Kuba nie die antwoord op Vrystaat se onderwysprobleme, sê Fedsas

Argieffoto

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het sy misnoeë uitgespreek oor die Vrystaatse departement van onderwys se aankondiging dat onderwysers uit Kuba in die provinsie aangestel gaan word.

Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, is tientalle opgeleide onderwysers in die Vrystaat werkloos van wie talle met beurse van die Vrystaatse onderwysdepartement gestudeer het. “Dit is asof die Vrystaatse onderwysdepartement nie glo in sy eie belegging nie. Waarom hoegenaamd beurse toeken indien daardie kundigheid nie in die stelsel teruggeploeg word nie?”

Die Vrystaatse onderwysdepartement se aankondiging volg kort op die hakke van premier Ace Magashule se aankondiging dat Kubaanse mediese personeel, onder wie dokters en verpleegkundiges, gaan kom help om staatshospitale in die Vrystaat reg te ruk.

“Enige departement wat kundig bestuur word, sal in die eerste plek nie ’n regruk-poging benodig nie. Dit is egter ’n erkende feit dat die Vrystaatse onderwysdepartement wél hulp nodig het. Fedsas se vraag is egter waarom plaaslike hulp nie ingeroep kan word nie. Fedsas beskik nie net oor die kundigheid nie, maar die federasie het by meer as een geleentheid ook al sy bereidwilligheid verklaar,” het Deacon gesê.

Fedsas is veral ongelukkig oor hoe hierdie aankondiging gemaak is. “Práát net eers met al die rolspelers voordat onverantwoordelike en ondeurdagte planne in die media aangekondig word. Fedsas sê byvoorbeeld nie dat daar nie by die Kubaanse onderwysstelsel geleer kan word nie. Kuba se hoë geletterdheidsyfer is immers ’n voorbeeld van hoe onderwys in ’n ontwikkelende samelewing aangepak kan word. Maar dit maak tog meer sin om hierdie en ander kundiges op bestuursvlak eerder as direk op skolevlak in te kry.”

Fedsas het geëis dat alle planne rakende die aanstelling van Kubaanse onderwysers in die Vrystaat onmiddellik op ys geplaas word. “Daar is boonop statutêre prosesse wat gevolg moet word. Onderwysers word by skole aangestel op aanbeveling van skoolbeheerliggame. Die premier en onderwysamptenare is nie by magte om hierdie aanstellings te maak sonder om die nodige prosesse te volg nie,” het Deacon gesê.

Volgens Deacon moet daar ’n volledige oudit oor onderwysbehoeftes in die Vrystaat gedoen word voordat besluite geneem kan word. “Waar gaan die geld vandaan kom om Kubaanse onderwysers te betaal? Boonop het vorige aanstellings uit Kuba reeds bewys dat om Engels te verstaan nie genoeg is nie. Om ingewikkelde wiskunde- en wetenskapkonsepte verstaanbaar oor te dra, mag taal nie ’n bykomende struikelblok wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
se-net

Hul kan maar eerder Kubanne as ministers in die parlement aanstel, miskien doen hul n “beter werk” daar ook! Hie-hie!!!!

anet

Ek kan hierdie kruipery en uitreiking na sogenaamde Kubane nie verstaan nie. Hoekom vry die regering so hard na die Kubane wat het hulle wat ons nie het nie?. Selfs Eskom vry na hulle. Miskien is daar iewers iemand wat die antwoorde ken, en my kan help om dit te verstaan.

Madelein

Kan ‘n mens nie ‘n interdik kry teen die provinsiale regering se uiters onbesonne belaglike besluit nie? Dit is verregaande

catryn

Voor 1994 is daar beloftes aan lande in Afrika gemaak, gee vir ons skuiling, as “ons” (ANC) hier in SA aan bewind kom sal daar vir julle gesorg word – Kuba, Rusland, China was deel van ons grensgevegte – hierdie gaan nie verander nie. Ons eie swartes is reeds in hul eie Trustgebiede en nie deel van die reenboognasie nie, daar bly wel ‘n paar in die res van SA wat nie deel is van die Trustgebiede nie. Hulle het reeds hul kultuur behou, hul tradisies, hul eie volkskole, hul eie inisiasieskole – alles vir die belastingbetalers se sak. Daarom… Lees meer »

Tammy

Begin by die Suid Afrikaanse regering met n regruk aksie. Dis waar al die gemors en bankrotskappe begin. As ons n behoorlike regering met kundige mense het wat goeie besluite kan neem is daar geen maar geen regruk aksies nodig nie. Die land sal normaal kan funksioneer. Dis voor die hand liggend hoekom ons in die moeilikheid is op alle gebiede. Die Kubane word tot by ons hospitale as dokters ingesleep, maar ons eie kinders kan nie plek op universiteit kry om vir dokters te studeer nie. Ga!!!! vir die regering.