Kry kommissie om grondhervormingsproses te bekyk – Saai

Dr. Theo de Jager. (Foto: Saai)

Saai sê nou die wyse waarop die regering sedert die vroeë 2000’s met grondhervorming en landbou-ontwikkeling omgegaan het, noodsaak ’n ondersoek na staatskaping en korrupsie soortgelyk aan die werk van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê hoewel daar verskeie onthullings van bedrog, nepotisme, selfverryking en kaderbevoordeling onder die ANC se bewind in die eerste gedeelte van die kommissie se verslag gemaak is, is daar egter “omvangryke onreëlmatighede” in die grondhervormingsproses wat die kommissie nié bekyk het nie.

Die familieboerorganisasie hoop nou dat daar eendag ’n soortgelyke ondersoek na die departemente wat vir grondhervorming en boerontwikkeling verantwoordelik was, van stapel gestuur sal word.

De Jager wys daarop dat die voormalige president Kgalema Motlanthe in 2018 reeds ná ’n hoëvlakondersoek ’n verdoemende verslag oor onreëlmatighede in grondhervorming aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het.

“Daar het dadels van gekom. Niemand is verantwoordelik of aanspreeklik gehou nie.”

De Jager meen só ’n ondersoek behoort te fokus op die geldigheid en wetlikheid van grondeise wat tot transaksies van miljarde rande aanleiding gegee het. Dit behoort ook volgens hom die begunstiging van mense wat uit daardie onderhandelinge en landbou-ondernemings voordeel trek, onder ’n vergrootglas te plaas.

“Geld wat vir boerontwikkeling en aanvangskapitaal aan grondhervormingsbegunstigdes begroot is, kom selde by hulle uit, en omstrede gemeenskap-eiendomsverenigings is meestal gelaai met kaders wat geen belang by suksesvolle landbouontwikkeling of armoedeverligting het nie. Hulle lê meestal oorhoops met die mense wat veronderstel is om uit grondhervorming voordeel te trek, en loop weg met die geld.”

Hy sê voorts ook die herverdelingsprogram, waar begunstigdes nie eienaarskap van die grond kry nie, maar met huurkontrakte tot ewige bywonerstatus verdoem word, word deur nepotisme en korrupsie gekniehalter.

Hy verwys dan spesifiek na die geval van onder andere Ivan Cloete in die Wes-Kaap en Vuyani Zigana in die Oos-Kaap wat van hul plase afgeskop is om vir tenderpreneurs met invloedryke vriende voorsiening te maak.

“Die ANC-leierskap se verskoning is deurgaans dat hulle nie daarvan bewus was nie, maar daar is ook geen optrede teen korrupte laervlakamptenare nie.

“Die hoë omset van direkteur-generaals in die betrokke departemente is ’n aanduiding van die chaos en gebrekkige leierskap in grondhervorming. Elke keer wanneer ’n minister of swart landbouleiers sê dat meer as 90% van alle grondhervormingsprojekte misluk het, wonder die boere waar die ander 10% is.”

De Jager meen ’n soortgelyke kommissie soos dié van Zondo “kan al veel vermag om grondhervorming op ’n sinvolle trajek te plaas en ’n klas van winsgewende swart boere te skep”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Die anc floreer op onreëlmatighede, wetteloosheid, ongeregtigheid en steur hul nie aan hul eie grondwet nie.

annie ·

Hoekom wil dié oom die dooie koei wat nou die dag begrawe is weer opgrawe? Hy skep nou geleenthede vir elke beswaarde grondlustige om nog stories te fabriseer en nuwe geskiedenisse te skep gebaseer op Afrika-mites en -legendes wat kaders se gulsige eise pas. Moenie krap waar dit nie meer jeuk nie.

Pieter ·

Die anc lag vir julle skrik tog net wakker asb al wat julle doen is praat. Jy gaan nog leer jy onderhandel nie met n kommunis of terroris nie

casper ·

Ja nog ‘n kommissie wat vir jare in spog hotelle moet kyk na ‘n ding ne !!!

Raadsman ·

Almal moet net verstaan, wat die ANC tot dusver gedoen het was presies wat hul wou doen.
Hoekom leer ons mense nie uit dit wat gebeur het by Dingaan nie.
Sommige mense wil steeds die president en die ANC vertou – hoe naief!

Johannes_64 ·

Vreemd dat mense nie sien dat die ANC het nog net probeer om te “bekom” en op geen stadium nog probeer iets skep wat waarde toevoeg nie.

Astrain ·

Ek stem saam Theo, daar moet veral na David Mabuza en Mpumalanga gekyk word….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.