Kruispad vir 9-jarige anemielyer: ‘Ek het dit nie sien kom nie’

Gidion du Toit in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Die negejarige anemielyer Gidion du Toit was verlede maand oorstelp van vreugde toe daar uiteindelik ’n gepaste beenmurgskenker vir hom gevind is.

Dié vreugde is egter gedemp toe Gidion se gesin Woensdagaand voor ʼn kruispad te staan gekom het – ʼn besluit wat lewensbelangrike implikasies vir die seuntjie kan inhou.

Tuschka Reynders, Gidion se ma, het Donderdag aan Maroela Media verduidelik hulle weens ʼn komplikasie moes besluit of hulle met die langverwagte beenmurgoorplanting gaan voortgaan of nie, aangesien beide keuses moontlik tot Gidion se dood kan lei.

“Ek het dit nie sien kom nie,” het Reynders gesê.

Sy vertel dat sy, haar man Kobus en Gidion soos beplan Maandag in Kaapstad aangekom het. Gidion sou voor die tyd voorsorgbehandeling in die hospitaal ontvang tot hy op 18 Oktober eindelik die beenmurgoorplanting sou kry.

“Alles het aanvanklik soos beplan verloop.” Sy vertel dat Gidion se dokter egter Woensdag gebel het met die nuus dat Gidion hepatitis opgedoen het as gevolg van die medikasie wat hy voor die oorplanting moes inneem. Hy was ook baie bekommerd aangesien Gidion se ysterlading dubbel so hoog as ’n maand gelede was.

Hy het verduidelik dat dié komplikasie haar met ’n keuse los – óf hul gaan voort met die oorplanting óf hulle kanselleer die oorplanting. Reynders vertel sy was verbysterd deur dié nuus.

’n Beenmurgoorplanting is in die stadium die enigste opsie vir herstel en Gidion het eindelik ’n geskikte skenker gekry na talle teleurstellings.

Indien sy besluit dat hulle met die oorplanting voortgaan, kan dit moontlik tot lewerversaking vir Gidion lei. “Die medikasie en chemoterapie is baie sleg vir sy lewer en kan lei tot lewerversaking wat tot Gidion se dood kan lei. Die risiko dat sy liggaam die oorplanting verwerp, is ook natuurlik altyd daar,” verduidelik Reynders.

Tuschka Reynders, Gidion se ma, by haar seun. Foto: Verskaf)

Gaan hulle nié voort met die oorplanting nie, is daar niks meer wat dokters vir Gidion kan doen nie. Sy verduidelik dat dié alternatief beteken dat hy vorentoe moontlik weer spontane breinbloeding kan opdoen en dit miskien nie sal oorleef nie. Hy kan ook infeksie kry of iewers seerkry en doodbloei.

“As ons die oorplanting nié doen nie, verloor ons ook die skenker,” sê sy.

Sy vertel dat sy ʼn gevoel van magteloosheid en hopeloosheid het. “Ek kan dit nie beskryf nie. Die vrees, angs en onsekerheid.” En dan die tergende vraag: “Neem ek die regte besluit?”

Reynders het Gidion se dokters op soek na ’n antwoord begin bel. Party het die konserwatiewe oplossing voorgestel dat hy liefs nie die oorplanting moet kry nie. Ander het weer geglo dat dit werklik sy enigste en laaste opsie is. ’n Spesialis van Cincinnati in Amerika was die deurbraak. Sy het Reynders aangeraai dat sou sy in haar posisie wees, sy beslis die oorplanting sou laat doen.

Reynders vertel dat sy vir ’n oomblik moes asemhaal en stil word. Sy en Kobus het uiteindelik om 19:00 Woensdagaand besluit om wel met die oorplanting voort te gaan. “Ek het besluit op my gut feeling. Kom ons gaan voort.”

Gidion sal soos beplan is op 18 Oktober sy beenmurgoorplanting ontvang. Die skenker se beenmurg sal op 17 Oktober in Amerika geoes word, waarna dit binne 24 uur per koerier na Suid-Afrika gestuur sal word. Die oorplanting word deur middel van ’n drup gedoen en duur maar twee ure.

“Dit was ’n verskriklike besluit, maar vandag is ’n nuwe dag en we got this. Om op te gee is nie ’n opsie nie,” meen Reynders.

Maroela Media het vroeër berig Gidion is by geboorte met ’n seldsame genetiese siekte gediagnoseer. Fanconi-anemie is ʼn genetiese siektetoestand wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg onder meer nie funksies soos die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies kan voortsit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Anoniem ·

God is in beheer ! Hou daaraan vas en bly glo en vertrou ???

ctd ·

Ons bid vir n wonderwerk van ons almagtige GOD wat julle life het.

Sonja ·

Ek glo in my hart julle het die regte besluit geneem. Ek sou dit ook gedoen het. Jul is in ons gebede en alles sal goed gaan.
Wees sterk . ?

