Kuberkrakers teiken howe se IT-stelsel

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Probleme met die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se IT-stelsel word nou aan ’n kuberaanval toegeskryf.

Die departement sê die kuberaanval is Maandagaand uitgevoer.

Steve Mahlangu, woordvoerder van die departement, sê die aanval het daartoe gelei dat alle inligtingstelsels vir interne personeel én lede van die publiek ontoeganklik is.

Alle elektroniese dienste wat deur die departement verskaf word, word in dié stadium geraak. Dit sluit in die uitreiking van magtigingsbriewe, borgtogbetalings, asook toegang tot e-pos en die departement se webwerf.

Maroela Media het vroeër berig sommige howe het vandeesweek probleme met die opneem van hofverrigtinge ondervind, terwyl sommige regsverteenwoordigers sukkel om dokumente op die aanlyn platform CaseLines te plaas.

Ander het weer gesukkel met onderhoudbetalings.

Volgens Mahlangu is alle betalings van kinderonderhoud vir die einde van die maand reeds verwerk en die dienste word nie meer geraak nie.

Die departement het intussen gebeurlikheidsmaatreëls getref om te verseker dat die probleme met sy IT-stelsel nie die werking van die land se howe beïnvloed nie. Nie-elektroniese opnametoerusting sal ook gebruik word om te verseker dat alle hofsittings soos geskeduleer voortgaan.

Mahlangu sê die departement se IT-kundiges werk saam met staatsinstansies om die probleem te ondersoek en op te los. Dit lyk nie in dié stadium of enige data gedurende die aanval in die slag gebly het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

#013 ·

Hoekom kan die kuber-krakers nie liewer almal wat gedurende C-19 hul werk verloor het se skuld afskryf nie?

Nie Verbaas ·

Is dit die nuutste verskoning of net die mees algemene een omdat niks onder ANC bestuur werk nie?

Spookasem ·

Maybe all those goggas that login from home to ‘change things’ in favour of criminals? Open house for cyber attacks on a justice system that uses the word ‘IT’ but have no comprehension of what it means?

marius ·

Kry kwitansie boeke . Toemaar , vergeet dan moet jy kan skryf .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.