Kuier in Nagkantoor: Die leeu van Fort Doppies

(Foto: SA Special Forces – the Recces/Facebook)

Op 6 April vanjaar deel oudredakteur Hennie van Deventer ’n storie op Nagkantoor waarin hy vertel dat hy eenmaal ’n militêre toekenning ontvang het: die Orde van Fort Doppies (OFD). Iets wat nou nog trots in sy studeerkamer in Melkbos pryk. In sy plasing noem Hennie dat hierdie OFD ook by ʼn geleentheid aan Teddy, die inwonende leeu van Fort Doppies, toegeken is. Daar is heerlike kommentaar op die storie gelewer, en dit was gou duidelik dat Teddy, of Terry soos hy soms genoem word, berug was weens verskeie insidente wat in daardie weermagkamp plaasgevind het.

In sy aangrypende dokumentering van sy ervarings as soldaat in een van sy boeke, Eden’s Exiles, vertel kolonel Jan Breytenbach van ’n stuk aarde wat eens ongerep was, Cuando Cubango. Hierdie area, in die Caprivi-gebied was ʼn ware Eden en duisende olifante en buffels, groot troppe leeus en honderde skaars swart renosters het ongestoord hul gang gegaan. Totdat die oorlog gekom het. In die boek laat val hy die lig op vergrype deur sekere individue, genadelose stropery en die vernietiging van die Khoi-San-kultuur. Tog is die boek ook vol wonderlike stories van merkwaardige vriendskappe tussen mens en dier. Dis hoeka een van hierdie kreature wat aan Fort Doppies sy naam besorg het.

De Wet Potgieter en kolonel Jan Breytenbach tydens die sitting van die Kumleben-kommissie in 1996.

Die Wes-Caprivi is in die laat sewentigerjare gekies as die gebied waarin honderd guerrillamagte opgelei moes word en ’n plek 30 kilometer wes van die Kwandorivier was die ideale plek om ʼn basiskamp op te rig. Wat aanvanklik as Olifantkamp bekend gestaan het, is gou deur kolonel Breytenbach tot Fort Doppies herdoop. Doppies was die stoutgat blouaap wat koning gekraai het in die kamp, en die arme kok met die naam Alphonso, altyd in tale laat spreek het. Wanneer iemand iets aan hom wou doen, het hy vinnig na kolonel Breytenbach gehardloop en veilig op sy skouer gaan sit.

Op ʼn dag het Doppies weer saamgegaan terwyl die soldate vroegoggend gaan draf het. Hy het gewoonlik by die halfpadmerk in ʼn boom gaan sit en wag dat hulle terugkeer. Daardie oggend, toe die manne terugdraai huis toe, was daar geen teken van Doppies nie. Niemand het hom ooit weer gesien nie.

“Hy kon ten minste totsiens gesê het,” eindig Kol Breytenbach die storie van Doppies, so half melankolies.

Die Italianer wat hom byna doodgeskrik het

Teddy. (Foto: Facebook)

Maar Doppies was beslis nie die enigste een wat die kamp soms op horings geneem het nie. In Eden’s Exiles staan kolonel Breytenbach ʼn hele hoofstuk aan Terry, soos hy hom noem, die leeu af. Teddy en sy sussie Lisa het in 1980 op die ouderdom van ses maande na Fort Doppies gekom. In daardie tyd was sammajoor Dewald de Beer die basis-sammajoor. Hy het die leeus by die bestuurders van die Lianshulu-jagkamp gekry ná ʼn insident waartydens ʼn Italiaanse burgemeester, wat op ʼn jagtog in die gebied was, een nag deur Teddy skrikgemaak is. Soveel so dat hy met ʼn tuinslang skoongespuit moes word.

Dewald het toe reeds by verskeie geleenthede vir Nicky en Sampie Liversage gevra om die twee leeutjies te kry. Hulle is aanvanklik by ʼn dieretuin in Okahandja gaan haal, met hul ogies nog toe. Die dieretuineienaar het hulle vir ʼn Amerikaner geteel maar die regering wou nie toelaat dat die leeutjies na Amerika toe gaan nie. Die dieretuineienaar wou hulle doodmaak, en Lutz Hofmeister en sy vrou Ansie van Katima Mulilo het hulle vir R200 by die dieretuineienaar gekoop. Aanvanklik het die leeutjies by die Hofmeisters in die dorp gebly, maar nadat ʼn kind in ʼn speletjie deur een van die leeus gekrap is, moes hulle ʼn nuwe tuiste vind en van daar is hulle na die jagkamp geneem. Uiteindelik het hulle toe by Fort Doppies beland.

