Krygkor-hoof sê Agrizzi se bewerings is ‘kwaadwillig’

Kevin Wakeford, uitvoerende hoof van Krygkor (Foto: ANA)

Kevin Wakeford, uitvoerende hoof van Krygkor, het Angelo Agrizzi, fluitjieblaser en voormalige Bosasa-bedryfshoof, se getuienis aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping as “kwaadwillig, growwe versinsels en ʼn samestelling van leuens” afgemaak.

Wakeford het Dinsdag in ʼn verklaring verduidelik dat die kommissie hom verlede week in kennis gestel het dat sy naam in dokumente verskyn wat by die kommissie ingedien is.

Hy het verlede week spesiale verlof geneem ná onthullings voor die kommissie dat hy glo deur Bosasa bevoordeel is.

Volgens Wakeford het hy aansoek gedoen om spesiale verlof sodat hy hom kan voorberei vir sy vertoë in antwoord op die aantygings voor die kommissie. Wakeford het ook gesê hy is van plan om aansoek te doen om getuienis voor die kommissie te lewer en kruisondervra te word, maar ook om Agrizzi self te kruisondervra.

Wakeford meen hy respekteer die “oppergesag van die reg” asook die “proses om getuienis te toets om ʼn regverdige uitkoms te bewerkstellig”. Dus moedig hy Suid-Afrikaners aan om hom die geleentheid te gun om hom voor die kommissie te verdedig. Wakeford voeg by dat hy vol vertroue is dat sy naam in ere herstel sal word.

“Ek het my lewe in groot mate aan integriteit en etiese leierskap toegewy, dikwels tot nadeel van my en my uitgebreide familie. Ek is verstoot en eenkant toe geskuif weens my betrokkenheid by fluitjieblaas-aktiwiteite,” sê Wakeford.

“Die kommissie oor die ineenstorting van die rand in 2002, asook my steun aan Mike Tshishonga, die voormalige adjunk-direkteur-generaal van die departement van justisie tydens sy verdoemende onthullings in 2003 en 2004, dien as bewyse hiervan.”

Wakeford het bevestig dat hy vir ongeveer agt jaar ʼn professionele verhouding met Bosasa as ʼn konsultant vir die maatskappy gehandhaaf het. “Ek het te alle tye botsende belange vermy deur my verhoudings te openbaar.”

Volgens Wakeford is daar bewyse om dié stelling te steun.

Hy verduidelik dat sy raadgewende rol by Krygkor ʼn verskeidenheid kwessies in verband met die politieke ekonomie behels het. “Ek is sedert 1 Mei 2015 Krygkor se hoof- uitvoerende beampte. Krygkor het geen kontrakte met Bosasa aangegaan nie. Inteendeel, Krygkor het geen kontrakte met enige Gupta-gekoppelde maatskappye aangegaan nie.

“Ons het drie skoon oudits en een ongekwalifiseerde oudit tydens my ampstermyn as uitvoerende hoof behaal. Ek is toegewyd daaraan om my naam te herstel en versoek dat alle belanghebbendes geduld beoefen terwyl ek saam met my regspan werk om my bewysstukke voor te berei.”

Die Krygkor-raad het op 21 Januarie bevestig dat Wakeford se verlof toegestaan ​​is.

“ʼn Mens kan nie verwag dat Krygkor-werknemers gelei word deur ʼn hoof- uitvoerende beampte wie se integriteit in die openbare domein bevraagteken word nie, dus is die tydperk van spesiale verlof toegestaan,” sê Wakeford.

Wakeford sê hy sal nie vir onderhoude beskikbaar wees nie tot sy bewysstukke by die kommissie ingedien is. Hy voeg by dat die kommissie sy volle samewerking het. Hy sal ook aan alle reëls voldoen, waaronder hoe hy met die media omgaan, ten spyte daarvan dat hy meen hy het nie “die voordeel en beskerming van die kommissie se reëls gekry nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Dries du Toit ·

As hy enigiets te doen gehad het met Bossasa kan hy niemand kwalik neem as n rot geruik word nie. Hoop regtig nie hy is bo verdenking.

Ander Annie ·

Hierdie man het baie integriteit. As die teendeel bewys kan word, sal ek apologie aanteken. Ek het hom nog altyd ervaar soos wat hy in die artikel sê. Tyd sal leer.

Andre ·

Die man was my bevel gewees in die weermag en te alle tye was hy trots en met integriteit gehandel, Kevin ons glo in jou staan sterk en ons of ek glo in jou ondkuld.
Sterkte

Nettie ·

Waar daar ‘n rokie trek, is daar gewoonlik ‘n vuurtjie – en hoe kry ek nou die idee dat mnr. Wakeford skielik begin dans soos ‘n kat op ‘n warm stoofplaat?

