‘Kruppel’ man (64) in huis met panga aangeval

Foto: Verskaf.

Piet van Deventer (64), wat Vrydagoggend in sy huis oorval en met ʼn panga aangerand is, is steeds in die hoësorgeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Volgens Pieter van Deventer is sy pa tussen 08:00 en 09:00 in sy huis in Heidelberg oorval. “Net my pa en die huishulp was tuis, my ma was by die werk. Die aanvaller(s) moes oor die muur oor die lemmetjiesdraad geklim het,” het Van Deventer gesê.

Piet was in die eetkamer toe die aanvallers ingestorm en hom met die panga begin aanval het. “Hulle het hom op die kop en lyf geslaan. Hy het erge wonde aan sy kop; sy skedel is op drie plekke gebreek; sy kakebeen is gebreek én sy arm is heeltemal gebreek met ʼn groot vleiswond daaraan,” het Van Deventer vertel.

Volgens hom kan ʼn mens uit die aard van sy pa se beserings sien hy het terugbaklei. Die huishulp was besig om wasgoed op te hang ten tyde van die voorval. “Sy het op hulle afgekom en toe het hulle gevlug. Hulle het niks gesteel nie.”

Die huishulp het volgens Van Deventer begin skree en die bure het aangehardloop gekom en hom gebel.

Piet is per mediese helikopter na die hospitaal gehaas. Piet het volgens Van Deventer van ʼn rolstoel gebruik gemaak as hy ver ente moes beweeg. “My pa was heeltemal kruppel weens ʼn virus wat hy vroeër opgedoen het. Jy kon hom net van die stoel af stamp en hy sou nie veel kon doen nie.”

Van Deventer vertel sy pa is steeds aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Dokters sal glo Woensdag weer sy toestand assesseer. Die gesin weet ook nog nie of daar enige breinskade sal wees nie.

“Dis nie mense wat hierdie goed doen nie,” het Van Deventer in reaksie op die aanval op sy pa gesê. Hy vertel die gesin weet self nog nie presies wat gebeur het nie omdat sy pa nog nie wakker is en vir hulle kan vertel nie.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê die saak word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DAVID ·

sterkte ons bid vir jou PIET ,nog n sinnelose aanval op n BLANKE .

G ·

Die staat moet maar begin om die mense se mediese onkostes (in ‘n privaathospitaal) te betaal aangesien hul niks aan die moorde en aanrandings wil doen nie. Wat moet jy nie wees om so iets aan iemand anders te kan doen nie? Dalk word die goed iewers gekloon, sonder redenasievermoë en emosies, maar ‘n mens is dit wragtig nie.

Sê Net ·

Dis om van naar te word. Baie sterkte aan hom en die familie. Hoekom klink dit vir my hierdie aanvalle styg?

Pieter van Deventer ·

Sterkte neef dit was vir ons ‘n groot skok en ons bid vir jou

madels ·

Verskriklik! Ek bid dat hy sal 100% en wonderbaarlik sal herstel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.