Kuier in Nagkantoor: Busramp by Henley-on-Klip

Tragedie van skoolbus wat op treinspoor beland het

Johan le Roux

Wanneer ʼn mens op die R59 van Alberton na Vereeniging ry, kry jy die Johan le Roux-afrit by Meyerton. Menige motoris het seker al gewonder wie dié Johan le Roux dan nou is. Die mense van Meyerton ken almal die verhaal van die dapper Johan le Roux wat op 28 Januarie 1970 sy lewe in ʼn busongeluk verloor het. Maar eers het hy twee ander kinders, Petrus van der Walt en Willem Nel, van ʼn gewisse dood gered toe hy hulle by die bus se ruite uitgegooi het.

Op 19 Oktober vanjaar het Corné Stolz in ʼn skrywe op Nagkantoor sy herinneringe gedeel aan daardie busongeluk wat by ʼn spoorwegkruising naby Henley-on-Klip plaasgevind het. Laasgenoemde is ʼn klein rivierdorpie aangrensend aan Meyerton. Die skoolbus was daardie middag op pad van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton af en die kinders van Henley-on-Klip is eerste afgelaai. Die klompie kinders wat tydens die impak in die bus was, het in Daleside, ʼn spoorweggemeenskap naby aan Meyerton, gewoon. In sy plasing vertel Corné dat hy daardie tyd ʼn joernalis by Die Transvaler was, en dat die grutoneel en die dae daarna hom altyd sal bybly.

Wanneer ʼn mens van ʼn gruwelike ongeluk gesels waarin skoolkinders gesterf het, is die eerste wat genoem word die Westdene-busramp van 27 Maart 1985. Die Henley-on-Klip-busramp was byna twee dekades van tevore en in daardie ongeluk het 23 kinders hulle lewens verloor en 16 is beseer.

Henley-on-Klip, die rolprent

Marguelette Louw

In 2010, met die veertigjarige herdenking van hierdie tragedie, is die rolprent Henley-on-Klip vrygestel. Marguelette Louw het as regisseur aan die stuur van hierdie projek gestaan. Sy het pas klaar gestudeer aan die Universiteit van Johannesburg, maar die verhaal van Johan le Roux en die tragedie van daardie dag, was nog altyd nou verweef met haar eie lewe. Marguelette het in Meyerton grootgeword, was self ʼn leerling van Hoërskool Dr. Malan, maar wat haar veral van die gebeurtenis geboei het, was dat Johan le Roux en haar pa, Dawie Louw, besonder goeie vriende was. Vir hom was die dood van Le Roux ʼn reuseverlies wat hy nou, byna 52 jaar later, steeds nie kan vergeet nie.

Marguelette, wat deesdae een van die regisseurs by Binnelanders is, vertel dat sy kleintyd geweet het dat elke jaar op 28 Januarie word daar moeite gedoen om hierdie gebeurtenis te herdenk. “Ek het film- en televisiekunde studeer en in my vierde jaar wou ek ʼn kort herdenking oor die busramp doen as my honneursprojek. Toe ek begin navorsing doen, het ek agtergekom daar is weinig inligting beskikbaar oor hierdie busramp. Wat begin het as ʼn klein projek, het mettertyd net groter en groter geword. Na afloop van my studies het ek vir ʼn jaar by Binnelanders gaan werk, en toe bied hulle my ʼn pos aan om te kom klasgee by die Universiteit van Johannesburg. Ek het ingestem op die voorwaarde dat die universiteit my in hierdie projek sal ondersteun. Dit sou nou nie meer net ʼn kort herdenkingsprogram wees nie maar ʼn vollengte film,” sê sy.

Marguelette het een doel voor oë gehad: om elkeen wat sy of haar lewe daardie dag verloor het, te eer en om soveel as moontlik inligting oor die ramp beskikbaar te stel. Sy het ook besef dat sy nie elke liewe kind wat op die bus was se storie sou kon vertel nie, en het die vriendskap tussen Johan le Roux en Dawie Louw as hooffokus gekies. Sy het die toestemming van Johan se ma, tannie Stienie, en sy suster Marina gekry, wat baie nou saam met haar gewerk het om al die inligting te bekom. Verder het sy plakboeke met koerantberigte en foto’s deurgegaan, ou Huisgenoot-artikels opgespoor en met verskeie mense gaan praat wat in die bus was, maar dit oorleef het asook mense wat op die toneel was en meer inligting hieroor gehad het.

Nadat Marguelette al hope navorsing gedoen het, het sy uitgevind dat kykNET die Onthou-reeks maak waarin hulle terugkeer na ʼn hele paar tragedies wat in Suid-Afrika gebeur het. Ook na die Henley-on-Klip-busramp. Chris van Niekerk, wat die rol van die skoolhoof in haar fliek gespeel het, was ook die aanbieder van Onthou. Sy kon hulle help om by die regte mense uit te kom op dié voorwaarde dat hulle in hulle program melding sal maak van haar fliek, wat hulle wel gedoen het.

