Kuier in Nagkantoor: Daar was altyd joligheid om Dana Niehaus

Dana Niehaus, Charles Fortune en Gerhard Viviers

Noem die naam Dana Niehaus en ʼn hele paar generasies dink met heimwee terug aan een van die land se geliefde kunstenaars wat al in 1995 gesterf het. Hy was nie net akteur met vele rolprente en televisiereekse op sy kerfstok nie, maar ook radio-omroeper en ʼn kranige sportkommentator.

Niemand kon ʼn Jakkals en Wolfstorie beter as Dana vertel nie en boonop kon hy mooi sing en ʼn klavier en selfs ʼn musieksaag behoorlik laat gesels.

Toe De Wet Potgieter op 2 Maart ʼn foto van Dawid Roux op Nagkantoor deel, waar Dana Niehaus met sy hand op Charles Fortune se arm staan, en Spiekeries of te wel Gerhard Viviers gesellig toekyk, het die Nagkantoorlesers vinnig gereageer. Uit al die kommentare is een ding baie duidelik: hy was voorwaar geliefd! Vele vyftigplussers sal sekerlik oom Dana se stem kan herroep danksy die storieplate wat in talle huise was: “Goeiemôre kleinspan, julle rakkers. Was julle soet? Oom Dana het mos beloof as julle soet is, gaan hy nog ʼn storie vertel…”

‘Pa Dana het ons geleer om nederig te bly’

Drie geslagte bymekaar. Danie, sy seun Taro en pa Dana.

Om oor Dana Niehaus te gesels, moet ʼn mens heel eerste by Danie Niehaus, sy talentvolle musikantseun, aanklop. Vir Danie is dit elke keer besonder lekker wanneer een of ander Facebookgroep ʼn foto van sy pa deel en hy sien op watter wonderlike manier mense daarop reageer. Altyd net positief.

Danie sê die een ding wat hy veral van sy pa onthou, is dat hy altyd gesê het dat hulle glad nie moet dink hulle is vooraanstaande mense omdat hulle pa bekend is nie. Dana self het altyd nederig gebly, en hierdie waardevolle les aan sy kinders geleer.

Danie lag as hy vertel dat hy eintlik op ʼn eienaardige manier sy naam Danie gekry het. Op skool en selfs universiteit was hy ook bekend as Dana Niehaus. Toe hy mettertyd by Beeld as joernalis begin werk het, was Roelf Theunissen sy sportredakteur. Dana en Roelf was groot vriende en die twee het besluit Danie, of Dana soos hy toe bekend was, kon nie die naamreël Dana Niehaus by sy berigte gebruik nie. Dit sou lyk asof die ouer Dana nou na donkiejare weer vir die koerant begin skryf het.

Danie en Dana Niehaus

“Ek word toe Dana Junior, maar hulle besluit toe dit klink ook half simpel en toe moet ek die byline DH Niehaus, my voorletters, gebruik. Dit het my nogal identiteitsloos laat voel. ʼn Ruk daarna het ek in die Kaap by die SAUK begin werk. Die eerste oggend het ek laat by die werk opgedaag en toe die nuusredakteur my by ontvangs kom haal, sê hy: ‘O jy is seker Danie’. Ek was in so ʼn harwar omdat ek laat was op die eerste oggend, en ek het vrek skuldig gevoel daaroor, dat ek hom nie reggehelp het nie. Hy het saam met my na die nuuskantoor gegaan en my daar aan almal voorgestel as Danie. Skielik het ek ʼn nuwe identiteit gekry en dit het vir my gewerk. Wanneer iemand vandag vir my Dana sê, weet ek dit moet ʼn ou skool- of universiteitspêl wees,” sê Danie.

