Kuberkrakers slaan dalk op kiesdag toe

Dink jou dit in: Dit is stemdag en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het nie toegang tot die kieserslys nie, omdat kuberkrakers toegang tot die kommissie se databasis verkry en data geënkripteer het.

Óf dit is stemdag en die een ná die ander geregistreerde kieser daag by hul stempunt op net om te hoor dat hulle nie geregistreer is om te stem nie, danksy kuberkrakers wat hul persoonlike data gemanipuleer het.

’n Kuberkenner sê die moontlikheid bestaan dat kuberkrakers die verkiesing kan kaap, indien die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) nie in aanloop tot kiesdag onder meer goeie rugsteunkopieë van die volledige verkiesingsdatabasis maak nie.

“Sonder daardie data kan die verkiesing in beginsel nie plaasvind nie,” sê prof. Basie von Solms, navorsingsprofessor aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir kuberveiligheid.

Von Solms is bekommerd (en meen die OVK behoort ook te wees) dat kuberkrakers op kiesdag gaan toeslaan en eindelik die uitslag van die verkiesing manipuleer.

“Dit is moontlik. Die OVK maak gebruik van rekenaarstelsels en rekenaarstelsels is en was nog nooit veilig nie. Enige rekenaarstelsel kan gekraak word.”

Nie minder nie as drie staatsinstellings se stelsels het vanjaar al onder kuberkrakers deurgeloop – die Agentskap van Staatsdienspensioene, die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom en die Mangaung-metro.

Dié metro se aanlyn stelsel was in Februarie langer as twee weke van lyn af nadat kuberkrakers beheer oor die webwerf oorgeneem het.

“Wat maak die OVK se stelsels anders?” wil Von Solms weet. “Ek sê nie dit sál met die OVK gebeur nie, maar dit kán. ’n Mens is net bekommerd.”

Die onlangse uitlek van die ANC en uMkhonto weSizwe (MK) se parlementêre kandidaatlyste help ook nie eintlik om die bekommernis te stil nie.

Hoekom kuberkraak?

(Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Von Solms meen daar is twee redes waarom kuberkrakers op kiesdag sal wil toeslaan. Die eerste is bloot eie finansiële gewin. Kuberkrakers kan dus moontlik die stelsel kraak, data enkripteer en dan ’n reuselosprys van die staat eis in ruil vir toegang tot die data.

Kuberaanvallers maak toenemend gebruik van losprysware as ’n prominente aanvalsmetode. Losprysware, algemeen bekend as ’n vorm van wanware, enkripteer regeringslêers, wat hierdie lêers ontoeganklik maak tensy ’n vasgestelde losprys aan die kwaadwillige entiteite betaal word in ruil vir dekripsie.

Die tweede minder waarskynlike rede is dat politieke partye kuberkrakers sou kon aansê om data te manipuleer om die uitslag van die verkiesing só te beïnvloed.

“Maar dit is minder waarskynlik,” beklemtoon Von Solms.

Von Solms sê die risiko vir kuberkrakery tydens die komende verkiesing is groter vergeleke met vorige verkiesings, bloot omdat tegnologie binne vyf jaar gevorder het. Hy verwys spesifiek na die opkoms van kunsmatige intelligensie.

“Daar is ook baie meer kundigheid.”

Von Solms vertrou dat die OVK sy tegnologie en veiligheidsmaatreëls sedert die vorige nasionale verkiesing bygewerk het.

Maroela Media het vandeesweek ’n navraag aan die OVK in dié verband gestuur en wag steeds op terugvoer.

Von Solms sê kuberkrakery is wêreldwyd ’n bekommernis.

Altesaam 64 lande (byna die helfte van die wêreld se bevolking) gaan vanjaar na die stembus.

’n Onlangse verslag deur die verdedigingsmaatskappy wat inligting oor bedreigings verwerk, Tidal Cyber, toon dat die komende verkiesings in die VSA, die Verenigde Koninkryk en Suid-Korea moontlik veral gaan deurloop onder kubermisdaad.

Ander lande wat in 2024 verkiesings hou en ’n groot kans het om die slagoffer van kuberkrakers te wees, sluit in Indië, België, Pakistan, Wit-Rusland, Mexiko, Georgië en Indonesië.

Tidal Cyber sê hierdie lande kan deur algemene inligtingsmanipulasieveldtogte en kuberaanvalle tydens die verkiesings geteiken word, asook deur aanvalle wat die verkiesingsproses self kan ontwrig, of selfs opskort.

Die verslag toon dat 20 (31%) uit die 64 lande wat ontleed is, hoë inmengingsbedreigings tydens verkiesings te wagte kan wees.

Byna tweederdes (41 lande, of 64%) loop die gevaar om deur minstens een staatsgesteunde kuberbedreigingsrolspeler geteiken te word, wat waarskynlik aan Rusland, China of Iran verbonde is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.