KSUT-geboue in ligte laaie

Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) Foto: Facebook/CPUT

Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) het gesê een van sy lesingsale in Kaapstad is Woensdag kort voor middagete gedurende ʼn studentebetoging aan die brand gesteek.

“Ons het pas inligting ontvang dat ʼn lesingsaal in Kaapstad aan die brand is. Die brandweer is op die toneel,” het Lauren Kansley, woordvoerder vir KSUT, gesê. “Een van ons finansiële hulp-kantore in Bellville is ook aan die brand gesteek en in Mowbray is ʼn personeelkamer/kafeteria in ʼn brand verwoes.”

Kansley het gesê die universiteit vermoed “ʼn klein minderheid” is vir die brandstigtingvoorvalle verantwoordelik. Die skade sal waarskynlike miljoene rande beloop. “Ons is in die stadium nie bewus van die rede vir die betoging nie.”

Die ANC het die brandstigtingvoorvalle veroordeel en ʼn beroep op die betogers sowel as die universiteitsowerheid gedoen om ʼn vriendskaplike oplossing vir verskille te vind sodat die akademiese program van die instansie nie ontwrig word nie. “Hierdie kriminele optrede moet gestraf word met die volle mag van ons regstelsel. Daar kan geen regverdiging hiervoor wees nie ongeag enige grief wat enigiemand mag hê,” het Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, gesê.

“Gedrag waar universiteitsgeboue afgebrand word, is kortsigtig en sonder enige begrip van die dringende behoeftes van ons studente en ons instansies van hoër onderwys.”

Kodwa het ʼn beroep gedoen op mense met inligting oor die brandstigtingsaanvalle om met die owerhede saam te werk sodat die skuldiges vasgetrek kan word. “Die bestuur van die universiteit en die studenteliggaam moet saamstaan om hierdie aanhitsers te ontbloot en te isoleer.”

Kodwa het gesê in 2016 was die skade aan Suid-Afrikaanse universiteite as gevolg van brandstigting en vandalisme na raming byna ʼn halfmiljard rand. “Dit is geld wat gebruik kon word om tekorte en uitdagings in ons hoër onderwys stelsel te finansier, eerder as om onnodige skade te herstel.”

Polisiebeamptes is Woensdag op die hoofkampus van die KSUT en satelliet-kampusse reg oor die Skiereiland ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KFN ·

Ja, “wat jy saai sal jy maai”. Die regering van die dag het hulle kinders goed GROOT gemaak om ander mense se goed en eiendom te vernietig wanneer hulle nie hulle sin kan kry nie.

CHRISTA ·

Jy is doodreg! In die ’70s het die ANC honderde skole huise afgebrand! Nou is hulle in die bestuurstoel en skielik pas hierdie modus operandi hulle nie! WAT ‘N GRAP!!

Johann Marx ·

Ou Zizi…..shame man….hoe kan jy nou vir studente daarop wys dat sulke tipe gedrag kortsigtig is, en waarsku dat sulke persone met die vol mag van die reg te doen sal kry, terwyl jou organisasie se eie president skotvry afkom van al sy manewales af? Kom ons trek dit wat jy sê deur na die hele Suid Afrika toe: As die regering die misdaad onder beheer kon kry, en hou, sou AL die stene wat vandag in veiligheidsmure gemessel is, genoeg gewees het om vir ELKE huis-lose Suid Afrikaner ‘n huis te kon gee…..Kom ons praat NOU oor “kortsigtig”…

bgj van der westhuizen ·

stem saam daar sal niks van kom nie wand die wat brandsteek het het nie geld om te betaal nie en die regering is te swak om hulle was te wat

Akademi Buktu ·

Hoekom dink ek hulle is van die Oos-Kaap afkomstig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.