Dana en Ans Niehaus

Hy het wonderlike herinneringe aan sy ouerhuis wat, soos hy sê, maar altyd ʼn bietjie van ʼn sirkus was. “My pa het ʼn tennisklub gehad en oor naweke was daar gedurigdeur mense wat gekom en gegaan het. Baie was ook musikante en akteurs en hulle het sommer tydig en ontydig ingeval. Saans laat wanneer hulle van gigs af kom, sou hulle kom loer of die ligte in die Niehaus-huis nog brand. Daar was dus die heeltyd musiek en lawaai en grappies en enigeen wat kon musiek maak moes maar inval. Ons kinders het so lank as moontlik in die sitkamer probeer bly want laataand, as die wyn begin praat, het die konserte al hoe minder kindervriendelik geword maar dan is ons kamer toe geboender.”

Dana onthou sy pa se wonderlike sin vir humor met groot waardering. Iemand wat op die snaaksste tye die snaaksste goed kon kwytraak. Hy lag en onthou hoe sy pa eenmaal in die sitkamer gesit het, voete op die koffietafel. Daar was gaste wat daar gekuier het. Ma Ans het met ʼn skinkbord eetgoed die vertrek binnegestap en haar man gevra om sy bene te skuif. Hy het net gelag en vir haar gesê: “Jy was mos ʼn WP-atleet. Jy kan mos hekkies spring.”

Al moes hy soms maar stoei om sy eie identiteit te vestig en nie bloot net as Dana Niehaus se seun bekend te staan nie, voel hy vandag net trots daarop dat hy ʼn kunstenaar van Dana Niehaus se formaat as pa gehad het. Hy sou dit nooit anders wou hê nie.

Gene onthou die uitstekende krieketkommentaar

Gene Carstens

As radio-omroeper het Dana nog in die oorlogsjare by die SAUK in Durban begin werk. Hy het altyd vertel hoe daar soms ʼn sirene afgegaan het, en dan is die ligte alles uitgedoof. As jy op daardie oomblik op die lug was, moes jy maar net aanhou praat sodat jou luisteraars niks agterkom nie. Dana was van die heel eerste omroepers wat krieket in Afrikaans uitgesaai het en ʼn paar Afrikaanse krieketterme is deur hom geskep.

Iemand wat vir Dana leer ken het by die destydse Springbokradio, is Gene Carstens wat daar as bedryfsassistent gewerk het. Gene woon deesdae in Namibië. “Oom Dana het vir Danie Smuts ingestaan by Springbokradio se oggendsessie vanaf 6:00 tot 8:00. Dit was bloot vir twee maande maar het ʼn onvergeetlike indruk op my gelaat,” sê Gene.

Dana Niehaus

“Die oggendsessie was maar ʼn woelige affêre en daar was nie tyd vir koeitjies en kalfies nie. Wat my egter van oom Dana opgeval het, was sy absolute aardsheid. ʼn Tipe eenvoud wat my laat wonder het hoe hy ooit ʼn radio-omroeper kon wees. Ek sou hom eerder vir ʼn plaasboer aansien. Tog was hy uiters professioneel as omroeper en boonop ʼn passievolle krieketgeesdriftige. In daardie jare was dit nie juis ʼn kenmerk van iemand met ʼn plaasagtergrond nie.”

Gene onthou ook ʼn ander musiekprogram wat Dana saam met Esmé Euvrard aangebied het waartydens hy ook aan die tegniese kant van die uitsending was. Wat hom veral van daardie tyd bybly, was tannie Esmé se onvergeetlike Black Forest-roomkoek wat sy gebak en ateljee toe gebring het. Dit was onweerstaanbaar, onthou hy.

“Oom Dana was natuurlik baie ouer as ek en sekerlik nie lus vir ʼn wilde jong mannetjie se gewoontes nie. Ons het dus nooit enige groot avonture saam beleef nie, maar ek onthou hom met ʼn warm plesierigheid. Hy was voorwaar enig in sy soort,” sê Gene.