“As filmmaker hou ek van Suid-Afrikaanse stories en Henley-on-Klip was die begin van iets wat móés gebeur. Ons het soveel goedheid ontvang met die maak van die fliek. In een toneel skop die akteur wat Johan le Roux speel Dr. Malan se ou skoolbus se ruit uit. Ek het vir die akteurs gesê alles moet die eerste keer perfek verloop, want ons sal nie kans kry vir ʼn tweede keer nie. Die oomblik wat die bus se agterruit so deur die lug getrek het, het ek vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde gewonder waar ek die geld gaan kry om dit te vervang.

“Ons het die ou skoolbus uit daardie era goedgunstiglik by Hoërskool Dr. Malan geleen. Toe ek aan die ander kant van die bus kom, het iemand my voorgekeer en gesê ek moenie bekommer nie, hy gaan die nuwe ruit betaal. Die ander wonderlike ding wat uit die projek gekom het, is dat almal later op een of ander plek werk gekry het, juis weens hulle betrokkenheid by hierdie rolprent. Al is die kwaliteit ongelukkig nie van die beste nie weens verouderde kameratoerusting, is ek besonder trots hierop. Aan die einde van die film is daar ʼn naamlys van almal wat gesterf het. Ek glo dis ook ʼn waardige manier om seker te maak hulle word nie vergeet nie.”

ʼn Ouboet om na op te kyk

Marina le Roux en haar ma Stienie

Marina le Roux, die jonger suster van Johan le Roux, was nege jaar oud met die ongeluk. Sy het sommer altyd van die laerskool daar naby af huis toe geloop. Sy onthou dat die bure se seun by hulle huis aangehardloop gekom het om te vertel dat daar ʼn ongeluk was, en dat dit die bus was waarin Johan gery het.

“Dit het ʼn geweldige impak op ons familie gehad. My ouer broer Louis was reeds uit die huis en my klein boetie, Jannie, was nog eintlik te klein om te verstaan. Ek het my maar onttrek en baie in my kamer sit en lees. Ek onthou ook ons kon vir maande lank nie na die radio of enige musiek in die huis luister nie, juis omdat Johan so lief vir musiek was en altyd kitaar gespeel en gesing het. Hy sou die middag ná skool vir hom ʼn klankversterker gaan koop het en my ma het die oggend vroeg vir hom R10 gegee. Toe hulle sy besittings aan haar oorhandig, was die R10-noot nog in sy beursie. Sy wapen as hoofleier van die Voortrekkers wat hy daardie oggend in die saal van die hoërskool ontvang het, was ook nog aan sy baadjie vasgespeld,” sê Marina.

Wat sy tot vandag toe van hom onthou, is dat hy werklik onbaatsugtig was en altyd na haar en Jannie sou omsien wanneer haar ma haar siek pa in die hospitaal moes besoek of versorg. Johan het mense se harte aangeraak so ver soos wat hy gegaan het, en toe die nuus dat hy sy lewe opgeoffer het om ander kinders uit die wrak te red hulle bereik, het sy geweet dit was deel van sy menswees.

“Johan se liefde vir sy medemens was deel van wie hy was,” sê Marina. “Daar is baie dae wat ek wonder hoe dit sou gewees het as hy nie daardie dag gesterf het, maar dis nou maar een ding wat ʼn mens nooit mag doen nie. Ons berus in die wete dat sy onselfsugtige dade vir twee kinders ʼn tweede kans gebied het.”

‘Joernalistiek het my meer van die lewe geleer’

Elma Potgieter

Die aktrise Elma Potgieter was een van die verslaggewers wat op die noodlottige dag uitgestuur is na die ramptoneel om daaroor berig te doen. Elma het na afloop van haar studies vir ʼn bietjie meer as twee jaar by Die Transvaler gewerk. Sy vertel dat sy en die fotograaf, Jannie Herbst, die laaste was om uit Johannesburg te vertrek en toe hulle by die ramptoneel opdaag, was dit reeds opgeruim en die beseerdes en die liggame van die toneel verwyder. Een kant het ʼn vrou in ʼn verslete rokkie rondgedwaal. Hulle het met haar gesels en sy het haarself voorgestel as mev. Lotter. Die ma van Lenie en Ena Lotter wat albei op die bus was. Sy was verwese en het vir hulle gesê sy weet nie waar haar kinders is nie. Sy het ook nie vervoer na Vereeniging nie want haar man het by die huis gelê. Sy been is ʼn rukkie vantevore afgesit ná ʼn spoorwegongeluk.

