Kuier in Nagkantoor: Die lewendige ‘bom’ in ʼn jong soldaat

‘n M60-geweergranaat.

In 1983 het die Grensoorlog fel gewoed en niemand was sy of haar lewe seker nie. Vele jongmanne se lewens het ook dáár onherroeplik verander of tragies tot ʼn einde gekom. Wonderlike verhale van ongekende dapperheid, wat lewens gered het, maak tog ook ʼn belangrike deel van hierdie geskiedenis uit.

Op ʼn dag, in die siekeboeg op Oshakati, het ʼn voorval plaasgevind wat steeds na 37 jaar ongelooflik klink. Twee mediese dokters, albei lede van die Burgermag, moes ʼn lewensgevaarlike noodoperasie uitvoer op ʼn swaargewonde soldaat, korporaal Mario Oliveira (22), deel van die 32-Bataljon.

Kaptein Koos Reyneke, wat die dag as narkotiseur opgetree het, het die dag se gebeure in ʼn skriftelike verslag vervat. Sy vertelling van daardie dag, en die chirurgie van kaptein Paul Eloff, begin soos volg: “Deur die loop van die oggend van 4 Februarie 1983 is ʼn aantal aanvalswapens soos mortierbomme, granate, landmyne en die Stalin-orrel prototipes aan grensdienende personeel uitgewys en gedemonstreer.”

Helene Eloff.

Op 12 Oktober vanjaar deel Helene Eloff, ʼn mediaregkundige van Nelspruit, knipsels oor hierdie gebeure op Nagkantoor. “Paul Eloff was my oupa. Onthou iemand die storie?” vra Helene by hierdie plasing, en natuurlik het Nagkantoor se lesers haar nie teleurgestel nie. Dit was immers ʼn ware verhaal wat geklink het soos iets wat net Hollywood kon uitdink.

Maar wat presies het daar gebeur? In ʼn skermutseling met SWAPO-magte is korporaal Mario Oliveira ernstig gewond. “Die vinnige optrede van sy makkers het gehelp om die jong soldaat se lewe te red. Net tien minute nadat hy getref is, was ʼn helikopter op pad om hom te gaan haal. Mediese ordonnanse het intussen ʼn drup opgestel, die wond verbind en antibiotika toegedien. Die helikopter het hom na ʼn veldpos gebring waar luitenant Brian Weber hom behandel het. Luitenant Weber het besef dat Oliveira dadelik na die siekeboeg op Oshakati gebring moet word,” het die verslaggewer Jan Taljaard destyds in Beeld berig.

By die siekeboeg is alles gereed gekry om die jong soldaat te behandel. Dienspligtiges is gevra om bloed te skenk aangesien Oliveira reeds baie bloed verloor het. ʼn Vlugtige kliniese ondersoek wat deur kapteins Eloff en Reyneke gedoen is, het ʼn verplaaste ribfraktuur gewys wat teruggedruk moes word. Voor dit kon gebeur moes daar egter eers X-strale geneem word. Minute later het ʼn ontstelde dienspligtige wat met die X-strale gewerk het, ingestorm en gesê: “Dis ʼn bom!”

In sy verslag oor die verloop van die gebeure het kaptein Reyneke later gesê dat die oggendvertoning van wapentuig ʼn bestiering was wat dit moontlik gemaak het vir die dienspligtige om die geweergranaat te herken. Hy skryf dat ʼn herevaluering bevestig het dat dit nie ʼn gebreekte rib was nie, maar die ontsteker (detonator) van ʼn lewendige M60-geweergranaat. Die plastiekvin van die wapen het op die operasietafel onder Oliveira se skouerspier uitgesteek.

“Ek het besef watter gevare die granaat inhou,” het kaptein Eloff in daardie jare aan Jan Taljaard verduidelik, “maar die pasiënt was besig om hom dood te bloei, en ons moes hom red.” Die “teater” is intussen deur dienspligtiges afgesper met sandsakke en pantserplate van ʼn Buffel-troepedraer waaragter die teatersuster en ander mediese personeel skuiling kon vind. Kapteins Eloff en Reyneke het langs die operasiebed gestaan met al die instrument binne bereik van kaptein Eloff uitgepak.

Aanvanklik het die vinne van die geweergranaat bly vassteek, maar hulle het ʼn gat in een van die vinne gemaak en ʼn stuk staaldraad daaraan vasgemaak. Van agter die sandsakke het majoor Neels de Villiers, wat intussen in die “operasiesaal” aangekom het, die granaat uitgetrek. Maj. De Villiers was die bevelvoerder van die siekeboeg op Oshakati.

