Kubaan in SA: ‘Ons is moderne slawe’

Kubaanse gesondheidswerkers kom in April 2020 in Suid-Afrika aan. (Foto: GCIS)

ʼn Kubaan, wat al vir etlike jare in Suid-Afrika werk weens ’n aanvanklike ooreenkoms tussen dié twee lande, sê die lone wat hul ontvang het, het hul byna moderne slawe gemaak.

“Ek het ’n vermoede dit is ook wat met die nuutste 24 ingenieurs gaan gebeur.”

Die verhouding tussen Suid-Afrika en Kuba is die afgelope ruk weer in die kollig. Vir twee lande wat ’n uiters gespanne verhouding gedurende die apartheidsjare gehad het, is hul verhouding nou redelik rooskleurig en vol voordele.

Volgens *Sam, ’n betroubare bron wie se identiteit om veiligheidsredes en regsadvies weerhou word, het Kuba in 1988 die ANC se spreekwoordelike siel gekoop toe die Drieledige Vredesakkoord op 22 Desember in New York onderteken is.

“Dit wat met ons groep en die groepe ná ons gebeur, kan as hedendaagse slawerny beskryf word. Suid-Afrika se belastingbetalers is dié wat vir ons dienste opdok, maar Kuba is die land wat ryk word deur dié ooreenkomste. Kuba het in 1988 die siel van die ANC gekoop en daarom kan hulle doen wat hulle doen. Ons almal was só sleg gehanteer.”

Volgens Sam betaal die ANC steeds “politieke skuld” terug aan Kuba, maar dít op die onkoste van Suid-Afrikaanse belastingbetalers.

“Toe ek hier in Suid-Afrika kom, het ek byvoorbeeld nie ʼn idee gehad wat ’n tender is nie. Ek het vir die eerste drie jaar van my kontrak in Suid-Afrika niks gedoen nie. Ek is betaal, maar ek het niks gedoen nie, want ek was net besig om te leer hoe dinge in Suid-Afrika gedoen word.

“Dit is waarom dit so ’n klap in Suid-Afrikaners se gesigte is met byvoorbeeld dokters van Kuba wat hier kom werk. Daar is talle uitdagings ten opsigte van taal, kultuur en selfs perspektief. Dit maak net nie sin nie. Kuba volg ook eerder ’n proaktiewe gesondheidstrategie en ek glo in die geval van die dokters wat na Suid-Afrika gestuur word, weet hulle ook nie regtig hoe om Suid-Afrika se gesondheidstrategie te benader nie.”

‘Moderne slawe’

Kubaanse gesondheidswerkers kom in April 2020 in Suid-Afrika aan. (Foto: GCIS)

“Die lone wat ons onder hierdie verdrag ontvang het, het ons byna moderne slawe gemaak. Ons het reeds ʼn onregverdige ooreenkoms in Havana onderteken wat ʼn toelaag van $500 per maand behels het. Ons het geen keuse gehad nie, want ons salarisse in Kuba was baie minder. In die bogenoemde ooreenkoms is daar egter omskryf dat ons nie die volle toelaag in Suid-Afrika sal ontvang nie, maar slegs 50% en die balans sal teruggehou word.

“Een kwart daarvan is deur die Kubaanse regering vrygestel toe ons vir ons jaarlikse vakansie in Kuba aangekom het. Die laaste gedeelte van die retensie is eers aan die einde van die ooreenkoms vrygestel. Dit was ’n instrument wat die regering gebruik het om te verhoed dat geplaaste werkers hul eie land verlaat, maar ook as ’n dissiplinêre meganisme om die koste van ons te verhaal indien ons nie die streng opgelegde reëls sou nakom nie.

“Van die $500 wat ons in Suid-Afrika verdien het, het ons net $250 per maand ontvang wat in daardie tyd sowat R2 500 was. Hierdie praktyk was heeltemal onwettig, aangesien ons salarisse ónder die minimum lone van die Suid-Afrikaanse arbeidswet was. Die Suid-Afrikaanse en Kubaanse regerings was egter nie hieroor bekommerd nie. Die enigste rede dat ons oorleef het, was omdat die Kubaanse regering ’n voorwaarde gestel het dat Suid-Afrika, benewens ons salarisse, ook verblyf, vervoer, jaarlikse heen-en-weer vlugte na Kuba, sowel as vlugte vir deernisverlof én die finale verskepingskoste van ’n beperkte vrag terug na Kuba aan ons moes voorsien.

“Die Suid-Afrikaanse regering het egter die volle plaaslike salaris verbonde aan die onderskeie professionele poste betaal. Ons is destyds ongeveer R22 000 per maand betaal, waarvan ons slegs 11% van die salaris as toelaag kon hou (R2 500) en moes dan die balans binne die eerste vyf dae van die maand na ’n rekening, wat die Kubaanse ambassade gehad het, oorbetaal.”

Kubaanse ingenieurs sal nie kan werk nie

Lindiwe Sisulu. (Foto: @DWS_RSA
/Twitter)

Sam meen dat dit vanuit ʼn professionele oogpunt duidelik is dat die 24 ingenieurs eenvoudig nie wettig in Suid Afrika sal mag werk nie, omdat hulle nie by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA) geregistreer is soos vereis word nie.