“Ons het besluit om haar Vereeniging toe te neem. By die hospitaal was daar egter geen inskrywing van enige Lotter‑kind nie, en ons het geweet ons sal haar na die lykshuis moet neem. Ek was groen uit die universiteit, maar ek het besef ek sal die vrou moet ondersteun. By die lykshuis het die kinderlyke netjies langs mekaar op die sementvloer gelê. Daar was nie ooglopende beserings aan hulle nie, maar oneweredige rooi strepe wat onder die gesigvel lê. So asof iemand hulle hard geskud het. Mev. Lotter het op haar hurke afgesak langs een dogtertjie. Steeds het sy nie gehuil nie,” onthou Elma.

Nadat hulle haar teruggeneem het huis toe, en ook haar man in die spoorweghuisie op Daleside ontmoet het, is hulle terug na die kantoor in Johannesburg. Daar het Elma haar storie oor mev. Lotter begin skryf terwyl Johan sy foto’s gaan ontwikkel het. Uiteindelik het dit ʼn eg-menslike storie van verlies geword want mevrou Lotter het nie veel gesê nie. Elma kon bloot haar indrukke deel.

“My storie het uiteindelik nie in Die Transvaler verskyn nie. Tobie Boshoff wat die nuusredakteur van Beeld was, het die storie by Die Transvaler gekoop. Beeld was ʼn Sondagkoerant wat die voorloper van Rapport was. Ek onthou terwyl ek die storie getik het, het my trane vir die eerste keer gevloei. Ek was ontsteld om te sien dat ʼn mens so kan huil dat jou trane horisontaal spat. ʼn Ervaring soos hierdie het my ryker in lewenskennis gemaak. Ek is verskriklik bly dat ek vir ʼn rukkie joernalis was voordat ek as aktrise begin werk het. Uiteindelik het my mensekennis geweldig daarby gebaat. Ek sal hierdie insident nooit vergeet nie. Nie net oor dit my so diep geraak het nie, maar ook weens die feit dat ek daardie Sondag my eerste byline by ʼn storie in die koerant gekry het. By mevrou Lotter se storie in Beeld.”

Die dood van ʼn beste vriend

Dawie Louw

Dawie Louw was vir baie jare ʼn Afrikaans-onderwyser aan die skool waar hy gematrikuleer het: Hoërskool Dr. Malan in Meyerton. In sy eerste jaar op universiteit het hy die volgende gedig geskryf:

Johan le Roux

Wie sou dit ooit kon dink?

Dat jy getroue vriend so moes gaan.

Dat daardie korte busrit

Die laaste rit sou wees van jou lewensbaan.

 

Die bus, die trein, als was verby

Een enkel slag en dit was stil

Tog sou jy in hierdie korte oomblik

Red, gee, dis God se wil.

 

Jou kitaar het jou genot verskaf

Musiek was soos voedsel vir jou oor

Tog sou daardie laaste tromslag

Die eerste wees van sy soort wat jy sou hoor.

 

Ek wou so graag nog met jou praat

in benoudheid by jou staan.

Jou bedank vir vriendskap so opreg

My woorde het geword ʼn stille traan.

 

Jy het dit nie verwag getroue vriend

Die lewe is verby

Tog het God met daardie busrit,

jou die hemel in laat ry.

Dawie sê hy word ongemaklik wanneer mense na hom en Johan as boesemvriende verwys. Hulle was bloot goeie vriende wat gereeld bymekaar gekuier het, en saam musiek gemaak het. Hy onthou dat hy daardie Woensdagmiddag die tweede laaste periode in die biologieklas vir oulaas met Johan gesels het. Hy het vir Johan vertel dat hy effe depressief voel, maar nie weet hoekom nie. Toe die klok vir die laaste periode lui, het hulle mekaar gegroet en elkeen het na ʼn ander klas gegaan.

“Ons het naby die skool gebly en in die middae, wanneer ek huis toe stap, het Johan se bus altyd by my verby gery. Sy plek was heel agter in die bus en dan het ek vir hom gewaai. Ek was nie lank by die huis nie, toe lui die telefoon. Tannie Joan Brits het my gevra of my ma al by die huis was. My ma het ook een van die busse bestuur wat leerlinge huis toe geneem het. Sy het ook oor dieselfde kruising gery. Ek het by die venster uitgekyk en haar sien stilhou. Tannie Brits het my van die ongeluk vertel en ek het net daar uitgestorm en na een van ons onderwysers, mnr. Koos van Rensburg, se huis daar naby gehardloop. Toe ons op die toneel aankom, was die eerste ding wat ek gesien het dat die bus op die agterkant getref is en Johan het altyd heel agter gesit. Toe wéét ek,” onthou Dawie.

