Kruieboer skitter tydens pandemie

(Foto: Verskaf)

Die uitdagings wat die Covid-19-inperkings meegebring het, het talle sakeondernemings laat spook en spartel en sommige se deure vir altyd toegemaak. Tradisionele roetes na markte is afgesny en elke sektor in die land is negatief beïnvloed.

Dit was egter vir Basil Williams (46), ʼn landbou-entrepreneur van Stellenbosch, nié die geval nie. Hy voer aan dat die pandemie sy innoverende geesdrif na vore gebring het. Hy vertel dat hy nuwe maniere moes vind om meer waarde tot sy produk te voeg, meer potensiële kopers te bereik en om sy kruie-onderneming wat drie ton per maand lewer verder uit te brei.

“Die Covid-19-beperkings het ons innovasieproses bevorder en die wil om beter te wees versterk. Die inperkings het ons sake beïnvloed en ons toegang tot markte beperk, daarom moes ons meer kreatief begin dink, en het daarom besluit om ons produkte aanlyn te adverteer en te verkoop. Ons wou die publiek meer bewus maak van ons onderneming, ons wou ook kliënte entoesiasties aanmoedig om plaaslike ondernemings en boerderye te ondersteun in hierdie moeilike tye,” vertel hy.

Van ʼn solo-onderneming in ʼn hoek van sy ouers se agtertuin tot ʼn een hektaar stuk grond met ses werknemers en ses groeitonnels – elk met plek vir 10 000 tot 20 000 kruieplante, het Herbal View Hydroponics se besturende direkteur, wat al vir langer as ʼn dekade aan sy sakeonderneming bou, nie toegelaat dat Covid-19 sy onderneming onderkry nie.

“Ek het in hierdie laaste ruk geleer om meer soos ’n sakepersoon te dink, nie net soos ’n boer nie,” sê Williams. “Jy moet innoverend wees, en gereeld diversifiseer om te verseker dat jou boerdery ’n volhoubare besigheid in ʼn hoogs mededingende mark bly.”

Herbal View Hydroponics maak van die jongste waterkultuurtuinbou-tegnologie gebruik, wat hom in staat stel om reg deur die jaar sy produkte te kweek, te verwerk en te lewer. Die produkte word slegs met organies-gesertifiseerde en natuurlike spuitmiddels behandel teen plae, en die verwerkte produkte bevat ook geen preserveermiddels nie.

Die Herbal View-reeks – waarvan pesto, souse, gedroogde kruie, kruiesout sowel as kruie-olie – sal nou op rakke in die kleinhandel in die Wes-Kaap beskikbaar wees.

“Sowat 70% van die oes wat ons uitkry word vir die Herbal View se reeks speserye en kruie verwerk,” verduidelik hy.

Williams gaan egter steeds voort met die verskaffing van vars kruie soos basiliekruid, koljander, roket, kruisement, grasuie, origanum, tiemie, roosmaryn, sowel as mikrokruie, knoffel en jong spinasie aan groothandelaars waaronder Spar en Food Lovers’ Market, asook aan talle kleinhandelaars en ander verwerkers. Sy produkte word aan talle Bolandse restaurante en delikatessewinkels wat vars produkte gebruik voorsien, en hy verskaf rou bestanddele aan vervaardigers van kruiegebaseerde produkte soos Ina Paarman en Pesto Princess.

(Foto: Verskaf)

“Ek het my onderneming die afgelope 21 jaar stadig opgebou. In 2014 het ek dit as my heeltydse beroep aangeneem. Ek was by tye gelukkig genoeg om staatsfinansiering te ontvang vir die huur van grond asook vir die uitbreiding van my onderneming en die aankope van nodige toerusting. Ek het aansoek gedoen vir die Small Business Academy-program omdat ek my kennis en vaardighede wou uitbrei, veral in finansiële bestuur en sakebeplanning, gebiede waarin ek nou baie meer bekwaam voel,” vertel Williams.

Williams is een van 16 deelnemers in die Small Business Academy (SBA) wat deur die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool bedryf word. Hy vertel dat hy graag erkenning aan die program wil gee omdat dit hom in staat gestel het om sy onderneming tot die beste van sy vermoë te bestuur.