Dries du Toit ·

Hoop regtig so. Dit is hard om te dink almal is so gierig

Dare ·

Mmmmm, en hoe protesteer hy nou so voortydig. Al gesien as jy n bul in n hoek vaskeer???

Johan H. ·

Benoude katte,,,, Hoekom sal Agrizzie lieg?????Hy gaan self die tronk se binnekant sien as hier geregtigheid in bannanaland is!!!

Anoniem ·

Jy moet onthou Agrizzi is gewoond aan leuens en korrupsie… Ek kan jou die teenvraag vra: hoekom sal Agrizzi die hele tyd die waarheid vertel?

jean ·

Janee…..niemand is deesdae bo verdenking…die vure brand al groter!

Johan ·

Wakeford moet konsentreer op die feite van die saak en nie Agrizzi as persoon aanval nie.

John ·

En waar kom die Guptas in die storie en nou weer die Arabiese lande en weer Indié? Almal met ‘n handjie in die koekblik? Wie het die huisige Krygkor-baas aangewys?

Wie weet ·

Hoekom n paar dae af vat jy onskuldig is het jy mos geen probleme nie Hoe se hulle die wat geld het soek nog geld en nog geld

Ja swaer ·

Wakeford, as jy n konsultant vir Watson en Garizzi was in die tyd 2000 tot 2016, het jou mos gemeng met die semels nie waar nie? Jy is sekerlik rojaal betaal vir jou Bosasa werk? Hoekom sal Agrizzi jou uitsonder? Het julle ‘n geskiedenis of hou hy net nie v jou gesig nie? Wat van jy kom maar na vore met die sak patats, soos Agrizzi? Die beskermheer Zuma is uit die prentjie en ek is seker Ramaphosa gaan sorg dat hy nie vervolg word nie. Zuma weet mos darem baie van algar wat hom vet gevoer het. Dis seker nie te moeilik om sy voortgesette beskerming af te dreig van hooggeplaaste ampsdraers nie

Ja swaer ·

Definitief deur Zuma of een v sy ministers aangewys as Krygkor hoof. En hy was konsultant vir Bosasa – nou ja, verbind die kolletjies

Jerry ·

Ons almal wil graag in Kevin se onskuld glo, maar soos wat dit tans gaan, kan niemand enige iemand glo of vertrou nie. Jy het agt jaar n professionele verhouding met Bosasa en jy het nie geweet hulle is skurke nie! Jy het jou met semels gemeng en nou wil die varke jou kwaadwillig vreet. Fluitjieblaas is veronderstel om kwaadwillig te wees teenoor die korruptes. Was dit ek en ek is onskuldig, sou ek en my regspan ons beslis nie aan die kommissie se reels gesteur het nie. Gee die bewyse van die teendeel aan die media en dan dagvaar jy onmiddellik vir laster. Dit daar gelaat, doen jou ding en bewys jou onskuld eerder gouer as later.

Pieter ·

Hier is baie mense wat daarvan hou om die man uit te haal oor die bewerings. Vir my is die feit dat hy voorheen fluit geblaas het oor korrupsie goeie indikasie dat hy nie betrokke sal wees nie. Mense verander nie hul persoonlikhede so baie nie. Hy het verlof geneem sodat hy bo verdenking sal bly want dit is die regte ding om te doen.
Sy antwoord is tog duidelik: Ek gaan antwoord maar in die regte forum, wat die kommissie is. Persoonlik sal ek hom die voordeel van die twyfel gee en wag om te kyk waarmee hy vorendag kom. Agrizzi het reeds bewys hy self is onderduims, so hoekom glo ons hom sonder twyfel oor sulke bewerings?

Jerry ·

Agrizzi se regspan sou tog seersekerlik toegesien het dat daar klinkklarebewyse is teen die mense wat geimpliseer word. Aantygings met bewyse is tog een van die voorvereistes van so n kommissie. Om mense te impliseer as daar nie bewyse is nie sou uiters onprofessioneel en baie dom wees van Agrizzi se adviseurs en regspan, maar dan ook nou weer is hierdie SA en hier is enige iets moontlik!

Geregtigheid ·

Kruis verhoor sal bepaal of Agrizzi die waarheid gepraat het. Sy gewese CEO het hom tot 80 miljoen rand belowe om stil te bly. Dinge lyk ernstig veral as Krygkor nou al verdedig. Die vraag hoekom moet ons wie glo is belangrik. Krygkor het wapens aan verbode lande verkoop en dit ontken. Laat mens dink. Groot geld verander baie in mense.

noeks ·

Anoniem, Agrizzie moet die waarheid praat. Hy is nou staats getuie en die oomblik wat hy jok, verloor hy sy voordele as ons dit so kan noem en gaan ook trunk toe. Soo daarom sal hy nie jok nie. Hy het ook sekerlik bewyse soos met al die ander gevalle, hulle sal hom nie glo met hoor se.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.