Kuberkrakers byna vort met R100 miljoen van universiteit

Die Universiteit van Mpumalanga (Foto: UMP/Facebook)

Die Universiteit van Mpumalanga (UMP) het sekerlik ’n sug van verligting geslaak toe hy vroeër vanjaar daarin kon slaag om ’n kuberkraakvoorval af te weer wat hom ’n steierende R100 miljoen sou kos.

Die kuberkrakers, wat hulle glo as beleggingsbankiers voorgedoen het, kon eindelik net R3 000 steel danksy voorkomende maatreëls vir kuberveiligheid wat die universiteit reeds ingestel het.

Die UMP se raad is vandeesweek gedurende ’n raadsvergadering van dié noue ontkoming in kennis gestel.

Die raad het intussen in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor ’n toename in kuberverwante aanvalle op individue, asook openbare en private instellings hoewel hy nie oor die kuberkraakvoorval uitgebrei het nie.

“Ons wil as raad die bestuur van die universiteit bedank vir sy wonderlike werk om ’n uiters rampspoedige verlies te kon voorkom,” sê prof. David Mabunda, voorsitter van die raad.

“Net soos e-handel sy eie voordele inhou, hou dit ook ’n risiko in vir misdaadnetwerke wat voortdurend gesofistikeerde metodes gebruik om hul afskuwelike aktiwiteite uit te voer. Ons het die verantwoordelikheid om ons voorkomende maatreëls vir kuberveiligheid voortdurend te verbeter en te hersien as deel van goeie bestuur en wêreldwye mededingende bestuurspraktyke.”

Volgens Mabunda sal die universiteit daarmee voortgaan om sy voorkomende maatreëls vir kuberveiligheid te versterk om voortaan soortgelyke voorvalle te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Ek neem aan hulle veiligheidstelsels was in plek..
Dit wil gedoen wees

Danie ·

Seker te veel gevra maar ek sou regtig wou weet hoe hulle dit reggekry het om die aanval te keer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.