KSA bekyk voorval met Tahir

Imran Tahir. Foto: AP Photo/Themba Hadebe

ʼn Video wat op sosiale media gesirkuleer word wys duidelik hoe Suid-Afrika se draaibalbouler, Imran Tahir, Saterdag in ʼn woordewisseling met ʼn toeskouer op die Wanderers gewikkel is.

Dit was tydens die vierde eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Indië. In die video reageer Tahir heftig en stap dan saam met ʼn persoon wat soos ʼn veiligheidswag lyk, weg van die area waar die gesprek plaasgevind het. Dit blyk dat die video gemaak is toe Tahir die skuldige persoon aan sekuriteitspersoneel gaan uitwys het. Wat presies aanvanklik deur die toeskouer kwytgeraak is, is nog onduidelik.

Krieket Suid-Afrika het in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van die voorval en is bewus van die video-opnames wat rondgestuur word. “Tahir is Saterdag rassistiese aanmerkings toegesnou deur ʼn onbekende man tydens die vierde eendaagse Internasionale wedstryd teen Indië op die Wanderers.

“Tahir het die voorval by die stadion se sekuriteit gerapporteer en is daarna vergesel deur twee sekuriteitspersoneel om die persoon te identifiseer. Tahir het geen fisieke kontak met die oortreder of enige van die kinders in die omgewing gehad nie. Die voorval word deur KSA en die stadion se sekuriteitspan ondersoek.”

Ingevolge die Internasionale Krieketraad se anti-rassekode moet toeskouers wat rassisties optree, uit die stadion verwyder word en kan hulle verdere aksies en kriminele vervolging in die gesig staar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boland ·

Het niemand hom geleer dat jy nie betrokke moet raak by toeskouers nie.

Chelle ·

Boland, het niemand jou en jou maters geleer hoe verkeerd en vernederend rassisme is nie?

Sputnik ·

Om rassistiese uitlatings toegesnou te word is uiters beledigend, vernederend en getuig van swak smaak en swak opvoeding. Hy het gegaan om die skuldige uit te wys en ek neem hom gladnie kwalik dat hy die skuldige so effens sy fortuin vertel het nie.

Hans ·

Al wat ek wil weet is hoe word so iets bewys, jy sê ek sê. Ek sê natuurlik nou nie hierdeur dat dit reg is wat gedoen is nie, net dat wat is gesê en wie gaan dit beaam. Dan kan dit ook natuurlik weer wees dat die persoon besope was, dan kom mens se regte kleure navore mos. So ja ek val so biejtie na altwee kante toe. wonder maar net.

Nico K ·

Ek stem saam met Boland. Ek weet rassistiese aanmerkings behoort nie geduld te word nie. Maar daar word baie beledigings vanuit pawiljoene geskree (en veral kleiner wedstryde waar mense langs die veld staan). Meeste van die tyd bedoel om snaaks te wees. Partykeer werklik ongevraag. Maar spelers en skeidregters moet maar konsentreer wat op die veld aangaan.

Denise ·

Ag nee dit is kleinlik om jou so te laat onstel deur woorde ek is meer bekommerd oor my mense wat so vermoor word hulle stemme sal nooit weer gehoor nie !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.