Kuier in Nagkantoor – Anna Neethling-Pohl se besonderse nalatenskap

Anna Neethling-Pohl (Foto: Neville Petersen)

Anna Neethling-Pohl was waarlik die grande dame van die Afrikaanse teaterbedryf oor baie dekades. Prof. Anna, soos haar studente haar genoem het, maar Ta’ Anna vir dié vir wie sy die troetelnaam jaloers toegelaat het. Haar voetspore in die Afrikaanse teaterbedryf, lê diep en wyd. Sy het immers byna in die teater grootgeword. Daarby was sy ook vir lank ʼn radio-omroeper, stemkunstenaar, regisseur van radiodramas en hoorbeelde en organiseerder van vroue-, kleuter- en jeugprogramme. Die bydrae wat sy op akademiese gebied gelewer het, met die opleiding van talle van ons beste akteurs en aktrises, was ook besonders gewees. Mense soos Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo, Katinka Heyns, George Ballot en Lerina Erasmus het almal by haar die fynere kunsies van akteurwees geleer. Prof. Anna was waarlik groter as die lewe en het enigiets wat sy aangepak het, met totale oorgawe gedoen.

Op 22 Augustus plaas De Wet Potgieter ʼn foto wat deur Neville Petersen geneem is op Nagkantoor. Gou gesels almal saam oor hulle herinneringe aan prof. Anna. Dit is duidelik dat sy nie nonsens geduld het nie.

Tobie Cronjé onthou haar meesterlike skietgeveg

“Natuurlik onthou ek hoe moeilik sy met tye kon wees,” sê Tobie. “Ons as eerstejaars was almal baie skrikkerig vir haar, maar in dieselfde asem moet ek byvoeg dat sy formidabel was. Sy het ʼn ongelooflike passie en liefde vir die teater gehad, ʼn vreemde soort liefde wat uit haar gestraal het. Prof. Anna was ʼn wonderlike inspirasie.

“By Pretoria se Universiteitskampus, het die Waterklooflughawe se lugmagvliegtuie gereeld oor die lesingslokale gevlieg en ʼn vreeslike lawaai gemaak. Wanneer die vliegtuie oorkom, moes die dosent ophou praat en wag dat die lawaai eers ophou. In my eerste jaar was prof. Anna op ʼn dag besig met ʼn lesing, juis oor komedie. Die volgende oomblik het ʼn jet oorgevlieg. Sy het stilgebly en geduldig gewag vir die klank om verby te trek. Die vliegtuig is nog ʼn paar keer oor. Steeds was sy geduldig, al het sy teen die derde verbyvlug ʼn diep sug gegee. Toe die jet die vierde keer verby vlieg, pluk sy ʼn denkbeeldige masjiengeweer uit en sy skiet daai vliegtuig – tatatatatatata! – van daar uit die klas uit. Ek onthou sy het sulke pragtige lang amber-oorbelle gedra wat so woes rondgeswaai het terwyl sy die skietgeveg gedemonstreer het. Ons het omtrent op die grond rondgekruip soos ons gelag het. Dit was op die ou end ʼn wonderlike les in komedie,” lag Tobie.

Sandra Prinsloo se huiswerker

Sandra Prinsloo (Foto: Verskaf)

In 2012, met die twintigjarige herdenking van die dood van hierdie groot pionier, het Schalk Schoombie ʼn verhoogteks, Liefde, Anna geskryf. In hierdie drama het Sandra Prinsloo die naamrol van haar eertydse mentor gespeel. Dit was ʼn aangrypende produksie wat gefokus het op hoogtepunte, maar ook swaarkry en uitdagings in Neethling-Pohl se lewe.

Sandra glimlag wanneer sy aan haar dae as student terugdink. Sy vertel dat die koeksisterrol, wat ʼn handelsmerk van prof. Anna was, nogal tot konsternasie gelei het. Prof. Anna wou immers hê al haar studente moes hierdie praktiese haarstyl, wat die hare uit jou oë en gesig hou, dra. Maar nou ja, sy kon nie een van haar jong studente kry om daartoe in te stem nie.

“Anna was iemand wat dinge met ʼn groot gebaar gedoen het,” sê Sandra. Sy was dalk moeilik, maar sy was passievol. Passievol oor kultuur, die teater, digkuns en Afrikaans. Terwyl ek een van haar studente was, het sy daarop aangedring dat sy prof. Pohl is maar toe ek ʼn paar jaar later die kans kry om ʼn verhoog met haar te deel, het sy gesê dat ons haar maar Ta’ Anna mag noem.”

Sandra het in 1972 die titelrol in die Friedrich Schiller stuk, Maria Stuart, gespeel. In hierdie produksie was Wilna Snyman in die rol van Elizabeth 1 te sien, en Neethling-Pohl was die lyfbediende van Maria Stuart.