Een van die oudsoldate en ʼn oud-Recce wat goeie herinneringe aan Teddy het, is Dap Maritz. Hy onthou nog goed toe hy tydens ʼn eerste besoek aan Fort Doppies met Teddy kennis gemaak het. “Teddy was die mooiste dier, ʼn manjifieke woestynleeu. My hande is baie groter as die gemiddelde man se hande en Teddy se spoor was groter as my hand. Hy was ʼn meneer van ʼn leeu maar tog was hy een van die troepe. Hy het hom tuisgemaak in die kamp en het gekom en gegaan soos hy wil, sonder om toestemming te vra. Hy was lief vir die troepe en selfs die honde in die basis was sy buddies,” vertel Dap.

‘n Foto van Teddy die leeu uit die private versameling van Dewald de Beer.

Die man wat ʼn wonderlike pad met Teddy gestap het, Dewald de Beer, word verskeie kere vermeld in Eden’s Exiles. Kol. Breytenbach noem, onder meer, dat Dewald de Beer, die heel beste wit spoorsnyer was wat hy ooit teëgekom het. Hy het ook die stropery in hierdie gebied na die beste van sy vermoë bestry en ʼn hele paar van die stropers se aksies laat ontspoor. Sammajoor De Beer was genadeloos wanneer hy ʼn stroper gevang het. Daarvoor toon kolonel Breytenbach ook groot waardering in sy boek.

Teddy en die ministers

(Foto: SA Special Forces – the Recces/Facebook)

Nadat die eerste Fort Doppies afgebrand het, is ʼn nuwe kamp in digte rivierbosse by ʼn systroom van die Kwandorivier gebou, maar die naam Fort Doppies het behoue gebly. Dewald de Beer het hierdie spesifieke plek gaan uitsoek. Dewald, of oom Dewies soos hy ook bekendstaan, is 79 jaar oud, maar het wonderlike herinneringe aan hierdie tydperk van sy lewe. Ook in die besonder aan Teddy.

“Sy naam was inderdaad Teddy, want dis hoe die Hofmeisters se dogtertjie hom gedoop het. Hy het haar aan ʼn teddiebeer laat dink. Kolonel Breytenbach wou nie vat kry aan die naam Teddy nie, en het gesê ons moet hom eerder Terry noem. Hy vertel in Eden’s Exiles van die aand toe Teddy vir minister Dawie de Villiers tot bo-op ʼn staalkas gejaag het. ʼn Voorval wat my egter bybly, is die insident met minister Pik Botha.

‘n Foto van Teddy die leeu uit die private versameling van Dewald de Beer.

“Toe die kabinet na Fort Doppies gebring is, het ons hulle vooraf gewaarsku dat daar ʼn mak leeu in die kamp rondloop. Ek het hulle gewaarsku om nie op die grond te gaan sit nie, want dit was altyd ʼn uitnodiging vir Teddy om jou om te stamp. Ook het ek gesê dat hulle nie moet weghardloop nie, enige leeu sou dit as ʼn uitdaging sien. Die oggend vroeg het Pik Botha en Louis la Grange na die ablusiegeriewe gegaan waar die opgeslaande toilette, die sogenaamde go-carts was. Dis aan die agterkant toegespan met goiingsakke. Pik het beloof om buite te staan en op die uitkyk te wees vir die leeu.

“Terwyl Louis op die toilet gesit het, het Teddy van agter die goiingsakke vir Louis van die toilet afgestamp en hom aan sy boude gelek. ‘Magtag Pik, die leeu is in die toilet!’ het minister La Grange benoud geskreeu. Dit het tot groot konsternasie gelei en Pik het laat waai, net met ʼn handdoek om sy lyf en ʼn tandeborsel in die mond. Teddy is agterna. Pik is so vinnig soos sy bene hom kon dra na die deel waar die ontbyt bedien is en het loshande oor die sinkmuur gespring en bo-op die tafel met al die kos te lande gekom. Jy het net eiers, worsies en brood sien spat. Toe Pik weer omkyk, het Teddy rustig in die opening na die eetplek gaan lê, totaal ongestoord. Die tandeborsel wat Pik in sy mond gehad het, het morsaf gebreek. Daar is lank oor die voorval gelag,” sê Dewald.

Die einde was nie maklik nie

ʼn Jong sammajoor Dewald de Beer in die tagtigerjare.

Lisa het vroeg aan haar einde gekom. Op 14 maande word ʼn leeuwyfie geslagsryp en sy is in die bosse in, agter ʼn ander trop leeus aan. Daar het hulle haar aangeval en haar rug gebreek, en sy moes uit haar lyding verlos word. Teddy het nog sowat ʼn jaar en ʼn half in die kamp aangebly. Hy het met die soldate rugby gespeel, geswem, gaan draf, op hul beddens geslaap en gestoei. Voorwaar ʼn legende.

