Kruiper-Boesmans wil moderniteit oorleef

Tydens hul tradisionele danse hou die Kruiper-Boesmans uitsonderlike goeie ritme oor lang periodes. (Foto: Du Preez de Villiers)

Toe die Kruiper-Boesmans in die middel 70’s uit die destydse Kalahari Gemsbokpark gesit is (vandag Kgalagadi Oorgrenspark) het hulle weens hedendaagse invloed en deur met ander bevolkingsgroepe in te trou, gaandeweg hul tradisies verloor.

Die moontlike rede waarom hulle uit die park gesit is, is omdat hulle honde en donkies in die park ingebring het, wat ʼn probleem vir die natuurlike omgewing geskep het.

Die Kruipers het mettertyd besef het dat daar waarde in tradisie is, asook dat hul afkoms belangrik is. Hulle was ongeveer 200 mense toe hulle destyds uit die park gesit is. Vandag is hulle om en by 50 en om gesonde kinders voort te bring is ʼn groot uitdaging.

Dit is dus vanselfsprekend dat hulle terughunker na die tyd toe hulle in ʼn ongetemde gebied ongehinderd met pyl en boog kon jag en met ʼn vlymskerp oog vir detail hul veldkuns kon beoefen.

Hierdie goedgelowige oermense wat met gemak op baie min water kan oorleef en die snikhete Kalahari kan trotseer, voer nou ʼn verbete stryd in ʼn wêreld waar sakebeginsels eerder jou oorlewing bepaal.

Maroela Media het ʼn paar dae saam met die Kruipers deurgebring om meer oor hul leefwyse en tradisies te leer en hul huidige uitdagings te verstaan.

Dawid Kruiper, wat bekendheid verwerf het vir sy rol in The Gods Must Be Crazy 2 , het in 1995 ʼn  opspraakwekkende hofsaak gewen waarin hy verskeie stukke grond vir die Boesmans bekom het. Vir die hofsaak het hy na Kaapstad geryloop en besonder baie mediadekking gekry. Uiteindelik is daar in 1999 altesaam 40 000 ha aan die Boesmans oorgedra.

Hy het egter die “fout” gemaak om aan enigiemand wat tot in die sewende geslag van die Boesmans afstam toegang tot die grond te gee. Dit het veroorsaak dat “inkommers” met ʼn meer moderne lewensuitkyk met hul sensitiewe tradisies ingemeng het en hulle ook maklik kan uitbuit.

Vandag word dié grond deur die oorkoepelende Boesmanraad en die Komani San-organisasie bestuur, maar die Kruipers voel dat die grond uit hul hande gegaan het en hulle beheer en seggenskap oor hulself verloor het, aangesien hulle deur soveel ander partye geadministreer word. Daar is al tereg opgemerk dat hulle brandarm is en op toelae en skenkings moet lewe, terwyl elkeen van hulle “miljoenêrs op papier” is.

 

Patat Kruiper, in tradisionele drag geklee, stal sy snuisterye voor die ingang van die plaas Witdraai, wat aan die Kruipers behoort, uit. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Jag en spoorsny is vir hulle ʼn moeilike administratiewe oefening. Die gebied is ʼn Unesco-bewaringsgebied wat sekere beperkings op hulle plaas en hoewel hulle onder seker voorwaardes in die park en op hul plase mag jag, moet hulle eers toestemming deur die regte kanale verkry. Op sommige plase loop daar ook vee, wat ʼn spoorsny-oefening onmoontlik maak.

Hierdie werwikkelinge het veroorsaak dat die Kruipers soms onredelike eise stel en kwaad word vir die skenkers en hulporganisasies wat na hulle uitreik.

Mettertyd moes die Boesmans en noodwendig die Kruipers leer om aan kommersiële aktiwiteite deel te neem. Voor die ingang van een van hul plase, Witdraai, 15 km noord van Askham, maak en stal hulle snuisterye in hul tradisionele kleredrag uit om dit aan toeriste te verkoop. Daar word ook van dié artikels deur derde partye verkoop.

Makaai Kruiper is ʼn uitstekende kunstenaar, maar is een van die paar Boesmans wat as spoorsnyers in die park of in privaat lodges werk, wat ook ʼn inkomste bied.

Hulle kry ook geleentheid om vir toeriste in die lodges natuurlike danse uit te voer, maar dit bring ʼn gevoel van vernedering onder hulle en hulle voel dat hulle nie die geld daaruit kry wat hulle verdien nie.

Die bekende skrywer, Fransi Phillips, het in 2016 in die Kalahari gekuier en met die meer moderne Boesmans te doen gekry. Sy het ʼn prettige toneelstuk vir hulle geskryf om tydens die Kalahari-kunstefees buite Askham op te voer, wat hulle baie geniet het. “Die taal van die plek en veral die eiesoortige Afrikaans wat daar gepraat word, het my aangegryp,” het sy vir Maroela Media gesê.