Sandra lag lekker wanneer sy hierdie staaltjie vertel. “Sy het die oggend by die eerste repetisie ingestap en gesê: ‘Juffrou Prinsloo, ek is so bly om u bediende te speel.’ Net daar het ek geweet hier gaan nog dinge gebeur, en dit het ook. Ek dink tog dit was dalk so effense bitter pil vir haar gewees, maar tog was sy heeltemal ondersteunend. In die toneel waar my karakter na die skavot stap en huilend ʼn gebed moes opsê, het sy onverwags nader gestaan. Iewers uit haar boesem het sy ʼn groot sakdoek gehaal en my oë afgevee. ‘ʼn Koningin huil nie,’ het sy vir my gesê. Dit was glad nie in die teks nie, maar ta’ Anna het gevoel dit hoort daar. Dit was presies hoe sy was. Sy het ook die doek waarmee my karakter geblinddoek is, self met haar eie hande geborduur en vir my gegee. Dit is kosbare herinneringe wat ek koester.”

Vir Sandra lê Neethling-Pohl se grootste nalatenskap in die besonderse vertalings wat sy van Shakespeare gemaak het. Sommige van sy toneelstukke, maar ook van al sy sonnette.

Sandra lag en sê terwyl sy studeer het, het prof. Anna haar eendag raakgeloop aan die sy van ʼn rugbyspeler. “Sy het my op en af gekyk: ‘Juffrou Prinsloo, moenie dat ek drie jaar van my tyd op jou mors en dan gaan staan en trou jy nie,’ het sy vir my gesê. Dit het gelukkig darem nie gebeur nie, en uiteindelik was ek ook een van ʼn handjievol studente wat honneursklasse by haar gehad  het. Die oggend 11:00, wanneer ons klaar was met die klas, het sy vir ons pepermenttee met ʼn titseltjie gin daarin gee. Ai, sy was uniek al kon sy jou soms tot raserny dryf!”

‘Vorentoe en agtertoe, meneer du Toit!’

Jannie du Toit in sy jonger dae

Een van ons land se deurwinterde sangers, Jannie du Toit, vertel ook graag van die tydperk toe sy pad met die van prof. Anna gekruis het. Dit het ʼn onuitwisbare indruk op hom, en sy kunstenaarskap, gelaat, sê hy.

In 1981 is Jannie deur die Universiteit van Pretoria se Kultuurburo aangestel om ʼn musiekgroep te begin. Dit was in dieselfde tyd wat hy sy musiekaande in Margaretha Straat begin het, waar kunstenaars soos Koos du Plessis en Lucas Maree ook kom sing het. Die musiek- en liriek-beweging, wat Afrikaanse musiek totaal verander het, was goed op dreef. Vir Jannie was hierdie ʼn heerlike geleentheid en sy heel eerste program is genoem Luister na die liedjies en dit het vir twee jaar gespeel en die studente het daarmee na verskillende dele van Suid-Afrika gereis. Jannie vertel dat hy met een van hierdie konserte ʼn onverwagse besoeker gekry het wat hom, na afloop van die konsert, wou sien.

“Die aand het prof. Anna voor my kom staan: ‘Meneer du Toit,’ het sy ewe formeel gesê, ‘ek is beïndruk met u werk’. Jislaaik Prof, baie dankie, ek waardeer dit, was my antwoord. Sy was egter nog nie klaar nie. ‘Weet u wat u moet doen?’ was haar volgende woorde aan my. Ek het maar net gesê dat ek nie weet nie en toe het sy gesê: ‘U moet ʼn musiekblyspel in Afrikaans skryf’. Onmiddellik het ek besef dit is iets waaraan ek al baie lankal dink. ʼn Mens het immers grootgeword met musiekblyspele soos Sound of Music, Oliver, maar uiteindelik was daar ook Jesus Christ Superstar. Alles oor die hele spektrum van musiek.

Anna Neethling-Pohl (Foto verskaf deur Jannie du Toit)

“Prof Anna het daardie aand egter nog nie klaar gepraat nie. ‘Meneer du Toit, weet u wat dit sal wees?’ Weer het ek maar net my kop geskud. ‘Dit sal Loeloeraai van Langenhoven wees,’ het sy gesê. Wat ek nie onmiddellik geweet het nie, is dat Loeloeraai natuurlik die eerste ruimtefiksie was wat in Afrikaans geskryf is. Voeg daarby Langenhoven se wonderlike taalgebruik, sy humor en lewenswysheid wat alles in daardie teks vervat is, en ek het besef dis die ideale bronmateriaal vir so ʼn Afrikaans musiekblyspel. Prof. Anna het aangebied om die regisseur te wees en sy sou ook die verhoogteks skryf. Ek kon nie vir veel beter gevra het nie,” sê Jannie.

