Kruisies dié naweek in buiteland getrek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Julia Fiander/Unsplash)

Duisende Suid-Afrikaners sal na verwagting die komende naweek hul stem in die vreemde uitbring.

Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste, waaronder Egipte, Sirië, Iran, Jordanië, Koeweit, Palestina en Algerië, sal reeds Vrydag (17 Mei) hul kruisies trek.

Alle ander Suid-Afrikaners in die buiteland sal Saterdag (18 Mei) stem, met die uitsondering van Londen waar kiesers Saterdag 18 Mei of Sondag 19 Mei kan stem.

Meer as 24 000 Suid-Afrikaanse kiesers is geregistreer om in dié stad hul kruisies te trek. Dit maak dit die grootste stemlokaal in die buiteland.

Suid-Afrikaners in die buiteland mag slegs aan die nasionale verkiesing deelneem en sal dus net een stembrief ontvang.

Die stembriewe sal almal na Suid-Afrika gebring word en eers op 29 Mei oopgemaak word om saam met dié van hul landgenote tuis getel te word.

Ludré Stevens, voorsitter van die DA in die buiteland, sê dié party gaan die naweek meer as 100 agente in verskeie lande ontplooi om te verseker dat die stemmery in die buiteland vry en regverdig geskied.

Die DA se party-agente sal spesifiek ook by die stemlokaal in Londen teenwoordig wees.

Die DA se agente sal ook by sommige van die wêreld se ander belangrike stasies teenwoordig wees, onder meer in Nederland, Australië, Mauritius, die Verenigde State, Spanje, Frankryk en Abu Dhabi.

“Opgeleide party-agente is vertroud met stemprosedures en sal teenwoordig wees om waar te neem dat alle korrekte protokolle gevolg word gedurende hierdie noodsaaklike tyd vir Suid-Afrika se demokrasie.”

Volgens Stevens benodig geregistreerde kiesers in die buiteland slegs ’n ID-boek, slim ID-kaart of geldige tydelike ID om te stem. “Dit is nie nodig om ’n paspoort saam te bring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Hoe kry so baie Suid-Afrikaners dit reg om dubbele burgerskap te hê. Dit kan nie in baie Westerse lande wees nie. Dalk bo in Afrika. Hoeveel glo Suid-Afrikaners bly in die lielie-lekker Gaza-streke? Kry hul dubbele Sassa’s? Dit kan vreeslik interessant wees om te weet vir wie ‘hulle’ gaan stem en hoeveel spoke onder hulle tel.

Debbie ·

Ek kan nie die ding verstaan nie. As jy uit SA trek om in n ander land te gaan bly waarom mag jy nog stem? As jy nie hier wil bly nie waarom het jy n se in die land waarin jy nie bly nie se toekoms? Logies jy gaan nie vir die regte party stem nie want jy bly nie na die verkiesing agter met die deurmekaar spul nie

Ronél ·

Wonderlik, die vraag bly egter of dit regverdig getel en hanteer sal word???

OU SAAR ·

Ek stem saam met jou Debbie.
Dis weer net ń slimstreek van die regerende party. En glo my, daai stemme gaan almal gekook word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.