Kudde-immuniteit al hoe moeiliker

Minder as 10 miljoen Suid-Afrikaners is al teen Covid-19 ingeënt. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Weens nuwe variante van Covid-19, soos die Delta-variant wat tans dominant in Suid-Afrika is, gaan dit al hoe moeiliker word – en al hoe onwaarskynliker wees – om sogenaamde kudde-immuniteit te bereik.

Nietemin, sê prof. Hannelie Meyer, hoof van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Inenting en Immunisering (Savic), is dit belangrik om te verseker dat soveel as moontlik mense teen die koronavirus ingeënt word en dat met nie-farmaseutiese maatreëls soos die dra van maskers voortgegaan word.

Meyer was Woensdag deel van ʼn aanlyn paneelbespreking oor die veiligheid van Covid-19-enstowwe.

“Nes alle ander entstowwe, is die [Covid-19-]entstof nie 100% doeltreffend nie. Dit bied wel uitstekende beskerming teen hospitalisasie, ernstige siekte en dood, maar jy kan [die virus] steeds kry.”

Meyer sê meer as 96% van diegene wat teen die virus ingeënt word en daarna wel Covid-19 opdoen, ondervind net matige siekte. Slegs 1% van mense wat teen Covid-19 ingeënt word en daarna siek word, doen ‘n ernstige vorm van Covid-19 op, word in die hospitaal opgeneem, of sterf.

“Hoewel ons dalk nie kudde-immuniteit bereik nie, kan ons steeds vordering maak om mense en ons gesondheidsorgstelsel te beskerm,” sê Meyer.

Sy waarsku dat dit in hierdie stadium ook onduidelik is watter soort variante in die toekoms kan opduik, maar sê hoe meer mense ingeënt word, hoe laer is die kans dat die virus versprei, kan aanpas en nuwe variante na vore kan kom.

Daar was die afgelope ruk toenemende kommer oor sogenaamde entstof-huiwerigheid onder Suid-Afrikaners. In een van die jongste studies is bevind entstofaanvaarding in die algemeen het van 67% tot 72% toegeneem. Onder wit, volwasse Suid-Afrikaners het dit egter van 56% tot 52% afgeneem, terwyl dit van 69% tot 75% onder swart Suid-Afrikaners toegeneem het.

Volgens sommige kenners wantrou talle mense die regering en moet dié wantroue in kommunikasie oor mense se huiwering om die entstof te ontvang, gepak word. Gesondheidsverslaggewer Pontsho Pilane het aan die paneel gesê mense is huiwering om die regering se woord oor die veiligheid van die entstof te neem, terwyl basiese beloftes oor byvoorbeeld dienslewering nie eens nagekom word nie.

Sowat 18 maande na die uitbreking van die pandemie in Suid-Afrika, is sowat 9,3 miljoen Suid-Afrikaners teen die koronavirus ingeënt en uit dié getal is sowat 2 000 nadelige voorvalle na inenting ( bekend as “adverse event following immunisation”) – dit is sowat 0,02% – ná die toediening van die entstof aangemeld.

Meyer sê die gevare wat mense bangmaak en die gevare wat uiteindelik mense se dood veroorsaak, kan beduidend verskil en dat dit afhang van hoe mense hul gesondheidsrisiko’s opweeg.

“Die werklike gevaar om aan Covid-19 te sterf is tans die kommerwekkende risiko,” sê Meyer.

Sy het ook ʼn beroep op mense gedoen om enige negatiewe voorvalle ná die toediening van die entstof aan te meld sodat behoorlike ondersoek ingestel kan word na of dit deur die entstof of enige ander faktor veroorsaak is.

Meyer sê op dié manier word verseker die entstof is veilig.

Die algemeenste newe-effekte is nie ernstig nie en sluit in kopseer, koors en pyn op die plek waar die entstof toegedien is. Minder as 10% van mense wat die entstof ontvang, ondervind enige van dié simptome, terwyl minder as 1% van mense “skaars” en minder as 0,01% van mense “baie skaars” newe-effekte ondervind.

ʼn Anafilaktiese reaksie word volgens Meyer in sowat een uit ʼn miljoen gevalle ondervind. “Dit is baie skaars voorvalle en hoewel dit ernstig is, kan dit steeds bestuur word.”

Om dié rede bly pasiënte 15 minute nadat hulle die entstof ontvang het by die entstofsentrum sodat hulle dopgehou kan word.

*Hierdie berig is gewysig sedert dit oorspronklik gepubliseer is. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.