Jannie vertel dat daar hard aan die werk gespring is om die musiekspel, Loeloeraai, gereed te kry. Sy eksvrou Ansa du Toit het as musikale regisseur opgetree. Hyself was verantwoordelik vir al die musikale verwerkings. Jannie lag en sê hy onthou die dag met die finale kleedrepetisie in die Aula so goed. Die beligtingsbord waarmee die beligting gedoen moes word in die teater, was heel indrukwekkend en het byna soos ʼn groot vliegtuig se instrumentebord gelyk. Die meisie wat in beheer was daarvan, het nog nooit voor so ʼn groot uitdaging te staan gekom, soos om die beligting vir ʼn hele musiekspel te doen nie. Sy het al die pad probeer doen wat die regisseur, prof. Anna gevra het, maar was kort-kort in trane omdat sy gevoel het sy skiet tekort. Prof. Anna se standaarde was immers hemelhoog. Teen 16:00 die middag het prof. Anna haar bene stewig ingeplant en opgekyk na die beligtingshokkie wat teen die een muur van die Aula sit. ‘Ek vra vir jou rooi, en ek vra vir jou blou, en ek vra vir jou groen, maar al wat jy vir my gee is khaki!’ het sy vir die beligtingsmeisie geroep.

Ook Jannie het daardie dag lelik deurgeloop. Hy het die rol van Langenhoven, of te wel dan Cerneels, in die musiekspel vertolk. Wanneer die ruimteman op die aarde land, loop almal vorentoe en stel hulleself een-een aan hom voor.

“Daardie dag het ek nog ʼn klomp verwerkings vir die orkes gegee wat voor die verhoog in die orkesput sit en speel. Ek was bekommerd oor die verstaanbaarheid van wat ek neergeskryf het en my volle aandag was dus nie op wat ek op die verhoog doen nie. Die regisseur se opdrag aan my was om vorentoe te loop, myself voor te stel, en dan weer terug te loop. Dan is dit die aktrise wat Cerneels se vrou speel wat volgende haarself voorstel en dieselfde doen. Daar was ʼn lang inleiding gewees en teen die tyd wat ons by die plek gekom het waar ek moet sing, was my aandag te veel by die orkes.

Anna Neethling-Pohl (Foto verskaf deur Jannie du Toit)

“Telkens het ek vergeet om vorentoe te staan. ‘Meneer du Toit,’ kom dit toe daar uit die gehoorsaal,  ‘Vorentoe, en agtertoe, vorentoe en agtertoe’. Ek het nederig om verskoning gevra en beloof om dit reg te kry. Dieselfde ding het toe weer ʼn keer gebeur, en selfs ʼn derde keer. Toe was haar geduld op. Sy het op die top punt van haar stem geskreeu: ‘Vorentoe en agtertoe, vorentoe en agtertoe’. Terselfdertyd het sy van onder waar sy langs die orkesput gestaan het, begin hardloop tot heel bo in die gehoorsaal. Sy was al in haar sewentigs, maar dit het haar nie gestuit nie. Die hele tyd het sy geskreeu: ‘Vorentoe en agtertoe!’ Toe sy heel bo kom het sy haarself in ʼn sitplek neergegooi, haar bene oor die sitplek voor haar gedrapeer en daar het sy steeds met haar voete geskop en geskreeu: ‘Vorentoe en agtertoe!’ Ek het dit nie weer vergeet nie,” lag Jannie.

In die twee jaar wat hy nou saam met haar gewerk het, het hy enorm baie by haar geleer. Tog, sê Jannie, dis belangrik om te onthou dat al was sy ʼn korrelkop, was sy ook iemand met ʼn omgeehart. Wanneer iemand in die woonstelblok waar sy gebly het ʼn kuggie gehad het, het sy opgedaag met bloekomolie, ʼn bekertjie sop en sy was altyd bereid om so te help. Sy het altyd gesê sy verkies dit dat ʼn resensent ʼn klipoog moet hê, maar ʼn sagte hart. Dit het ook haar menswees presies opgesom. Jy kan skerp kyk, maar jou hart moet altyd goedgunstig wees.

“Die laaste keer wat ek haar gesien het, was in Bloemfontein in ʼn hospitaal. Sy is ʼn week later dood. Dié middag het sy vir my en Ansa gevra om haar regop te help teen die kussings op. Terwyl ons haar so optrek, toe kla sy nog. Nie oor haar pyn nie, maar oor die ‘blessitse’ All Blacks wat die Springbokke gewen het. Haar liefde vir rugby, was immers ongekend.”

