Kuberveiligheid noodsaaklik vir boere

Carey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van ESET Suidelike Afrika, sê tegnologie het produktiwiteit en doeltreffendheid in die landboubedryf verbeter.

In ʼn wêreld toenemend afhanklik van digitale tegnologie bedreig die landbousektor se kwesbaarheid vir kuberaanvalle individuele landbouondernemings én hou dit ʼn gevaar in vir nasionale voedselsekerheid.

Dít maak robuuste kuberveiligheidsmaatreëls uitermate belangrik.

Luidens ʼn verslag wat in 2023 uitgereik en op DefenceWeb gepublieer is, lê Suid-Afrika vyfde wêreldwyd op ʼn lys van lande wat die ergste deur kubermisdaad geraak word. Ontwrigtings in Transnet se IT-apps ná ʼn kuberaanval het landbou-invoer en -uitvoere in Julie byna tot stilstand gebring.

Casey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van die antivirus-sagteware maatskappy ESET, sê tegnologie het produktiwiteit, doeltreffendheid en kommunikasie in elke bedryf wêreldwyd verbeter en landbou is geen uitsondering nie.

“Eens beskou as ʼn tradisioneel lae-tegnologie bedryf, beteken die toenemende gebruik van e-pos, aanlyn moniteringgereedskap, afstandbeheerders en betalingstelsels, tesame met outomatiese slim boerderytoerusting en internet-gekoppelde trekkers, dat die digitale bedreigingsvlak vir boere toegeneem het,” sê sy.

Die 2023-verslag dui aan die koers van Suid-Afrika se kuberveiligheid het van 2021 en 2022 met 7,8% toegeneem, wat gelei het tot die land se vyfdeplekplasing, in vergelyking met die sesde plek ʼn jaar tevore.

Luidens die verslag was kuberstrikroof in 2022 die algemeenste kubermisdaad ter wêreld, terwyl beleggingsbedrog die grootste finansiële verwoesting gesaai het, het die kuberveiligheidsonderneming Surfshark gesê.

Groter afhanklikheid van tegnologie skep groter risiko

Van Vlaanderen sê soos in talle ander bedrywe wêreldwyd die geval is, beteken ʼn groeiende afhanklikheid van aanlyn en gekoppelde tegnologieë dat ondernemings meer kwesbaar is vir kuberaanvalle.

Argieffoto

“Die gebruik van slimtoestelle, wat insluit sensors en analise, IoT-toestelle (toestelle wat data met ander toestelle en stelsels op die internet of ander kommunikasienetwerke kan koppel en uitruil), robotika, hommeltuie en presisieboerdery, het die landboulandskap ten goede verander.”

Sy sê dié instrumente versamel ook uitgebreide hoeveelhede sensitiewe inligting wat winsgewend kan wees vir misdadigers wat dit wil uitbuit.

Die bedreiging is egter beslis nie eie aan Suid-Afrika nie. ʼn Verslag van die Universiteit van Cambridge het bevind kuberkrakers kan slim boerderytegnologie, soos outomatiese gewasspuite en robotiese stropers, teiken. Boonop neem die waarskynlikheid daarvan toe.

“Kubermisdadigers is deeglik bewus van die wêreldwye afhanklikheid van voedsel en landbou as ʼn geleentheid om die bedryf deur kuberaanvalle te teiken – óf vir finansiële gewin deur lospryse te eis, óf vir sosiale en ekonomiese ontwrigting.

Gyselware-aanvalle kan veral kwaadwillig wees, byvoorbeeld deur rugsteun uit te vee of om te dreig om vertroulike inligting aanlyn te publiseer, as strategie om ʼn organisasie te dwing om ʼn losprys te betaal, met min risiko vir die kubermisdadigers om gevang te word.

“Deesdae gebruik bykans elke boer en landbou-onderneming ʼn sekere vorm van tegnologie om sake te doen.”

Beskerm kuberdata só

Die landboubedryf het histories laevlak-sekuriteit gehandhaaf omdat aanvalle nie beskou word as so volop soos in byvoorbeeld die finansiële sektor nie. Daar is dus ʼn mite in sommige boerderykringe dat hul ondernemings eenvoudig nie ʼn aantreklike teiken vir kubermisdadigers is nie.

Van Vlaanderen sê egter gegewe die groot hoeveelhede data inherent aan baie landboubedrywighede, asook die aansienlike finansiële transaksies betrokke, is ʼn pro-aktiewe benadering tot digitale sekuriteit verkieslik, gegewe die gesofistikeerde aard van kuberbedreigings.

Hoewel die hantering van kuberveiligheiduitdagings kompleks kan wees, kan landboumaatskappye stappe doen om hul blootstelling en skade weens ʼn aanval te beperk en hul werknemers te posisioneer as die eerste linie van verdediging.

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Om kritieke infrastruktuur wat kwesbaar is vir aanvalle te identifiseer, is ʼn noodsaaklike eerste stap in die versterking van verdediging. Dit sal van onderneming tot onderneming verskil, afhangend van hul behoefte.

Om toestelle te versterk is om te identifiseer waar kritieke infrastruktuur weerloos is vir aanvalle.

Van Vlaanderen sê die boerderybedryf is noodsaaklik vir die wêreld se voedselbedryf en vereis die grootste beskerming teen kuberaanvalle.

“Van basiese beginsels, soos die implementering van wagwoordbestuurders en die gebruik van multifaktor-verifikasie, tot die gebruik van die jongste sekuriteitstegnologie om ʼn aanval op groot boerderydiensmaatskappye te weerstaan. Baie meer kan gedoen word om te verseker dat boere ondersteun word met die allerbeste kuberveiligheidstrategieë en -oplossings, ” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.