 

Fransi Phillips beraadslaag met die Kruipers se gemeenskapsleiers. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Sodoende het sy van die Kruipers te hore gekom en met hulle kontak gemaak. Hierdie mense het haar verbeelding aangegryp en sy sê hul humorsin en aardsheid laat haar weer soos ʼn ware mens voel. “Die Boesmans is ongelooflik snaaks met ʼn eiesoortige sin vir humor en ek wag altyd vir ʼn verrassing en word ook nooit teleurgestel nie. Hulle is baie interessant en begeester my.”

Sy sê hulle DNS is baie gevarieerd wat daarop dui dat hulle baie oud is en heel moontlik die eerste mense op aarde was, veral die Kruipers.

Tradisioneel het Boesmans ook nie ʼn hiërargie nie en het nooit leiers gehad nie. Hulle het elkeen sy eie ding gedoen en as ʼn groep gejag en in die vangs gedeel. Omdat hulle nie juis op die voorgrond is nie, was Dawid Kruiper ʼn sonderlinge persoon.

Met ʼn TEFL-kwalifikasie het sy aangebied om op versoek van die skool op Askham die Kruiper-kinders gewoond te maak aan die vier mure van ʼn klaskamer, wat vir hulle baie moeilik was. Sy het hulle terselfdertyd op ʼn eiesoortige manier Engels geleer deur onder meer letters in die sand te skryf wat hulle dan moes identifiseer deur ʼn bal daarna te gooi.

Pieter du Preez, Phillips se pa, was destyds, toe die Boesmans uit die park gesit is, werksaam by die buro vir ekonomiese navorsing, samewerking en ontwikkeling. Hy het vir Dawid Kruiper ontmoet en vir hom gesê hy sal probeer om ʼn regverdige uitkoms vir hulle te bewerkstellig. Heel toevallig poog Phillips vandag om vir hulle ʼn uitkoms te bied deur hul kuns te bevorder.

Sy het deur die leerdery die kinders fyn dopgehou terwyl hulle geskryf en geteken het en agtergekom dat hulle heel natuurlik die tradisionele Boesman-kunsformules toegepas het.

“Teken is vir hulle ʼn skrifvorm en selfs dié van hulle wat nog nooit ʼn pen op papier gesit het nie, het dadelik en heel natuurlik die tipiese tekenstyl toegepas, so asof dit deel van hulle is. Dit is soos spoorsny; hulle het ʼn oog vir detail en kan baie fyn kyk, vandaar die fyn tekentegnieke wat hulle toepas.

 

Die Kruipers se eiesoortige tekenstyl met ‘n humoristiese ondertoon. (Foto: Nina Phillips)

 

“Hulle het ook die vermoë om ʼn dier se beweging uit te beeld, so asof die dier emosies het.

“ʼn Bekende Boesmanskilder, Vetkat Regopstaan Kruiper, wie se kunswerke baie bekend is, het gesê dit is maar in hulle ingebore,” sê Phillips.

Hier en daar kom daar iets kontemporêrs deur. “Meer moderne kuns spring ook uit soos om ʼn jakkalskop te teken wat op ʼn fiets ry.”

Sy sê sy probeer nie iets op hulle projekteer of afdwing nie. Hulle sê self hulle wil ʼn manier kry om hul tradisies te behou, maar ook om ʼn plek in die Westerse beskawing te kry. Iets soos 50% ontwikkeling en 50% kultuurbehoud.

“Daar is baie wat die Weste by hulle kan leer, soos hul verhouding met die grond en diere, asook ʼn eenheid met die natuur wat ons verloor het en wat nou die planeet bedreig.”

Besoek Phillips se Facebook-blad om ʼn nadere blik op die Kruipers te kry en lees in die volgende uitgawe hoe die Kruipers hul hoop op formele kuns stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Ek hoop hulle word toegelaat om hulle tradisies uit te leef en te bewaar.

Elmarie ·

Ek wens élke mens wil Die Spore van Gert Saggiestrap van Marco Botha lees. Die Boesmans word meestal geïgnoreer deur die regering en leef orals meestal ‘n sukkelbestaan. Gaan besoek ook regtig die !Kwa Ttu San sentrum naby Langebaan. Werklik ‘n suksesstorie om mense meer bewus te maak van die Boesmans se tradisies. Uitstekende restaurant ook en let wel dis nie deur Suid Afrikaanse regering tot stand gebring nie. Ondersteun hul en help waar jy kan. Hulle is myns insiens die oorspronklike eerste Suid Afrikaners

Ilena ·

‘n Baie interessante artikel. Dit is nie maklik om ‘n tradisionele leefwyse te behou te midde van al die moderne geriewe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.