ʼn Wonderlike vriendskap oor baie jare

Wynand Claassen

Een van haar rugbyhelde, die oud-Springbok-kaptein Wynand Claassen, vertel ʼn mooi verhaal van ʼn wonderlike vriendskap wat oor die jare tussen hom en tant Anna, sy het hom toegelaat om haar so te noem, gegroei het. In 1969 was hy ʼn eerstejaar argitektuurstudent aan Tukkies. Die boukunde-gebou was reg langs die dramadepartement. Een dag het hy haar sien stap, en dadelik na haar toe geloop om haar handtekening te vra. Sy het ewe beleef vir hom gevra wie hy is, haar handtekening gegee, maar dit sou nie die laaste kontak tussen die twee wees nie.

“Tant Anna het ʼn geweldige, byna fanatiese belangstelling in rugby gehad en sy was Tuks-rugby se grootste ondersteuner. Sy het altyd onder die bome sit en kyk, selfs vir die vierde span en nie ʼn wedstryd gemis nie. Toe ek aangestel is as die kaptein van Tukkies se eerste span, het een van my afrigters my vertel prof. Neethling-Pohl soek my telefoonnommer en adres. Ek het saam met ʼn paar ander manne in ʼn kommune in Clydesdale naby Tukkies gebly. Die volgende wat ek sien, kry ek ʼn handgeskrewe brief van haar waarin sy my gelukwens met my aanstelling, en waarin sy my sterkte toewens vir die taak. Ek het teruggeskryf, en op daardie manier het ons wonderlike vriendskap begin. Een wat oor jare sou strek,” vertel Wynand.

Wynand Claassen in sy jonger dae

“Ek het in daardie jare so ʼn rooi Anglia met ʼn wit afslaankap gery. Dan het ek vir tant Anna gaan oplaai by haar woonstel in Villieria. Sy het gewoonlik gesê ek moet so ʼn bietjie vroeër kom sodat sy eers vir my rooibostee kon maak. Dit sou my glo krag gee. Sy het altyd vir my haar plakboeke gewys wat sy oor Tukkies-rugby saamgestel het. Sy het ook eenmaal ʼn geskeurde trui van my by Robert Denton, die sekretaris van die Noord-Transvaal Rugbyunie, gekry en dit aan ʼn hanger agter haar kamerdeur opgehang. So kon sy in die aande wanneer sy bid, na die trui kyk en ook vir ons rugbyspelers bid,” vertel Wynand.

In 1985 het hy sy biografie geskryf, More than just rugby. Al was die boek in Engels, het prof. Anna ʼn besonderse voorwoord in Afrikaans geskryf.

Een van die mooi stories waarvan almal nie weet nie, is juis die een hoe sy hand en tand baklei het om die historiese wesfassade van Kerkplein te laat bewaar.

“Hier in 1975 rond was daar groot polemiek toe die Transvaalse Provinsiale Administrasie die wesfassade van Kerkplein wou afbreek,” vertel Wynand. Sy het haar gewig ingegooi by die Simon van der Stel-stigting en sy het my opgekommandeer dat ek en my argitekklasmaats en sommer die rugbyspan ook, daardie Saterdag almal na Kerkplein moes gaan. Daar, langs Paul Kruger se standbeeld, het sy ʼn stalletjie gehad waar ons mense se handtekeninge moes insamel om te help om die stukkie geskiedenis te bewaar. Sy het ook gewaarsku dat indien hulle daar opdaag met stootskrapers, sal sy bloot in die pad van die stootskrapers gaan lê. Dankie tog dit het nooit sover gegaan nie, want ek weet sy sou woord by stuk gehou het. Vandag is dié stukkie geskiedenis bewaar vir die nageslag met die hulp van hierdie ikoon.”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Toe sy nog lang hare gehad het, het ek altyd my Tante Anna Slabbert onthou met haar bolla, onthou. Formidabele vroue, beide van hulle

Wildemien ·

Lekker om te lees! Toe formele aanspreekvorms nog ‘n ding was, briewe in suiwer Afrikaans geskryf is en Tukkies nog ‘n Kultuurburo gehad het.

Josef du Toit ·

Wat die artikel verswyg, is dat ANP ‘n oortuigde Boere-Afrikaner nasionalis was (soos so vele van haar mede-Graaff-Reinetters, met die skaamtelose uitsondering van Beyers Naudé), wat haar volk met murg en been lief gehad het, soos haar hartroerende vertolking van Die Stem met soveel oortuiging van getuig, sowel as die lyding wat sy saam met haar man moes beleef as lede van die Ossewa-Brandwag, onder die Smuts-regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.