Kubermisdaad neem drasties toe gedurende afsondering

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die aantal toestelle wat deurloop onder kuberkrakers het skerp gestyg gedurende die algehele landwye afsondering met die dat Suid-Afrikaners nou tuis moet werk.

Luidens ’n verslag deur die kubersekuriteitsverskaffer Kaspersky word minder as 30 000 toestelle in Suid-Afrika gewoonlik daagliks deur kuberkraking geraak. Die land beleef egter vanaf middel Maart aansienlik meer kuberaanvalle nadat talle Suid-Afrikaners noodgedwonge van die huis af begin werk het te midde van die Covid-19-pandemie.

Die verslag toon dat sowat 310 000 toestelle in Suid-Afrika op 18 Maart onder kuberkrakers deurgeloop het.

“Dit skep ’n perfekte tsoenami vir kubermisdadigers,” het Martin Butler, senior lektor in digitale transformasie aan die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool, gesê.

Volgens Butler toon soortgelyke verslae van reg oor die globale kubersekuriteitsbedryf buitengewoon hoë vlakke van kuberkraking sedert die uitbreek van die pandemie. Hy meen maatskappye behoort nou toe te sien dat die “digitale ekwivalent van hande was, gesigsmaskers, sosiale afstand en ontsmetting” op elektroniese toestelle toegepas word.

“Dit is die perfekte tyd vir kubermisdadigers om angstige verbruikers te kry om op ’n indringerware (malware)-skakel te klik. Dié gebruikers beskik gewoonlik nie oor baie tegniese vaardighede nie en wil bloot die jongste nuus oor Covid-19 opsoek,” sê Butler.

Butler verduidelik dat die risiko bestaan dat kubermisdadigers verskillende wagwoordkombinasies probeer om toegang tot korporatiewe stelsels via individuele gebruikersrekeninge te kry. Volgens Butler is dit van die uiterste belang dat ondernemings geënkripteerde kommunikasie soos virtuele private netwerke (VPN’s) implementeer.

“Dit is onvoldoende om te verseker dat die maatskappybeleid toegepas word op die korporatiewe skootrekenaar wat ’n tuisnetwerk met veelvuldige toestelle, soos onder andere selfone, deel,” verduidelik hy.

Volgens Butler kan toestelle op ’n onveilige tuisnetwerk maklik aangeval word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.