin geskiet en toe in die park in gesleep en in hegtenis geneem nie,” het Geldenhuys aan hom gesê.

Die beskuldigdes het ook gewys waar die 9mm-pistool in ʼn digte geval het.

Mliba is dood tydens die skietery met die wildbewaarders.

Geldenhuys het gesê die wildbewaarders het die hof beïndruk en was geloofwaardig in hul getuienis. “Hulle het nooit hul verklarings verander nie. Hul getuienis word aanvaar.” Hy het gesê die hof is tevrede en sonder twyfel oortuig dat die beskuldigdes ʼn gemeenskaplike doel voor oë gehad het om renosters vir hul horings te stroop. Hy het al vier skuldig bevind op alle aanklagte teen hulle.
Die mans sal op 22 April gevonnis word.

Bron: News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Waar kry hulle die R5 geweer? Dis ‘n geweer wat nie op die vrye mark te koop is nie!

Peet Schabort ·

Wat beteken “Drie verdagtes is uiteindelik buite die heining langs ‘n dam aangekeer”?
Presies wat dit sê: ‘n uiters patetiese heining. Parkeraad, word wakker en ELEKTRIFISEER die heining. Maar nee, jy weet mos, MENSEREGTE bla bla bla. Geen wonder jul skuif die renosters waar hul ook maar uitgeroei gaan word. ‘n Renoster is vinnig besig om standbeeldstatus te bereik of is dit andersom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.