Kuberaanvalle ‘wekroep’ vir staat, maatskappye

(Skermgreep: eNCA)

Verlede week se kuberaanval op die Johannesburgse metroraad se rekenaarstelsels was ʼn wekroep vir staatsinstellings én die private sektor oor hoe hulle hul tegnologie bestuur, asook oor die gevare wat dit vir ʼn onderneming kan inhou, het die Instituut van Direkteure van Suid-Afrika (IoDSA) Maandag gewaarsku.

Maroela Media het Vrydag berig die metroraad moes sy webwerf, e-dienste, rekeningstelsel en kliëntediensstelsels tydelik afskakel nadat kuberkrakers sy netwerk aangeval het. ʼn Groep genaamd Shadow Kill Hackers was glo verantwoordelik vir die aanval. Hulle het gedreig om die inligting wat hulle bekom het te versprei tensy ʼn losprys van 4 bitcoin (sowat R500 000) betaal word.

Kort daarna het die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) ook gesê verskeie banke het ʼn losprysnota via e-pos gekry. Dit is ook aan bankamptenare gestuur. Volgens Sabric het die kuberaanval nie ʼn gevaar vir die sekerheid van data ingehou nie – kliënte se inligting was dus glo nie in die gedrang nie.

“Kuber-aanvalle soos dié verteenwoordig ʼn groot en onmiddellike gevaar in die staat- en private sektor. Die stad was in wese nie in staat om enige sake toe doen tot sy stelsels herstel is nie en belangrike korporatiewe en kliëntedata kon verlore geraak het, of in die gedrang gebring word,” het Parmi Natesan, uitvoerende hoof van IoDSA gesê.

Volgens die instituut vorm tegnologie deesdae die ruggraat van die meeste ondernemings – staatsinstelling én die private sektor – en hoofde se verantwoordelikhede wat die bestuur van tegnologie behels is belangriker as ooit

Marlon Moodley, IoDSA se IT-bestuursfasiliteerder, sê wêreldwyd word daar ook nie genoeg gedoen om in die vinnige veranderende tegnologiebedryf by te bly nie.

“Tegnologie word oral aangetref en direkteure moet verseker hulle het ʼn breër begrip van tegnologie en neigings wat dit aandryf. Hulle moet ook kenners betrek om raad te gee,” het Moodley gesê.

“Dit is deurslaggewend dat [direkteure] en kenners ʼn omvattende benadering volg teenoor die hele tegnologie-omgewing én die bedryfsimpak daarvan – en dit sluit sensitiewe data in.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Feite ·

Politieke en georganiseerde misdaad is nou werklikwaar besig om te probeer om Suid Afrikaners op alle vlakke gyselaar te neem en indien Suid Afrikaners nie staatskaper gangsters agter tralies begin kry nie, gaan die situasie net meer en meer hande uitruk en buite beheer raak!

Snowflake ·

Terwyl julle ouens so bedrywig is met “hacking” kan julle mos baie probleme names sa oplos?? Check sommer ook vir ons wie het vet balanse….. asb man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.