Die meegee-aksie van spierweefsel het die geweergranaat soos ʼn projektiel uitgeskiet en kaptein Eloff het op sy knieë agter die vallende voorwerp afgeduik, maar ook blitsvinnig daarna sy vuis in die wond gedruk waaruit ʼn dik straal bloed gespuit het. Die geweergranaat is aan maj. De Villiers oorhandig om onskadelik te stel. Wat hierdie verhaal nog meer merkwaardig maak, is dat die suurstof na die pasiënt vir drie minute afgedraai moes word omdat dit vlambaar is. In daardie drie minute is gewone kamerlug met ʼn ambusak – ʼn soort mediese blaasbalk – deur kaptein Reyneke aan die kritieke pasiënt toegedien. Nadat die geweergranaat verwyder is, kon hy met normale narkose voortgaan en kon kaptein Eloff die chirurgie voltooi.

Oliveira is gestabiliseer en na 1 Militêre-hospitaal op Voortrekkerhoogte oorgeplaas waar hy volkome herstel het. Vyf weke later is hy ontslaan en het hy weer by 32-Bataljon aangesluit. Kaptein Neels de Villiers is ses maande later met ʼn Honoris Crux-medalje vir dapperheid vereer vir sy aandeel in die hele operasie. Eers twee jaar later, nadat die pers druk toegepas het op die weermag, het kaptein Eloff en kaptein Reyneke elk ʼn Suiderkruis-medalje ontvang.

“Die Suiderkruis-medalje word toegeken aan offisiere van die weermag wat voortreflike diens aan hulle land gelewer het. Dit is nie bekend hoekom die onderskeid tussen die Honoris Crux- en die Suiderkruis-medaljes aan die drie betrokke lede gemaak is wat al drie in dieselfde operasie hulle lewens in gevaar gestel het nie,” het Leon Coetzee, militêre korrespondent van die Die Vaderland, berig nadat die twee geneeshere met die Suiderkruis-medalje vereer is.

Kaptein Eloff het heel nugter na die toekenning gekyk en aan Leon Coetzee gesê: “Medaljes is nie vir my belangrik nie, maar wel die lewe wat ons kon red. Maar ons is dankbaar om wel deur die weermag vereer te word.”

Helene Eloff vertel dat die gebeure natuurlik lank voor haar geboorte afgespeel het. Op ʼn dag wou sy graag in ʼn klaspraatjie gesels oor ʼn held en haar pa het voorgestel dat sy met haar oupa Paul moet gesels en hom vra oor die keer toe hy ʼn “bom” uit ʼn soldaat se lyf gehaal het.

“Die storie het my aangegryp en my klasmaats se oë het behoorlik gerek toe ek vir hulle hierdie storie van my oupa vertel het. Ons het in daardie jare langs oupa Paul en ouma Nine op ʼn plaas tussen Hoedspruit en Kampersrus gebly. Daarvandaan het hy gereeld na Letaba se staatshospitaal toe gery om te gaan werk. Selfs toe hy en my ouma op Nylstroom gaan ‘aftree’ het, het hy by geleentheid by die staatshospitaal geopereer. Hy was hartstogtelik lief vir sy werk.”

Na sy dood het kaptein Reyneke aan die familie gesê dat Eloff die dapperste man is wat hy ooit ontmoet het. Eloff se lewe het tragies tot ʼn einde gekom toe ʼn suurstofsilinder, waarin hy behandeling vir swak bloedsirkulasie ontvang het, ontplof het. Hy en sy broer Gerhard wat hom met die behandeling gehelp het, is albei in die ontploffing dood. Hy was toe 76 jaar oud.

Wat is ʼn geweergranaat?

Die M-60-anti-personeel-geweergranaat is in Joegoslawië gemaak en is 610 mm lank en 30 mm in deursnee. Die granaat word voor op ʼn SKS-geweer gemonteer en is effektief op 60 tot 400 meter. Oliveira was besonder gelukkig dat die granaat sy hart en belangrike slagare gemis het. Dit het hom net langs die linkerskouer getref.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebookblad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebookblad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak  ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Martie Smartie ·

Wonder wat het van die ander (eintlike) held, kpl Mario Oliveira geword wat nog moeiliker omstandighede in die gevegslinie moes deurstaan? Dit sou ‘n goeie balans aan die artikel gee om te weet. Want ouens soos hy verdien ook medaljes.

