Kuga-brandgevaar vat opnuut vlam

ford-kuga

‘n Ford Kuga. Foto: Ford Vehicles Burning Facebook-groep.

Ford SA het Dinsdag die luukse Kuga-sportnutsvoertuig vir die derde keer herroep ná ʼn brandrisiko betreffende die isolering naby die voorste sitplekgordels geïdentifiseer is.

“Daar is ʼn risiko dat die isoleringsmateriaal om die meganisme wat die voorste sitplekgordel laat stywer trek, kan vlam vat as dit geaktiveer word in ʼn trompop botsing,” het die motorreus in ʼn e-pos aan Kuga-eienaars geskryf. Die meganisme is glo juis ʼn noodfunksie wat die bestuurder en voorste passasier moet beskerm in die geval van ʼn ongeluk deur die sitplekgordel stywer te trek.

Dit blyk nou dat minstens 7 000 Kuga-voertuie deur die jongste veiligheidsherroeping in Suid-Afrika geraak sal word. Alle Kuga-modelle wat tussen Julie 2012 en Junie 2014 in Ford se Velencia-fabriek in Spanje gebou is, word herroep, ongeag die motor se enjinmodel.

Ford moes in Januarie vanjaar 4 556 Kuga 1.6 liter-Ecoboost-sportnutsvoertuie herroep. Die tweede fase van die Kuga-herroeping het in Julie afgeskop waartydens ʼn sensor in dié motors geïnstalleer word om die bestuurder te waarsku as die verkoelingsvloeistof se vlakke daal.

In Maart is daar ook besluit om die Ford Fiesta ST met die 1.6 liter-GTDi-enjin om veiligheidsredes te herroep omdat daar ʼn probleem met die verkoelingstelsel is, wat veroorsaak dat die enjin oorverhit wat die silinderkop laat kraak. Die gekraakte silinderkop kan tot ʼn olielekkasie lei, wat op die warm enjinoppervlak kan vlam vat. Dit is vermoedelik dieselfde probleem wat die brande in die Kuga-voertuie veroorsaak het. Volgens Ford SA is ongeveer 1 078 modelle hierdeur geraak.

In Junie vanjaar het Ford SA nog ʼn herroeping op die intreevlak-Figo- en Ikon-modelle vrywillig as voorsorgmaatreël gedoen om ʼn hoëdrukpyp in die kragstuurstelsel, wat maklik kan bars, te vervang. Minesh Bhagaloo, woordvoerder van Ford SA, het vroeër aan Maroela Media verduidelik die lekkasie op die pyp kan dampe in die enjinruim veroorsaak en as dit in aanraking met die uitlaatstelsel se komponente kom, rook dit en kan in “uiterste gevalle” selfs tot ʼn brand in die voertuie lei.

Ford is tot dusver skerp gekritiseer vir die manier waarop die maatskappy die probleme met die Kuga hanteer het.

Die motorreus het in sy e-pos Kuga-eienaars versoek om hulle naaste handelaar te gaan spreek.

“Van die voertuie wat nou geraak word, word ook deur die tweede fase van die Kuga 1.6 liter-modelle se herroeping geraak. Klante wat nog hulle motors vir die tweede fase moet inbring, kan die jongste probleem gelyktydig laat herstel,” het Ford SA gesê.

  • Klante kan Ford se hulplyn by 0800 204 688 of 012 843 5824 skakel of ʼn e-pos na [email protected] stuur.
  • Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Hennie ·

Ja nee Ford het nou n groot knou weg met al die voertuie wat hulle terug roep. Ek was altyd n ford fan gewees maar sal nie my familie se veiligheid in een van hulle voertuie waag nie. Hoekom het hulle nie al die probleme uit gesort voordat hulle die voertuie begin bemark het nie?

Lientjie ·

Ford verkoop nog soos soet koek. Hulle moet maar hulle aanleg skuif Brandfort toe in die Vrystaat.

