Kuga: Eienaars gewaarsku oor slenter; nog ’n brandvideo sien die lig

'n Skermskoot uit die video wat die 2 Januarie in die Hermanus-omgewing geneem is.

‘n Skermskoot uit die video wat die 2 Januarie in die Hermanus-omgewing geneem is.

Eienaars van die Ford Kuga wat vroeër vandeesweek herroep is, is gewaarsku om nie vir ʼn slenter te val waarin iemand maak asof hy namens Ford die motor kom oplaai om dit na ʼn handelaar te neem nie.

Die Suid-Afrikaanse Versekeringmisdaadburo (SAICB) het Woensdag ʼn waarskuwing aan die polisie en versekeringsmaatskappye uitgereik, nadat Tracker SA Dinsdag daarin kon geslaag om ʼn Kuga in Gauteng op te spoor wat amper in die slenter gebuit is.

“Iemand het die vrou geskakel en reëlings getref om haar Kuga op te laai. Sy het onraad vermoed nadat hulle met die motor weg is en het dadelik haar opsporingsmaatskappy geskakel. Ons is nie bewus van enige ander voorvalle nie,” het Garth de Klerk, uitvoerende hoof van SAICB, gesê.

De Klerk sê hierdie is nie die eerste slenter van hierdie soort nie en hy glo sindikate volg herroepings omdat dit al voorheen ook gebeur het toe ander motorfabrikate in Suid-Afrika herroep is.

“Indien iemand jou bel om jou motor te kom haal, is dit beter om direk met jou naaste handelaar te skakel. Moenie die telefoonnommer gebruik wat hulle aan jou verskaf nie, bel die handelaar direk,” het hy gewaarsku.

Minesh Bhagaloo, ʼn woordvoerder van Ford SA, het bevestig Kuga-eienaars moet self hulle motors na die naaste Ford-handelaar neem. Die motoreienaars sal ʼn huurmotor kry terwyl die Kuga die nodige herstelwerk ondergaan.

“Indien klante nog nie self hul motors ingebring het nie, sal ons ʼn brief, e-pos of SMS aan hulle stuur waarin ons hulle versoek om hul Kuga’s vir ons te bring. Ons het ook ʼn sosialemediaveldtog om Kuga-eienaars in kennis te stel van die herroeping,” het Bhagaloo gesê.

Hy sê Ford SA sal onder geen omstandighede ʼn Kuga by ʼn eienaar kom haal nie. Hy het ook aanbeveel dat motoreienaars direk met die handelaar skakel om te verseker hulle werk met ʼn personeellid van Ford.

Intussen het nog ʼn video van ʼn Kuga, wat op 2 Januarie in die Hermanus-omgewing uitgebrand het, gister die ronde op sosiale media begin doen.

“Ons was op pad terug van Hermanus na Kaapstad toe ons sien iets brand. My vriend het die video geneem, want ek het bestuur. Die oomblik wat ons verby gery het, het ʼn waterbottel of ʼn band op die Kuga gebars en ons het dit op video vasgelê.

“Die arme gesin was regtig ontsteld, maar gelukkig was daar reeds verkeerspolisie en nooddienste op die toneel,” het Devan Swanepoel, wat die video oorspronklik gedeel het, gesê.

“Ek het gedink ek sal die video maar deel, aangesien dit nou so ʼn aktuele saak is, maar ek kry eintlik vir Ford jammer, ek dink hulle probeer om hul brouwerk reg te stel.”

Maroela Media het intussen by die brandweerdiens van Nelspruit bevestig dat die motor wat gister voor die Mediclinic-hospitaal uitgebrand het, wel ʼn Ford Figo was.

  • Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die Ford Kuga.