Vir Bettie was hy oom Dana

Bettie Kemp

Televisie het in 1976 na Suid-Afrika gekom en alhoewel daar aanvanklik baie oorgeklankte reekse uitgesaai is, is daar spoedig begin om plaaslike reekse te vervaardig. Een daarvan was Net ʼn bietjie liefde wat in 1977 uitgesaai is. Dit word beskou as die heel eerste plaaslik vervaardigde Afrikaanse sepie.

In Net ʼn bietjie liefde het ons Koos Vermaak (Dana Niehaus) en sy vrou Evie (Esmé Euvrard) leer ken. Daar was dan ook die jong Lammie (Friedrich Stark) wat by hulle aan huis gewoon het. Lammie het ʼn meisie gehad – niemand anders nie as Bettie Kemp wat die rol van Marietjie vertolk het. Oor die afgelope vyf dekades het Suid-Afrikaners Bettie leer ken as aktrise, radio-omroeper en televisie-aanbieder, maar ook as ʼn veel bekroonde regisseur.

“Ek het oom Dana op die stel van Net ʼn bietjie liefde leer ken. Natuurlik was ek nog maar bloedjonk en ek het hom oom Dana genoem. Hy het nooit daarteen kapsie gemaak nie, ek dink dit was maar die gebruik gewees,” vertel Bettie.

Die een ding wat sy baie goed van Dana Niehaus onthou, is dat hy ʼn slim, skerp sin vir humor gehad het. Hy het vreeslik baie gelag en daar was altyd ʼn joligheid waar hy was. “Dana het mooi gespot en nooit iemand probeer verneder nie, en het ook nie probeer snaaks wees met vuil grappe nie”, sê sy. Sy was nooit ongemaklik in sy geselskap nie.

Een van die mooi dinge wat sy onthou, was toe daar buite-uitsendings vir Net ʼn bietjie liefde gemaak is. Met een van die tonele moes sy en Dana see-in op die pier by die Strand stap.

“Vir die verafskote moes ons met mekaar gesels. Hy het natuurlik altyd die lekkerste grappies gereed gehad. Ek sou sê: ‘Oom Dana, waaroor sal ons nou praat?’ Hy het net gelag en geantwoord: ‘Aahh juffrou Kemp, jy moenie daaroor bekommer nie’. Dan het hy weggetrek met die wonderlikste stories en ons het nooit gesukkel om dit te laat lyk asof ons ʼn volledige gesprek voer nie.”

In later jare het Bettie ook dikwels met Dana te doen gekry wanneer daar radiodramas opgeneem is. Sy was sy junior en het altyd eenkant in ʼn hoek gaan sit om hom dop te hou. Dana Niehaus was vir haar ʼn wonderlike rolmodel in ʼn radiodrama-ateljee. “Hy het die ateljeeprotokol uitstekend geken, was altyd goed voorbereid en het nooit gestaan en skarrel met sy bladsye nie”, sê Bettie.

“Een ding wat ʼn mens altyd kon sien, is wanneer hy klaar was met ʼn toneel, dan was die regisseur tevrede. Ek het alles wat ek weet van die protokol van radiodramas by oom Dana geleer. Oor een ding is ek spyt: ek het ongelukkig te min tyd saam met hom deurgebring, maar ek is verskriklik dankbaar oor die tyd wat ek wel by hom kon leer. Sy geslag het vinnig gegaan en daar was niemand oor om van te leer nadat hy weg is nie. Nou klou ek vas aan alles wat ek by oom Dana geleer het en vir die afgelope 40 jaar gebruik ek dit wanneer ek in ʼn radioateljee is.”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Realis Thailand ·

Dit was die jare van ware Afrikaanse nuus en later TV
Wat n wonderlike klomp mense. Dana, Danie Smuts Spikeries Gerard Viviers en Fanus Rautenbach

Marcello ·

Wow !!!! Dankie vir die terugreis in tyd, dit was wonderlike jare gewees, en ek is so bly dat ek kon grootword in daardie era.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.