Lou ·

Ek stem saam met Hennie. Ek is van mening dis omdat die goed te tegnologies gevorderd raak. Ek kannie onthou dat die motors van ouds sommer so aan die brand geslaan het nie. Behalwe Beetles as die die fanbelt breek….:) Ek verkies nogsteeds “old-school”……

Grassie ·

Lou – die ouer modelle Kewers se agterse sitplek het ook soms aan die brand geslaan. Die battery het onder die sitplek gesit en as die sitplek oud word en ‘n lywige ou sit agter in raak die staalvere in die sitplek aan die batteryterminale en die vonke steek die stoffering aan die brand. Dit is nogal ‘n konsternasie vir die ou. As hy agterkom die sitplek is onder sy sitvlak aan die brand wil hy vining uitkom maar ‘n Volla het mos nie agterdeure gehad nie. Hy moes eers die ou voor hom oortuig om stil te hou en uit te klim sodat hy die sitplek vorentoe kan skuif om uit te kom.
Ek is jammer dat die Kuga daardie probleem opgetel het. Ek is nie ‘n Ford-entoesias nie maar die Kuga is regtig ‘n mooi voertuig.

johnny_walker ·

Ford herroep ,baie ander maatskappye bly net stil , en betaal jare later n klein boete
ten minste Ford behou hulle integriteit , enigiemand kan n fout maak , dit vat n maatskappy met karakter om sy fout reg te stel

Theo Visser ·

Mense het kort geheue.Kort kort word produkte van ander vervaardigers ook terug geroep.In my mening word motors te gekompliseerd,maar dit is sal nie verander nie.Ek bestuur al 50 jaar en glo dat motors al beter word.Ongelukkig is daar ‘n waar gesegde:you cannot uninvent something .Tegnologie is hier om te bly.

zack ·

Johnny Walker. Ek stem saam met jou. Gaan google ” Toyota recall fine” Toyota het $1.2 Billion fine betaal na hulle weggehardloop en still gebly het.
Ford doen die regte ding. Maak reg wat verkeerd is want ons in SA betaal baie duur vir ons voertuie in vergelyking met die reg van die wereld.

Juffie ·

Spanje? ! Treurige land wat sulke swak fabrikasies uitbring – ‘n mens toets mos ‘n produk voordat jy dit bemark!

Lientjie ·

Ongelukkig gebeur sulke goed maar. Ek werk ook vir ‘n handelaar en daar word gereeld voertuie van ALLE brand daagliks HERROEP!

Francois ·

Ek ry ‘n Ford Ranger T6 3.2 xlt d/c en het ook al probleme gehad met die verkoelingstelsel. So erg dat ek enjin skade gekry het.
Ford se net die voertuig is uit sy waarborg uit nie hul probleem nie. Met wie kan ek gesels?
Dis swak vervaardiging en onskuldige kliente betaal die prys.

Peet Schabort ·

Nee-wat Eish, ek het my Ford Ikon 1300 van R85000 behou en ontslae geraak van my Corolla Exclusive D-4D van R223000. Nog nie een dag spyt gewees al is daar nie eens ‘n kattebaklig of lugversorging in die Ikon.

Johann ·

O FFFFFFonna. Lyk my daars FFFFFout by FFFFFFFord? Wat van n rooksein alarm en roof mounted sprinkler stelsel in bou?

Rooibok ·

Ek het gedink dat Ford’s word in Brandfort gemaak …….

Johann van Staden ·

Ek is nie, was nog nooit nie, en sal nooit ooit n Ford “fan” wees nie…!

Jacques Venter ·

Spaanse karre wat aan die brandslaan
Spaanse treine wat nie opons spore pas nie
Spaanse bulle wat nie goed is vir stiergvegte nie?
Wat gaan ons nog van Spanje kry?

anton ·

Nooit n Ford vir my nie dankie!
Was mos maar nog altyd bekend as n rook en kook.
As hulle nie begin rook nie dan kook hulle……. deesdae kom ”brand” ook by asof die res nie genoeg is nie.
Enigste redelike Fords was die eerste ou Cortina bakkies en die Ford Escorts.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.