‘Kry oranje oorpak vir Koko gereed’

Matshela Koko (Argieffoto: ANA)

Matshela Koko, voormalige waarnemende hoof van Eskom, het saam met gesinslede en nog beskuldigdes in die hof verskyn op aanklag van korrupsie wat verband hou met die bou van die Kusile-kragstasie in Mpumalanga.

Koko is saam met drie van sy medebeskuldigdes in die Middelburg-landdroshof op borgtog van R300 000 vrygelaat. Sy vrou, Mosima Koko, en twee stiefdogters is op borgtog van R70 000 elk vrygelaat. Nog ʼn medebeskuldigde is ook op borgtog van R70 000 vrygelaat.

Die beskuldigdes is in hegtenis geneem vir hul beweerde aandeel in onreëlmatige kontrakte wat toegestaan is vir die bou van Kusile. Die kontrakte het ʼn waarde van meer as R2 miljard. Die aanklagte hou verband met die multimiljardrand-kontrak wat Eskom in 2015 met die internasionale ingenieursgroep ABB aangegaan het.

Koko het sedert 1996 vir Eskom gewerk en is in Oktober 2015 as die hoof van opwekking aangestel. Hy is in Desember 2016 as tussentydse uitvoerende hoof van Eskom aangestel.

“Bewyse wat in die Gupta-e-posse gevind is en verder by die Zondo-kommissie ontbloot is, dui daarop dat Koko sy posisie gebruik het om die Guptas te help om Optimum Coal Holdings en sy Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn van Glencore te koop. Dit is gedoen deur hierdie ondernemings onder finansiële druk te plaas om hul verkoop af te dwing,” het Rudie Heyneke, die Organisasie Teen Belastingmisbruik (Outa) se portefeuljebestuurder oor staatskaping, gesê en bygevoeg ‘n oranje oorpak moet vir Koko gereed gekry word.

Outa het strafregtelike klagte teen Koko ingedien rakende die Optimum-transaksies nadat hul ondersoek na die Gupta-e-posse ook Koko se noue bande met die Gupta-familie blootgelê het. Dit is onder meer onthul dat hy in die luukse Oberoi Hotel in Dubai gebly het en dat die Guptas daarvoor betaal het.

Heyneke het gesê die inhegtenisnemings bring meer hoop in die stryd teen korrupsie en om staatskapingverdagtes aan te kla. “Ons het die afgelope paar maande verskeie sake wat verband hou met staatskaping in die hof gesien en Suid-Afrikaners behoort daardeur bemoedig te word. Dit is nou in die hande van die Nasionale Vervolgingsgesag wat moet verseker dat ons vinnige verhore en positiewe uitkomste sien.”

Solidariteit het ook die inhegtenisneming verwelkom. Die organisasie het in Junie vanjaar strafregtelike aanklagte teen Koko en ander beweerde staatskapers by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aanhangig maak.

“Die absolute onreg van jare lange korrupsie en diefstal kan nie langer voortduur weens ʼn oneindige gesloer van ons strafregtelike stelsel se kant nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Hierdie sake moet verder gevat word. Hierdie stap is ʼn baie goeie tree in die regte rigting, maar daar moet deurlopende druk op ons veiligheidsdienste wees om hulle werk te doen, en enige verdere gesleep van voete sal nie geduld word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Weet nie waar gaan jul geld kry om nog tronke te bou nie. Dit gaan die hele land vol staan. Dan moet ons nog steeds agterna vir kos in hul mae sorg. Arme belastingbetalers…

Kokerboom ·

Robben Eiland is groot. Bou net ‘n muur rondom. Dit kan ‘n massiewe toeriste attraksie word!

Nettie ·

Goeie punt, Boervrou! Ek wonder of mens so groep op ‘n eiland met saad en ‘n paar groot houers vol rys en ‘n klompie hoenders en ‘n melkkoei kan sit en sê daar’s hy, sorg nou vir julself, ons belastingbetalers is klaar met julle.

Louis ·

Selfs in die tronke sal ons vir hulle sorg. Binne of daar buite is hulle aan die wenkant en ons is die fools.

Jerry ·

Ek sou se koop so 5 ou skepe wat nie in gebruik is nie en sleep hulle diep die see in, glo nie iemand wil hierdie kriminele weer sien nie.