Lollie ·

Sterkte aan hierdie familie!!! Glo dit was ń bitter moeilike besluit om te neem. Glo egter vanself sal daar nie ń verandering kom nie. God sê: Doen jy die moontlike en Ek sal die onmoontlike doen. Bly by julle besluit en moet nooit twyfel of dit die regte keuse was nie. Moenie die duiwel ń voet in die deur gee nie!
Daar is baie wie se gebede saam met julle is. Die dokters sê wel wat hulle dink maar ons weet waar die laaste antwoord lê.
Sterkte vir die tyd wat voorlê. Dit is maar net menslik vir ouers om senuagtig te wees maar hou aan met glo!

Rene ·

Hi Lollie, jy het dit baie, baie mooi gestel. My hart gaan uit na hierdie familie! Ek sou dieselfde doen. Baie sterkte, ons dra hierdie familie op in ons gebede.

Liza ·

Seuna Liewe Jesus dra jou en jou familie…. Jy gaan ok wees

Volle ondersteuning ·

Ek sou jul beslis volle ondersteuning gegee het in die besluit. Maak nie saak wat jy sou kies, albei het vreesaanjaende nagevolge, as jul oorplant het julle alles moontlik gedoen om die beste vir hom te gee, net tyd sal leer of dit genoeg is, as dit nie is nie, sal ons almal saam huil, maar as dit is, gaan daar groot fees gevier word. Verder kan jul dan met ‘n geruste hart weet, ons het die beste vir ons kind gedoen.

Claas ·

Baie sterkte. Geen ouer behoort so besluit te maak nie. Net jammer ek lees nie een enkele keer dat julle oor die saak gebid het nie. Dit sou dalk die keuse “makliker” gemaak het.

Gaan lees op ·

Claas dit is net jammer dat jy nie die blad wat Gideon se ma vir hom geskep het (Gideons Blessed Life) ken nie. Nie net het die mense gebid nie, hulle bid oor en oor en ken hulle Vader en dank Hom steeds vir al die genade. Dit sal dalk beter wees as jy eers Gideon en hulle storie daar gaan lees.

Alice ·

Ek ken die Mamma en vir Gidion al jare en behoort ook aan die whats app groep. En jy in jou onwysheid maak ‘n verskriklike uitlating dat jy nie sien dat hulle gebid het nie. As jy maar net weet hoeveel honderdduisende gebede al gebid is. Haal eers die boom uit jou eie oog voor jy die nietige splinter uit ander biddende mense sin wil uithaal.

CJvR ·

Claas, ek sal aanbeveel dat jy deel raak van hulle Faceboek page waar hulle gereeld hulle gebede met ons deel en ons almal bid saam vir hulle. Wees net versigtig voor jy in die toekoms uitlatings maak as jy nie al die informasie het nie.

Erica ·

Maroela Media het al voorheen oor Gideon berig. Vir die wat werklik belangstel, gaan volg sy dapper verhaal op Gideons Blessed Life (fb)

Gesiggie ·

Ek lees nou eers die berig.. en my hart ruk in twee… hoekom moet als nou verkeerd gaan? nadat daar soveel hoop was, dat Gidion beter gaan word na die oorplanting…. ek kan myself nie indink hoe moeilik dit moet wees om so n keuse te maak, want gebeur daar iets met jou kind, sal jy jouself nooit kan vergewe, maar dit was die regte besluit om net nog advies te kry van ander, ek glo altyd 3 antwoorde is beter as een. Aan die Ma en Pa, ek Bid en vra Jesus dat Hy die groot geneesheer vir Gidion sal aanraak, en sy lewe in Sy hande sal neem en dat hierdie groot besluit…. vir jul n Blessing sal wees met die wete my kind is gesond. Kan nie wag om die opvolg en goeie nuus te hoor na die operasie… baie sterkte en Glo en Vertrou. God is Good

GM ·

Ai Claas, dit is nie regtig nodig vir die publiek om te weet of die ouers oor die saak gebid het of nie. Daar sal altyd ‘n groepie wees wat vra: ‘Waar is jou God nou?’, as die seun iets sou oorkom, of ‘Jy as ouer, was tè ongelowig’. Daar sal ‘n groepie wees wat sê: ‘Jou tyd is vooruit bepaal, of die Here het sy mooiste blom gepluk’. As als goedgaan, sal ‘n groepie die Here prys, en ander sal weer voel die sukses is te danke aan mediese personeel. Dus sal kritiek volop wees in elke liewe scenario, ongeag wat jou geloofsoortuiging is.

GM ·

Alle voorspoed vir Gidion en sy naasbestaandes. Ek hoop hy is een van die dae, heeltemal genees.

George ·

Ciaas ek hoop van harte jy ken die familie asook die situasie om so’n aanmerking te maak.

Aaptwak ·

Hepatitis – dit kan aangevuur word deur ‘drugs’ van die ‘drugstore’. Big Pharma is killing our children.

Jana ·

Tuchka dit is ‘n verskriklike ding vir enige mamma om deur te gaan. Ek huil vir jou. Jou seunskind kry swaar, en jy kry baie swaar saam met hom. Vertrou op die Here, Hy sal julle hierdeur kry. He’s got this.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.