Seeing that the Ford Kuga is currently a hot topic…???? Here's one exploding right next to us!#nuts

Posted by Dévan Swanepoel on Wednesday, January 18, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jaques ·

Karma, so dan moet Toyota net so sleg wees, wat net nou die dag nog het hulle gesit met Fotunas wat sommer vir die lekker omdop en rol, en toe ‘n ander maatskappy die probleem gehad het met lugsakke wat ontplooi terwyl gery word, ens ens
Alle voertuig maatskappye word gedruk om beter met minder uitlaatgasse en groene te word, natuurlik gaan daar “oepsies” kom. Toetse op bane en paaie voor ‘n voertuig in massa produksie ingaan lewer net soveel data.
As die eienaars net die eerste geluister het to Ford hulle begin kontak het, ja Forn het AL die eienaars gekontak met die “probleem” voertuie, dan sou meer as die helfde van die brandene voertuie nooit gebeur het nie.

Sandra ·

FORD is die afkorting vir – Foute Oral Reparasies Daagliks , onthou ek uit my kinderdae!

Justice ·

Daardie motordief se ore gaan warm geklap word wanneer hy by die sindikaat arriveer met `n Ford Kuga.

Nico ·

Behalwe as hulle dit wil gebruik om ‘n kitsbank op te skiet.

Riaan ·

Mooi een Justice het nou lekker gelag .Het juis gister vir my vrou gese sy is so hot soos n Kuga

Chris Ws ·

Ford SA se probleem is baie groter as wat hulle wil erken.Dieselfde geld vir die talle Kuga eienaars in die land.Geskiedenis in die land se motor bedryf word gemaak.Ek voel regtig jammer vir Kuga eienaars en ook ander Ford eienaars want hul sit duidelik met ‘maatskappy wat NET in verkoop syfers belang stel.
Ek hoop die NVK gaan Ford en sy produkte nou onder ‘n vergrootglas plaas.

Ig ·

Ek ry maar met n pakkie marshmallows in my bakkie in geval ek dalk n Kuga op my pad kry

Louwrens ·

Het juis vandag n lelike paar vloekke gekry van n Kuga eienaar toe ek my marsmallow op n stokkie na sy kuga toe uitsteek.

John ·

Wat verwag jy waneer iemand n klein motortjie probeer warm maak om sterker krag te lewer as wat hy moet.

Tonginniekies ·

Iemand moet tog net vir Ford laat weet dat hulle nuwe manier van karre warmmaak nie lekker werk nie. Bly maar by dit wat hulle in die ou dae gedoen het. Breë tekkies, dreinpyp vir ‘n kezôs, rooi strepe op die bonnet en dan haal jy die lugfilter uit. (Of altans dis hoe hulle dit in sekere gedeeltes van Pretoria gedoen het.)

Ford Fan ·

Soos ek kan verstaan word die brande by die Kuga veroorsaak deur ‘n waterbottel wat kraak en oor ‘n tydperk leeg loop waarna die enjin oorverhit tot in so ‘n mate dat die “top” kraak en olie mors op die uitlaatstelsel. Die motor slaan dan aan die brand daarvan. Nou wonder ek hoekom Ford so aangevat word. Dit is duidelik dat hierdie persone nie die watervlakke van die voertuig gereeld na gegaan het nie en dat dit die hoof oorsaak was van die brande by die Ford Kuga.

Frans C ·

Die waterbottel sal net kraak as dit te warm word.Dit is dus duidelik dat as dit die geval is,die Ford Kuga te veel hitte onder die enjinkap opbou,want alle moderne voertuie het deesdae ‘n verkoelingstelsel wat nie nodig is om elke keer aan te vul nie.

Dalk moet Ford kyk om die ventilasie onder die enjinkap te verbeter sodat minder hitte opbou en lugvloei oor die enjin verbeter. Dit kan ek darem onthou uit die dae toe ek skaars droog agter die ore,met ‘n Ford met die ‘savage conversion’ ‘n 2 liter V4 Corsair GT ,rond gery het en tot ergenis van baie , bure uit die slaap gehou het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.