Kuberkrakers teiken Transnet glo

(Argieffoto: Untu)

ʼn Aanslag op Transnet se IT-stelsel het Donderdag en Vrydag heelwat van dié maatskappy se bedrywighede, veral by hawens, vertraag. Dit het onder meer tot ʼn agterstand in die verwerking van goedere in en uit hawens gelei.

Transnet sê hy het die oorsprong van ʼn ontwrigting aan sy IT-stelsels opgespoor en geïsoleer. Tegniese spanne werk steeds om te verseker die uitwerking op sy bedrywighede word tot die minimum beperk.

Die maatskappy het Vrydag nie uitgebrei oor die aard van die onderbreking nie en hoewel hy dit nie in ʼn verklaring bevestig het nie, is sy IT-stelsel glo in ʼn kuberaanval gekraak.

Gister het Transnet in ʼn kort verklaring gesê gebeurlikheidsplanne is in werking gestel nadat die onderbreking voorgekom het, asook dat die maatskappy sy bedrywighede voortsit.

Skepe wat in en uit die hawe gevaar het, is met die hand aangeteken. Dit het glo tot groot vertragings gelei, maar bedrywighede by haweterminale is nietemin voortgesit.

Ondanks Transnet se versekering dat hy die probleem geïdentifiseer het, het die maatskappy se webwerf Vrydagmiddag egter steeds nie gewerk nie en dié van Transnet se haweterminaal ook nie.

Die vervoervakbond Untu sê Transnet het vroeër bekend gemaak dat hy verliese van meer as R259 miljoen gely het weens verlede week se oproer by die hawens van Richardsbaai en Durban. Weens die gevaarlike toestande kon werkers hulle nie vir diens aanmeld nie, paaie was gesluit en brandstoftekorte is ondervind.

“Dit is hartverskeurend dat ons hawens en spoorinfrastruktuur, waar werkers deur die Covid-19-pandemie hul lewe op die spel geplaas het om te verseker dat goedere, kos en kommoditeite hul bestemmings bereik en die ekonomie aan die gang gehou word, so kwaai geraak word deur die misdadigheid van ʼn paar wettelose mense,” sê Steve Harris, algemene sekretaris van Untu.

Transnet het vandeesweek boonop gesê ondanks al sy pogings en die inhegtenisneming van meer as 700 mense vir kabeldiefstal, was daar steeds geen afname in die getal voorvalle wat hy daagliks ondervind nie.

Harris sê kabeldiefstal is die grootste oorsaak van vertragings vir vrag- en passasierstreine en kos die Suid-Afrikaanse ekonomie tussen R5 miljard en R7 miljard per jaar.

Die vakbond het ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om ingrypende stappe te doen om Transnet teen sabotasie, misdadigheid en vandalisme te beskerm.

Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, het ook gewaarsku dat die “gevolge van die kuberaanval op die logistieke ekonomiese ruggraat van die land nie onderskat of verontagsaam mag word nie”.

Cachalia sê indien die aanval deel was van ʼn sabotasie-sameswering deur ANC-faksies binne sleutel- staatsbeheerde ondernemings, word die gevolge vererger omdat dit die veiligheid van die staat en sy sleutel- ekonomiese bedrywighede raak.

Hy sê die DA se pogings om verdere inligting by Transnet te bekom, is beantwoord met die stelling dat die verklaring uitgereik is.

“Transnet en min. [van openbare ondernemings] Pravin Gordhan moet dadelik die situasie by Transnet verduidelik. Die ekonomiese lot van deurslaggewende logistiek in die land is op die spel,” sê Cachalia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek is eintlik meer geskok dat Transnet in die eerste plek ‘n IT stelsel het

VaalDonkie ·

Samuel, Ek het ook eers gedink dis onsin, maar blykbaar het hulle wel ‘n IT stelsel. Kan jy nou meer!

Kokerboom ·

Kuberkrakers, sabotasie sameswering, misdadigers, vandalisme, kabeldiefstal, diefstal, stakende vakbonde, onbevoegdheid, kaderontplooiing, politiekery en wie weet wat nog? Dit moet bitter hel wees vir kaders om SOO’s te “bestuur”!!!!!!

Tiptol ·

Ek dink hul is in elk geval nie opgelei om te kan bestuur nie.

Nie Verbaas ·

Dis snaaks. Was nie bewus dat hulle rekenaars nog werk nie.

Marius ·

Kabel-diefstal : Die Skrootwerwe moet uiters effektief en baie vinnig geregistreer word…….. en aan streng wetgewing en boekhouding ( dws ID van “verkoper” ens ) MOET aangeteken word. As sulke plekke nie die koper onwettig kan aankoop nie, sal die mark daarvoor in duie stort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.