Herman L ·

Die feit dat die granaat nie ontplof het toe dit die koporaal tref nie, is selfs ‘n groter wonderwerk as dit wat in die siekeboeg gebeur het. Maar daarvoor is daar nie medaljes nie.

Zombie ·

Beste Martie, wil jy nie asseblief die inligting navors en dit vir ons gee nie? Dankie.

Sarel ·

Mag hierdie help om die mense wat so maklik “oorlog” praat tot besinninh te bring

Daan ·

Kpl Da Oliviera was onder my bevel op die dag wat die geweer granaat hom getref het. Hy het volkome herstel en later baie goeie diens gelewer as ‘n lid van 32 Bn se Regimentspolisie. Sover my kennis strek het hy afgetree en laaste wat ek van hom verneem het was hy woonagtig in die Noordkaap.

Skyspy007 ·

Daan, Andre en Strandloper, sluit gerus by “ons ou manne” aan. VK, 1BN en 32….ons is ‘n baie hegte groep ou manne wat nogsteeds kontak hou….ek 44 jaar terug by 1BN…

Andre ·

Helene Eloff.

Ek was self in die weermag daardie tyd. Diensplig.
Dit is so nice van jou om die storie van jou Oupa op te soek en tot verhaal te bring.
Jy sal nie glo wat se kameraadskap daar was tussen one manne wat toe nog maar seuns was nie.
Helene – Op FB is daar vele groepe wat behels die Grensoorlog.
Sluit aan op FB by groepe – soek net vir “Border war” of enige soorgelyks. Die manne sal jou verwelkom as jy se jou Oupa was daar en jy is baie trots op hom.
JY KAN BAIE BAIE TROTS WEES OP JOU OUPA.!!!

Daar is ‘n Oliveira op een van die FB groepe. Var net en die manne sal jou help.

Ons manne wat daar was weet van die wat gebeur het maar soos tyd aangaan het ek (en ander) al vergeet van.
Dankie Alita Steenkamp vir die skrywe.

Ek gaan die berug se link plaas o

Strandloper ·

Die wat ook hul pond vleis betaal het in die bos oorlog, gegroet is julle. Die menigte makers wat nooit weer die “states” gesien het nie, ek salueer julle. Net so jammer die duurste tol was verniet, ek sal julle altyd onthou.

Skyspy007 ·

Daan, Andre en Strandloper, ek was in 78 in die bosoorlog as spesiale mag dienspligtige. ONS WAS DAAR en niemand sal ooit weet wat ons as 18 jarige deurgegaan het nie. SALUUT vir julle en ons mede-kollegas!!!! Maklik was dit nie maar…..ons moes….en HET DIT gedoen waarvoor ons geroep was. Vandag is dit ongelukkig ‘n ander verhaal…. STERKTE en SALUUT

Dries ·

Nog n groter tragedie is. Daardie effektiewe weermag is nou so vrot tot in die kern en ons kan maar net trots wees oor die verlede.

Wielspore ·

Hierdie voorval het gedurende my diensplig tydperk plaasgevind, ek kan dit soos gister onthou, dit is ‘n bos hospitaal met hoogs gemotiveerde mense wat uit min toerusting die beste kan lewer. Die beseerde het ingekom soos enige ander pasient en binne ‘n kort periode is ‘n gewone behandeling omskep in ‘n gespesialiseerde operasie. Niemand het gedink dit is ‘n dapper daad totdat die operasie afgehandel was en daar tyd was om behhorlik oor die saak te dink. Ek het self die X-straal plaat in my hand gehou. Dapper mense, so sal ek julle onthou. Terloopse opmerking, die video clip se naam is “Live RPG Extraction Surgery” . Dit was nie ‘n RPG wat verwyder is, eerder ‘n geweer granaat.

Sage ·

Sjoe!!! Dit was nou een van die lekkerste, interessantste en beste artikels wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Baie dankie dat julle dit met ons gedeel het.

Ek is so tot satwordens toe moeg vir berigte oor korrupsie, moord, en politiek. Hierdie was voorwaar ‘n vars briesie! Ek het dit sommer 2 keer gelees. Dankie!!!

Smurf ·

Toe ek die opskrif van die berig lees tref die herinnering van die voorval my soos n bak yswater. Die gebeure van 30+ jaar gelede op die grens le nou nog vlak in my geheue..soos gister…jy kan nou nog die reuk daarvan onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.