MakersMark ·

Ongelukkig is dit skuim wat in die anc dam van verrotting tot bo dryf agv beleid en dan soveel skade aan die hele land aanrig wat dekades sal neem om te herstel.

Wondermaarnet ·

Op die radio nuus vanoggend is beweer Koko se borg is R700 000. Ek is seker hy en al sy trawante is vlug risikos. Hou hulle in die tronk!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis te betwyfel of die NVG oor die vermoë beskik om hierdie tipe sake suksesvol deur te voer. Hulle het nie die kapsiteit nie. Die aanklaers het dalk LLBs, maar hulle is deel van die Reënboognasie se bederfde 30 persenters wat die werk moet doen. Na uitstelle en appelle sal die sake uitgegooi word. Van die bewysstukke sal chronies verdwyn.

Althes ·

Bewyse wat in die Gupta-e-posse gevind is en verder by die Zondo-kommissie ontbloot is, dui daarop dat Koko sy posisie gebruik het om die Guptas te help om Optimum Coal Holdings en sy Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn van Glencore te koop. Dit is gedoen deur hierdie ondernemings onder finansiële druk te plaas om hul verkoop af te dwing,” –
Ondernemings onder finansiële druk te plaas om te verkoop. Is dit nie maar ook ñ strategie wat ons regering doen om BEE in ondernemings se kele te druk nie?
Wat skandalig is, is dat drukgroepe die werk moet doen van die regering deur klagtes te lê teen Koko.

Nie Verbaas ·

Sien is glo. Kom ons kyk of Mnr. Arrogant Koko n oranje oorpakkie gaan kry. Na 20 jaar se uitstel van hofsake? Kaders het mos nou al mooi van Zuma geleer.

Peter ·

Die probleem is, is daar nog enige van die geld oor om te verhaal, don’t think so. Neem hom na sy tailor in Sandton wat altyd sy mates vir sy Gucci en Pierre Cardin pakke geneem het toe die dinge nog vir hom mooi geloop het.

Nie Verbaas ·

Vat ten minste alles wat hy besit. Hy sal dan ook met n slag afkom aarde toe. Van grootbek na niks.

Blikke ·

As hy R300 000 kan betaal vir borg is Geld seker nie een van sy probleme nie….

marius ·

Nie een van hierdie spul sal die binnekant van ‘n tronk sien nie . Hul het mekaar belowe dat dit nooi sal gebeur nie . Glo dit maar .

Suzette ·

Veral as dit geld is waarvoor jy nie gewerk het nie en ook nie verdien het nie. Easy come easy go…

André ·

Ek sal dit eers glo wanneer daar ‘n foto van die spul agter tralies is vir meer as ‘n jaar. Die ANC bestaan uit ‘n klomp skurke, na bewering.

My siening ·

Sien die kader breakfast sommer in die beskuldide bank, arrogant!

Di ·

You can run but you cannot hide – Eendag haal jou sondes jou wel in – hoop hulle dag kom gou agter tralies waar hulle hoort. SKELMS!

Casper ·

Kusile kragstasie was van die begin af in omstredenheid gedompel.Dit is eers lank na die sperdatum voltooi en miljarde rand is oorspandeer en weereens is die Guptas tersprake en nog steeds is Kusile nie klaar nie,blykbaar fout met die afkoel torings.

JohanR ·

Hoop die land word in gelug watter tyd, watter datum en watter tronk. Ek will daar wees om hom totsiens te waai!

Samuel ·

Daar is voortdurend stappe in die regte rigting, net jammer niks gebeur verder nie.

ROELOF ·

As Koko en sy trawante se velle wit was moes hy eers oor naweek agter tralies gebly het. Maar gelukkig vir hom , hy kwalifiseer toe as voorheen benadeelde en kry onmiddelik borg. En borg betaal met korrupte geld.

Hannelie ·

My kommentaar verwyder….probeer weer…..hulle wag vir jou in die tronk…….en so moet ons arme belastingbetalers maar net betaal.

Jerry ·

Sommer so 4 pakke. Laat hom sit vir die res van sy lewe. Hy beteken net mooi niks vir al SA se Burgers.

Danie ·

Uitstelle dit is al wat die regstelsel in spesialiseer so my vermoede op die ou end gaan niks gebeur nie dalk n waarskuwing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.