Krugerwildtuin toets olifante vir tuberkulose

‘n Olifant word onder verdowing geplaas en getoets. Foto: ANA.

Meer as 50 olifante in die Kruger Nasionale Park is sedert verlede jaar reeds vir tuberkulose met die menslike stam getoets ná dié siekte waargeneem is by ʼn olifant wat in 2017 dood in die park aangetref is.

Michelle Miller, woordvoerder van die Nasionale Navorsingstigting (NRF), het gesê dreigemente van stroping staar reeds die olifante in die gesig en daar moes seker gemaak word dat tuberkulose nie nóg ʼn bedreiging vir dié diere is nie.

Sedert die opname begin het, is die siekte volgens haar nog by geen van die olifante wat getoets is, waargeneem nie.

Miller het verduidelik dat dit moeilik uitvoerbaar gaan wees om al die olifante in die wildtuin te toets. Hulle sal dus veral fokus op die suidelike dele daarvan waar die dooie olifant gevind is.

Dit is nog nie duidelik hoe presies die olifant die siekte by ʼn mens opgedoen het nie. Miller het bespiegel dat die olifant moontlik in aanraking met besmette materiaal kon kom.

“Ons dink nie ʼn olifant sal in nabye kontak kom met ʼn mens om die bakterie in te asem nie. Olifante verken die omgewing met hul slurpe en hulle kan bakterieë van besmette materiaal af inasem eerder as direkte menslike kontak,” het Miller gesê.

In 2016 is 46 olifante in die Krugerwildtuin gestroop en in 2017 is 67 gestroop. Baie van dié olifantstropery is in die noorde van die park gekonsentreer.

Daar is meer as 15 000 olifante in die wildtuin.

In ʼn poging om stropery te voorkom, beveg wildbewaarders in die wildtuin renosterstropers in die suidelike dele van die park sowel as olifantstropers in die noordelike dele van die park aan die Mosambiekse grens. Dít beteken dat waardevolle hulpbronne verdeel word.

Die wildtuin werk ook saam met die Mosambiekse regering en gebruik helikopters en tegnologie, asook hulp van die polisie en weermag in hul geveg teen olifantstropers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrit ·

Hulle moes nooit die wiltuin se grens oopgemaak het nie ,eers die buffels toe die leeus en nou die olifante ,nou glo ek nog meer aan die verhaal van die mier en die sprinkaan ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.