Die Small Business Academy (SBA) is ʼn ontwikkelingsprogram wat deur Absa en Distell geborg word, en daarop gemik is om entrepreneurs in lae-inkomstegebiede van die Wes-Kaap te bemagtig met kennis, vaardighede en mentorskap om volhoubare ondernemings te laat groei en werkskeppingspotensiaal te verbeter.

“Een van die belangrikste aspekte van die program is die MBA-gegradueerdes wat deurlopende ondersteuning en mentorskap aan die deelnemers van die program bied, selfs ná voltooiing daarvan” verduidelik dr. Armand Bam, hoof van die SBA-program.

“Baie klein en medium organisasies (KMO) se ontwikkelingsprogramme lewer nie volhoubare resultate nie as gevolg van die gebrek aan deurlopende ondersteuning van die program. Deelnemers stap uit met ʼn sertifikaat sonder dat hulle die kennis verkry om dit wat aan hulle geleer is prakties toe te pas,” sê Bam.

Die SBA het tot dusver meer as 307 entrepreneurs opgelei in die Wes-Kaap, sowel as sommige entrepreneurs in die Oos-Kaap van die Joe Gqabi-distrik, in vennootskap met die munisipaliteit se ontwikkelingsagentskap.

“Ons glo dat die toewyding wat deur die SBA-program gebied word, die mentorskap en die aaneenlopende ondersteuning in die implementering van sakeplanne, ons van ander akademiese organisasies onderskei,” voer Bam aan. “Dit kan in die agt jaar sedert die program van stapel gestuur is, duidelik gesien word. Die rekord van die aantal deelnemers wat hul ondernemings suksesvol in stand hou, is beslis noemenswaardig.”

Bam sê dat Williams se suksesverhaal die behoefte beklemtoon om openbare, private en onderwyssektore by KMO-ontwikkelingsprogramme te betrek.

Williams het in Mei vanjaar die Spanspeler-toekenning van die SAB-stigting se Tholoana Enterprise Program gewen – wat sakeondersteuning, sakeontwikkeling en bystand met toegang tot markte bied.

Williams is passievol daaroor om ander entrepreneurs te inspireer en hulle met sy kennis wat hy deur die jare oor landbou en sakeondernemings opgedoen het, te verryk. Hy tree dikwels as mentor vir ander ontwikkelende boere op, en is betrokke by die oprigting van ʼn gemeenskaps-verwerkingsaanleg in Kylemore om opkomende boere te ondersteun om na waardetoevoeging landbouverwerking oor te beweeg.

Met die sakebeplanning en -ondersteuning wat die SBA verskaf beoog Williams om meer werksgeleenthede plaaslik te skep en om uit te brei na nasionale verspreiding. Hy is ook gerig daarop om sy produkte in 2022 vir uitvoer gereed te hê. Hy kry tans finansiering en ondersteuning om sy sakeplanne ten uitvoer te bring en uit te brei na ʼn plaas van vyf hektaar asook om ʼn verwerkingsaanleg op te rig.

Hy vertel egter dat sy avontuur tot dusver nie sonder struikelblokke was nie. Nadat hy in 2007 met ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van landbou na ʼn nuwe perseel in Pniel kon uitbrei, het ʼn storm al sy tonnelstrukture verwoes. Dit het hom egter nie ondergekry nie. Hy het die regering om hulp gevra met die huur van ʼn meer geskikte stuk grond. Die finansiering het gesorg vir twee nuut opgerigte tonnels asook ʼn voertuig om die produkte mee te vervoer.

“Toegang tot die geskikte landbougrond was, en is steeds, my grootste uitdaging,” sê Williams, “maar dit het my nie gekeer nie. Met die hulp en ondersteuning van verskillende ondersteuningsprogramme het ek baie geleer en altyd sterker aan die ander kant uitgekom.”

Williams het die volgende raad aan alle entrepreneurs en nuwe ondernemings: “Laat jou passie jou dryf. Werk so hard as wat jy kan, en moet nooit moed opgee nie, ongeag die uitdagings. As jy val, staan ​​op en probeer weer. Hou altyd aan om te verken, gryp elke geleentheid aan en wees deurentyd bereid om by ander te leer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Ja, ek stem. Baie word gedoen op die gebied van BLM… vir diegene wat spring vir die baie geleenthede en fondse. Miskien moet ‘n paar wit ouens met planne ook dié pad probeer. Ons hoop die brûe staan nog.

KB ·

Enige entrepreneur se grootste struikelblok is beskikbare fondse…”Follow the money…”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.