Kuberkrakers teiken SA kredietburo, losprys geëis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Suriyawut/Vecteezy)

Kuberkrakers het Donderdag die kredietburo TransUnion geteiken en boonop ʼn losprys geëis in ruil vir die gekaapte data.

Die kuberkrakers, wat as ʼn “kriminele derde party” beskryf is, het toegang tot die buro se bediener verkry deur ʼn gemagtigde kliënt se besonderhede te misbruik.

TransUnion, wat spesialiseer in kredietverslagdoening vir mense wêreldwyd, het in ʼn verklaring bevestig dat TransUnion Suid-Afrika deur die aanval geteiken is.

“Ons glo die voorval het ʼn uitwerking op ʼn geïsoleerde bediener wat beperkte data van ons Suid-Afrikaanse tak bevat,” sê die maatskappy.

“Ons het ʼn afpersingseis ontvang, maar dit sal nie betaal word nie.”

Luidens berigte word miljoene rande in Bitcoin geëis, maar TransUnion het nog nie hierdie gerugte bevestig nie.

Volgens die kredietreus het hy onmiddellik die kliënt wie se besonderhede tydens die aanval gebruik is, se toegang opgeskort.

Kubersekuriteit- en forensiese kundiges is by die voorval betrek en ondersoek is ingestel.

TransUnion het ook sommige van sy dienste aflyn gehaal, maar dit is sedertdien weer hervat.

“Ons is in gesprek met ons kliënte in Suid-Afrika en namate die ondersoek vorder, sal ons mense wie se persoonlike data moontlik geraak is, in kennis stel en bystaan.”

Die maatskappy het intussen sy identiteitsbeskermingsprodukte gratis aan diegene wat wel deur die kuberaanval geraak is, beskikbaar gestel.

Lee Naik, uitvoerende hoof van TransUnion, sê hulle werk nou saam met owerhede om die skuldiges vas te trek.

“Ons verstaan dat situasies soos hierdie ontstellend kan wees, maar TransUnion Suid-Afrika bly daartoe verbind om ons kliënte by te staan.”

Suid-Afrikaanse sakeondernemings gaan die afgelope tyd gebuk onder kuberaanvalle met maatskappye soos Transnet, Virgin Active en meer onlangs die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, wat geteiken word.

Terwyl die aanval op Transnet se stelsel onder meer tot ʼn agterstand in die verwerking van goedere in en uit hawens gelei het, kon sommige howe nie hul bedrywighede voortsit weens die aanval op die departement se stelsel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.