Kruiekenner Oom Johannes oorlede

Oom Johannes Willemse (Foto: Gita Claassen www.gitaclaassen.co.za via “Kruie kraai koning”)

Oom Johannes Willemse, veral bekend as die kruiekoningin Antoinette Pienaar se leermeester, is oorlede.

“ʼn Merkwaardige, lang lewe – stil, eenkant en beskeie gelei, maar een wat uiteindelik wyd en heilsaam uitgesaai het. Ons lig die hoed, oom Johannes Willemse,” skryf Frederik de Jager op Facebook. “As die klip van die Karoo siel is, is dit deur u dat mens dit kon sien. As haar plantegroei die kinders van so ʼn gesieldheid is, het u hulle laat reis deur die wêreld. U is een van die spesiaalste mense wat ek kon ken. Liefde, liefde aan Antoinette wat agterbly.”

Oom Johannes het onder baie name bekend gestaan: siener, kruiedokter, heler, storieverteller, leermeester. Hy is gebore op die plaas Breekkierie in die Kenhardt-distrik as die oudste van twaalf kinders en het sy kennis van Karoo-kruie saam met heelwat ander wyshede en staaltjies by sy oupa Hansie geleer, aldus die webwerf Kruie kraai koning.

Sy lewenspaadjie het hom uiteindelik op skaapboer Jacques Pienaar se plaas gebring waar hy jagter was. Aangesien sy eie nasate nie belanggestel het om die kruie-tradisie voort te sit nie, was hy verlig toe Antoinette uiteindelik opdaag met haar desperaatheid om gesond te word en die honger om te leer. Hy het jare lank gedroom van die vrou in die rooi bakkie wat die fakkel by hom sou oorneem.

Oom Johannes, reeds in sy negentigs, het nog gereeld die berge agter die opstal uitgeklim en kilometers agter kruie en diere aangestap.

Oom Johannes en Antoinette Pienaar (Foto via Kruie kraai koning)

Antoinette het vir die eerste keer in 2003 haar kruierate op RSG met die luisteraars begin deel en sy en oom Johannes het in almal se harte gekruip. Mettertyd het ook die televisieprogram, Kruidjie Roer my op VIA-TV gevolg waarin Antoinette en oom Johannes ook hulle kruiekennis en leefwêreld met kykers gedeel het.

Oom Johannes en Antoinette het tot in November nog werkswinkels aangebied op die plaas Theefontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karoo ·

‘n Reus het geval, rus sag ou groote. Antionette, dra die vakkel hoog. I ige simpatie aan Familie en Vriende.

Euodia ·

Ai, slegte nuus maar hy het ‘n vol lewe gehad saam met Antoinette. Innige simpatie aan haar en sy familie. ????

MC ·

Agge neeeeeeeeee, ai Oom Johannes, saam met Antoinette het jy diep spore in ons almal se harte getrap, wat ‘n legende. Innige simpatie aan al sy geliefdes.

Theuns ·

Ai, ai, ai. Mag hy ook in die Hemel sy Karoo geniet.
‘N Reus het geval..stil broers.
Innige opregte simpatie en liefde vir sy geliefdes.
Dis al.

Cassie Carstens ·

Innige meegevoel aan Antoinette en oom Johannes se familie en vriende. Hy was ‘n ware ikoon en het nie geskroom om te help waar hy kon nie. Antoinette jy moet mooi bly en vasbyt. Ons dra jou in ons gebede. Jy is ‘n engel.

OU SAAR ·

Hoe hartseer is ek nou.
Dis regtig ń groot slag vir ons land en veral ons pragtige Karoo.
Ek wens ek het die kennis gehad wat oom Johannes en Antoinet het.
Rus sag oom Johannes.
Baie sterkte aan die familie en veral aan Antoinet.
Ons gebede met julle.
Antoinet, hou die fakkel hoog.

Delene ·

Rus In Vrede oom Johannes! Duisend dankies dat jy jou kosbare kennis met ons gedeel het! Innige Simpatie aan Antoinette met haar groot verlies. Oom Johannes, jou lewensmaat, is steeds 24/7 in die Gees saam met jou! Hy sal lewenslank na jou kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.