Kuga-saak: Video wys dít het nie tot brand gelei, getuig kenner  

John Loud wys die gebrande BCM vir die hof.

Die Amerikaanse deskundige wat namens Ford getuig, het die week sy getuienis in die geregtelike ondersoek na die dood van Reshall Jimmy in die Ford Kuga-sage voortgesit.

Ford se deskundige, die Amerikaanse ingenieur John Loud, het in sy getuienis in die Wes-Kaapse hooggeregshof verduidelik waarom die beheereenheid van die stelsels in die motor se bakwerk (body control unit of BCM) van Jimmy se Ford Kuga na sy mening nie die oorsaak vir die brand in die motor was nie.

Hy het sy getuienis begin deur die uitgebrande BCM vir die hof te wys en aangevoer dat die brand eerstens nie daarin begin het nie omdat die plastiekdrade daarin volgens hom sou smelt indien ’n vuur naby die BCM ontstaan het.

Loud kon egter nie presies sê wat dié spesifieke plastiekdrade se smeltpunt is nie.

Die motoronderstel wat Ford na die hof gebring as hulpmiddel vir hul deskundige getuies.

Hy het ook in die motoronderstel wat Ford na die hof gebring het as hulpmiddel vir hul deskundige getuies, uitgelig waar die BCM in die motor se raamwerk onder in die passasierskompartement is.

Hy het verduidelik dat die BCM bedek word met vlambare materiale en uitgewys dat dié materiale egter nie verbrand het in Jimmy se voertuig nie, wat volgens hom verder bewys dat die brand nie naby die BCM ontstaan het nie.

Loud het ook in sy getuienis verwys na skermskote van ’n video wat gemaak is van die brand en uitgewys dat die voorste venster aan die passasierskant en albei agterste vensters oop was toe die brand in Jimmy se motor begin het.

Loud het verduidelik dat die video wys hoe vlamme om 22:06 uit die bestuurder se toe venster uitgekom het, maar nie uit die passasierskant se venster wat ook oop was nie. Dus het die brand volgens Loud aan die regterkant van die motor begin en nie aan die linkerkant soos ander kenners in die saak al aangevoer het nie.

Hy het die bevindings van die ander kenners ook in sy getuienis betwis.

Adv. Andre Bezuidenhout vir Ford.

Loud het aangevoer hy het geen bewyse gevind dat ʼn kortsluiting in die beheereenheid plaasgevind of dat drade onder die BCM die brand begin het, soos wat die ander kenners bevind het nie. Hy het die twee kragdrade wat kenners meen die brand veroorsaak het teen mekaar getoets en volgens hom het niks gebeur nie.

Loud het ook verwys na die feit dat Jimmy se motorligte aan was vir ’n tyd nadat die brand ontstaan het soos waargeneem is in die video oor die voorval. Hy het ook daarop gewys dat die ligte van Jimmy se voertuig nie steeds aangeskakel sou wees as die vuur by die BCM ontstaan het nie, omdat die BCM die kragtoevoer na die ligte beheer.

Loud het ook getuig oor toetse wat hy gedoen het in Amerika om te bepaal of daar gevaarlike gasse deur die BCM vrygestel kon word wat Jimmy bewusteloos sou maak.

Regter Robert Henney wou weet wie vir Loud instruksies gegee het om hierdie spesifieke toets op die voertuie in Amerika te doen en waarom daar geen onafhanklike kenner of gesagsdraer teenwoordig was tydens die toetse nie. Loud het geantwoord dat Ford vir die toetse betaal het.

Loud het aangevoer dat indien die brandende BCM die brand veroorsaak het, die soort en hoeveelheid gasse wat vrygestel sou word nie ’n persoon bewusteloos sou maak nie. Hy voer aan dat die persoon dalk net ’n hoofpyn sou gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

liefie ·

Die kundige sal presies sê wat die verweerder wil hoor. As hy vir die eiser opgetree het dan was dit ‘n ander weergawe.

Leon ·

So Mr. Loud, waar het die brand begin. Jy is die ingenieur, vertel ons. Ford het baie om the verloor so hulle sal alles uithaal om te bewys dat die bestuurder aan die brand geraak het en nie die voertuig se swak vervaardiging nie. As dit Amerika was, het Ford nou sy deure toegemaak gehad.

Felix ·

Spontane ontbranding? … dalk is ‘n mannetjie uit die buitenste ruim die karnallie.

Gert van Wierdapark ·

Die Amerikaner SAL natuurlik met allerhande tegniese goed vorendag MOET kom om Ford se sakie te steun. Feit is, NIEMAND kan 100% bepaal wat met die spesifieke Kuga gebeur het nie! Vir my lyk dit amper soos n geval waar n ter dood veroordeelde self sy saak moet stel waarom hy nie in die elektriese stoel moet gaan sit nie!

Johan ·

Dus het al die Kugas sommer maar net aan die brand geslaan en almal stry oor waar dit ontstaan het. Feit bly staan dat al die Kugas ‘n fabrieksfout gehad het. Hierdie kant toe of daarnatoe, maar dit lyk asof Ford wil weghardloop van sy verantwoordelikheid.

SjN ·

Waar n rokie trek, iets ruim nie in die saak nie, mag die waarheid seevier.

Louis ·

Die gas , volgens Loud, was nie genoeg om iemand dood te maak nie. Het hy al ooit in n brandende motor gesit en dit getoets. Onthou Ford het betaal so hy moes hulle kant kies

anton ·

Stem saam met jou Johan.
En dis een van die redes, maar daar is n paar, waarom ek nooit n Ford sal koop en ry nie.
Al gee hulle my een verniet, sal ek hom inruil op n beter voertuig!

Vra net ·

Die bestuurder het nie dalk ‘n Samsung Galaxy Note 7 in sy sak gehad nie?

Siener ·

Dit wil voorkom of die Ford span hulle feite agter mekaar het. Feite word genoem waarop Gerrie span geen antwoorde het nie. Ek hoop geretigheid seevier. Sterkte aan die Ford span.

Poot ·

En nou is die Loud sommer n spesialis in die medici ook. Mens sal net n hoofpyn kry van die gasse. Lagwekkend.

Boerboel ·

Hoekoem het Ford SA al die Kugas terug geroep Nadat daar n paar self begin brand het? Ek het mense geken wat een besit het en moes dit na Ford neem . Volgens die tegnikus was daar n’ problem met oorverhitting en dan spuit olie iewers uit wat dan deur die warm enjin blok aan die brand gesteek word. Weet nie hoe waar dit is nie. Of iets met die verkoeling van die Enjin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.