Vir hom was die heel ergste toe hulle die volgende dag ná die saalopening wat ook ʼn erediens was, moes klas toe gaan. Die oomblik toe hy op sy plek in die biologieklas gaan sit, het hulle ander vriend, André van Rooyen, ook op sy plek gaan sit. Meteens was die stoel tussen Dawie en André leeg. Hy onthou hoe hy net daar uit die klaskamer gestorm het, en net nie kon ophou huil nie. Dit was die eerste keer wat hy die finaliteit van die dood so intens besef het.

“Oom Koos Koekemoer wat die bus bestuur het, het ook ʼn paar huise van ons af gebly. Mense het hom agterna verwyt en beskuldig van allerlei dinge, maar dit was nie waar nie. Die pad oor die spoor was vol slaggate, en toe hy die bus laat vrek, kon hy dit net nie weer aan die gang kry nie. Agterna het hy vir almal gesê: ‘Ander mense het ʼn kind of kinders verloor. Ek het 23 verloor’. Henley-on-Klip se busramp het ʼn geweldig impak op die gemeenskap gehad. Ek dink as ʼn mens so ʼn insident so intens beleef, kyk jy nooit weer dieselfde na die lewe nie. Nóóit weer nie.”

Johan le Roux – ʼn ware kinderheld

Johan le Roux word vandag erken as een van Suid-Afrika se kinderhelde. Terwyl die bus op die spoorlyn gestaan het, het hy na voor gehardloop toe hy sien dat een seuntjie gesukkel het om by ʼn venster uit te kom. Hy het hom gehelp om uit te spring. Daarna het hy weer na die agterkant van die bus gehardloop waar hy die noodvenster uitgeskop het en nog ʼn seun by die venster uitgestamp het. Johan het na veiligheid gespring, maar die trein was reeds by die bus. Die trein het hom teen die elektriese paal langs die spoorlyn geslinger. Johan is op slag dood.

Hy het die “Woltemade Dekorasie vir Dapperheid vir Burgerlikes” postuum ontvang.

Hy is ook op 6 Oktober 1971 postuum vereer met die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga se “Erefakkel vir Dapperheid”.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Niklaas ·

Ek was destyds nog op Laerskool en onthou 2 dinge van daai bus ramp, die koerant opskrif “23 stemmetjies is stil” en ‘n waarsêer, ene Madame Rose se korrekte voorspelling daarvan’ n paar weke voor die busramp.

Delia ·

Sjoe…so hartseer. Het net 2 Dae terug verby daardie afrit gery by Meyerton, maar nie geweet Wie Johan was. Nou Ken ek die storie.

Jan ·

Ek ook nie geweet nie ek was 8 jaar oud in Mondeor nie baie ver van Meyerton gebly en soos vandag baie nuus geluister sjoe trane baie naby en dink ook aan Westdene busramp

Harley Davidson ·

N volk met ‘n geskiedenis is ‘n volk met ‘n toekoms, party volke weet net waar sy oupa groot 110 jaar terug gebly het maar weet nie wie sy regte pa is nie.

Christine ·

Hierdie was nog altyd een van ons land se rampe wat my bygebly het. Soveel ouers wat twee kinders verloor het, of hul enigste kind/ers. Die tragedie bly my steeds by, al was ek self net ‘n kind daai tyd.

Delene ·

Ek onthou ‘n gedig wat in die 1980’s op skool aan ons voorgelees is, en wat handel oor hierdie einste busramp by Henley-On-Klip.

Dit het begin met “Helena aan’t klip….”

Gaan bietjie Google. Hoop ek kan dit vind!

Lettie ·

Dit was op my oudste kind se geboortedag. Ek was in kraam toe ek die boodskap kry my broer was nie op daardie bus nie.
My pa het by die Glen Douglas myn op Daleside gewerk en my klein boetie was op skool in Meyerton. Die myn was teen die spoorlyn. Angsbevange het my Pa huis toe gejaag nadat hy die verpletterende nuus moes hoor. Tuis is geen spoor van my broer nie. (Hulle kon enige 2 van die busse klim van die skool af). My ouers was rasend en het aanvaar hy was op die rampbus. n Halfuur later kom boetie toe tuis. Het eersn draai by die kafee gemaak en het van niks geweet nie. My broer is twee maande gelede oorlede aan kanker.
Twee jaar na die busramp, is my pa oorgeplaas na die Erasmia myn buite Pretoria. Weer kry hy nuus van n lelike ongeluk net buite Erasmia. Die persoon beskryf vir hom hoe die motor gelyk het. Weer rasend van bekommernis. My suster ry son motor. Sy en haar 3 kinders is toe in daar motorongeluk oorlede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.