Die volgende vraag waaroor baie mense steeds wonder, is wat van Teddy geword het.

“Ek het hom geskiet,” antwoord Dewald de Beer hierdie vraag. Hy vertel hoe hy vir meer as ʼn jaar lank probeer het om Teddy te leer jag en aan te pas in die natuur. Hy het snags in die veld saam met hom gaan slaap. Hy het selfs een maal by ʼn plaaslike inwoner ʼn bok gekoop wat hy reg voor Teddy losgemaak het. Die bok het vir Teddy een kyk gegee, hom geskop en weggestap. Op ʼn ander keer het Dewald die manskappe gestuur na ʼn gebied by die rivier waar hulle oorlewingskursusse gedoen het. Die soldate het bo-op die Unimogs geslaap. Hy wou hê Teddy moes gewoond raak aan die wildernis om te sien of hy nie sal inpas nie.

Een aand het ʼn trop leeus tussen die voertuie in beweeg en al die soldate wat langs die vuur gesit het, het vinnig op die voertuie geklim. Toe hulle soek na Teddy, het hy saam met hulle bo-op die Unimog gesit. Hy het ook besluit om Teddy na Nkasa-eiland, sowat 130 km suid van Fort Doppies te neem. Die nag het hy by Teddy gebly om seker te maak hy word nie aangeval terwyl hy nog onder verdowing is nie. Hy het ʼn Lechwe geskiet en daar by Teddy gelaat, hom hartseer gegroet en teruggevlieg na Fort Doppies. Ses dae later was Teddy terug in Fort Doppies. Hy moes, onder meer, deur die Linyanti-moeras van 15 km beweeg om in Botswana in te gaan, en van daar op droë grond teruggaan na Fort Doppies. Hy is ook verby twee jagkampe, maar het ongeskonde tuis gekom.

‘n Foto van Teddy die leeu uit die private versameling van Dewald de Beer.

“Ek kon nie langer in Fort Doppies aanbly nie en die nuwe bevelvoerder wat Teddy nie geken het soos ons hom geken het nie, was bang dat hy een van die troepe sal doodbyt. Daar is van Pretoria se kant af opdrag gegee dat Teddy geskiet moet word. Ek het gelukkig spioene gehad wat my vooraf gewaarsku het. Wanneer die persoon wat vir Teddy moet kom skiet by Fort Doppies opdaag, was ek en die leeu lankal weg. Hy moes dan maar glo dat Teddy die pad gevat het. Eers wanneer dit weer veilig was, het ons teruggegaan. Ek het selfs probeer om hom aan die rolprentmakers te verkoop. Hulle het belanggestel, maar ons kon nie die nodige toestemming kry nie.

“Die druk het al hoe groter geword dat Teddy van kant gemaak moet word. Uiteindelik was my grootste vrees dat iemand onbekwaam gaan kom om hom te skiet. Ek het gevrees dat Teddy gekwes sou word en kon nie daaraan dink dat hy moes ly nie. Een oggend vroeg het ek die R1 gevat en saam met Teddy die veld ingestap. Net een skoot en hy was onmiddellik dood. Ek het sy oorskot net daar gelaat en aan die natuur teruggegee. Dit was soos om my eie kind te skiet. Selfs vandag, amper veertig jaar later, bring dit steeds trane in my oë,” sê Dewald.

Uiteindelik bly die woorde oor Teddy, of Terry soos hy hom genoem het, wat kolonel Breytenbach in sy boek deel, die heel beste afsluiting vir hierdie besondere leeu se storie. Beter sal niemand dit kan stel nie.

“Many people’s lives had been profoundly enriched by their close and friendly relationship with the king of the bush. There had never before been such a lion as Terry and there probably never will be again.” (Eden’s Exiles – One Soldier’s Fight for Paradise, Jan Breytenbach, Quellerie Uitgewers 1997)

‘n Foto van Teddy die leeu uit die private versameling van Dewald de Beer.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Wonderlike storie en terugblik.

Charles

Baie dankie vir hierdie pragtige verhaal wat julle met ons deel!!

Werner

Ysters die dae toe ons nog n weermag gehaad het.Trots op julle

Pieter

Wonderlike herinnering aan Teddy en die bosoorlog dae. Daardie tyd het korporaal Nieman al vir my gesê die oorlog het 2 kante:
Een kant Angola en die Kubane wat die olie soek.
Die tweede kant die Oppenheimer en Amerikane wat Jonas Swavimbi se diamante en ivoor soek.
Geniet dit in die bos.

Adam Adriaan

Het hom persoonlik ontmoet.