“Die Kubaanse regering sien die professionele registrasie van sy burgers in ander lande as ʼn bedreiging en ʼn probleem omdat dit die moontlikheid vir sy burgers skep om permanent in ʼn land aan te bly en nie na Kuba toe terug te keer nie. Dus, in teenstelling met wat minister Lindiwe Sisulu beweer, kan ʼn Kubaanse ingenieur wat nie by die raad geregistreer is nie, slegs onder die toesig van ʼn geregistreerde professionele ingenieur (hetsy in diens van die regering of ʼn private maatskappy) werk. Talle munisipaliteite het egter geen professionele geregistreerde ingenieurs in diens wat die vereiste toesig oor uitgeplaaste Kubaanse ingenieurs sal kan uitoefen nie.

“Toe ek hoor dat minister Sisulu sê die Kubaanse ingenieurs ontvang net ʼn toelaag, was ek geskok omdat dit waarskynlik net die helfte van die waarheid is. Dit is waar dat hulle ʼn toelaag kry, maar sy noem nêrens dat die balans van die ingenieurs se salarisse wat hulle in Suid-Afrika kry na die Kubaanse regering gaan nie. Dit is hoe dit met ons was, so ek kan eenvoudig nie dink dat dit nou skielik anders sal werk nie.”

Dié ooreenkoms duur vir SA

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

“Ek dink persoonlik dat die aanstelling van professionele mense vanuit Kuba onder hierdie ooreenkoms baie duur vir Suid-Afrika is, want Suid-Afrika betaal die salarisse en voorsien bykomend, onder meer, akkommodasie, daaglikse vervoer, jaarlikse vlugte en uiteindelik skeepsvragkoste. Dit is baie belangrik om te beklemtoon dat die aanstelling van Kubane onder hierdie ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba ook heeltemal onproduktief is.”

Volgens Sam is die werklikheid dat hulle as Kubane van ʼn heel ander stelsel afkomstig is, met verskillende kontrakvoorwaardes en geen kennis van tenderprosesse nie. Hulle kom ook van ʼn plek sonder ʼn vrye mark waar die regering basies die hele ekonomie bestuur.

“Dan praat ʼn mens nog nie eens van die uitdagings rakende taal nie. Wanneer die Kubane uiteindelik begin verstaan hoe dinge in Suid-Afrika werk en hulle net mooi hul voete begin vind, dan is hulle kontrakperiode verstreke en moet hulle weer huis toe gaan. Hierdie stille ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba is, volgens my, bloot net terugbetaling vir talle politieke gunste wat in die verlede betoon is.”

Solidariteit onthul meer skokinligting

Dirk Hermann.

Solidariteit se inligting wys dat die Kubaanse ingenieurs wel werkkontrakte het en tot R300 000 per jaar méér as Suid-Afrikaanse ingenieurs betaal word. Deel van hulle vergoeding is omvattende byvoordele wat vlugkaartjies vir vakansies na Kuba, gemeubileerde verblyf, kos en telefoonkoste insluit.

Solidariteit het ook die Kubane se kontrakte bekendgemaak wat wys dat hulle wel ingenieurswerk gaan doen en nie bloot, soos die minister gesê het, as mentors gaan optree nie. Solidariteit het ook bewyse dat die Kubaanse ingenieurs inderdaad nie aan die Suid-Afrikaanse vereistes vir registrasie en lisensiëring voldoen nie, en dat die belastingbetaler eerder ongeveer R75 miljoen vir die projek gaan opdok en nie R64 miljoen soos gesê is nie.

Dit kom nadat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, verskeie kere in die openbaar gesê het dat die Kubaanse ingenieurs nie werknemers is nie en nie ʼn salaris gaan ontvang nie. Solidariteit meen hy het nou voldoende inligting om voort te gaan met sy hersieningsaansoek om die besluit van die minister ongeldig te laat verklaar.

“Daar is nou geen twyfel nie dat Kubaanse ingenieurs wel die werk van Suid-Afrikaanse ingenieurs gevat het en meer daarvoor betaal word, en dat belastingbetalers meer moet betaal as wat aanvanklik gesê is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Soortgelyke projekte word al vir meer as 19 jaar deur die departement en Kuba gedryf en intussen sien ons net hoe ons waterinfrastruktuur verder agteruitgaan. Boonop het die pandemie die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika net verder vererger. Dit is ʼn skande dat ons regering ons eie werkers so in die steek laat.

“Die departement is arrogant en beledigend teenoor ons eie werkersmag. Hulle sal eerder mislei en inligting probeer wegsteek as om Suid-Afrikaners te help. Ons moet hierdie irrasionele en onwettige besluit ten sterkste beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

M.a.w. die Kubaanse regering net so slinks en skelm is soos die ANC (ja okay en ons geweet nog al die tyd). Hoe kan dit toegelaat word as al daai mense na vore kom en alle bewyse is teen hierdie kriminele regerings?

donsie

weereens nog ‘n vorm van korrupsie

Pieter

En is enigiemand met ‘n IK van meer as 100 verbaas hieroor?

Manie

Die res van die geld word seker in Kuba vir ANC kader aftrede of toevlugoord gestoor.

capie

Hoeveel van daai geld gaan net deur Kuba terug na die kaders se sakke?