Kuier in Nagkantoor: Die tragedie van die ‘SAS Pres. Kruger’

Vir baie van ons is 18 Februarie net ’n dag op die almanak, en tog was 18 Februarie 1982 ʼn baie donker dag in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Vloot. Vroegoggend het die vloot se vlagskip, die SAS Pres. Kruger, gesink ná ʼn botsing met die SAS Tafelberg, ʼn aanvullingskip. Daar was 193 seemanne aan boord van die PK, soos dit algemeen bekend gestaan het. Een het verdrink en sy liggaam is ʼn dag later gevind, maar 15 seemanne het saam met die President Kruger in ʼn watergraf verdwyn.

Kort voor 18 Februarie vanjaar het Corrie van Rooyen, ʼn oudvlootkaptein, vir De Wet Potgieter geskakel. Corrie en sy vrou Charmaine het ʼn vakansiehuis in Kaapsehoop, waar Nagkantoor geleë is.

Corrie was vanaf 1971 tot 1999 in die vloot. De Wet self het in 1971 by die vloot aangesluit en het net goeie herinneringe aan sy dae as matroos. Corrie het De Wet versoek dat almal teenwoordig in Nagkantoor op die aand van 18 Februarie, ʼn glasie moet klink ter herinnering aan die 16 seemanne wat daardie oggend vroeg hul lewens verloor het. So gesê, so gedaan.

Die plasing op Nagkantoor (19 Februarie), waarin daar met deernis en respek teruggekyk is na die sinking van die SAS Pres. Kruger, en die klok wat in stilte gelui is, het honderde reaksies uitgelok en is wyd gedeel.

Corrie van Rooyen vertel dat hy in Simonstad grootgeword het en ʼn loopbaan in die Suid-Afrikaanse vloot was vir hom ʼn logiese keuse.

Corrie van Rooyen.

Op die oggend van 18 Februarie 1982 is hy net ná 04:00 deur een van die verbindingsmanskappe wakker gemaak met die boodskap dat die SAS Pres. Kruger en die SAS Tafelberg in ʼn botsing betrokke was. Hy was toe ʼn luitenant en het diens gedoen as offisier van die dag by Silwermyn tussen Vishoek en Simonstad. Silwermyn was toe die tuiste van die operasionele kommandement asook die kommunikasiesentrum van die vloot.

“Ek is wakkergemaak met die boodskap oor die botsing en het geweldig geskrik, want dis nie iets wat jy in jou diensbeurt verwag nie. Daarna moes ek al die senior offisiere in kennis stel sodat die soek- en reddingsoperasie aan die gang gesit kon word,” onthou Corrie.

“Agterna het ʼn mens eers tot die volle besef van die gebeure gekom. Die groot meerderheid van die 16 manne wat dood is, het ook daar in Da Gama Park gebly. Ons het hulle goed geken en geweet wie hulle is. Daar was van my skoolmaats, soos Roy McMaster wat onder die vermistes was. Ander het saam met my rugby gespeel en dit was meteens ʼn groot hap uit ons vriendekring. Die een ding wat die ongeluk aan my gedoen het, was om my net meer geheg te maak aan die vloot omdat ek vorentoe dinge net beter wou doen.”

Wat het daar gebeur?

Die ironie van die sinking van die SAS Pres. Kruger is dat dit nie gedurende ʼn oorlogsituasie gesink het nie. Drie vlootskepe, die SAS Pres. Kruger, die SAS Pres. Pretorius en die SAS Tafelberg was vir ʼn paar dae lank besig met oefeninge waarin die SAS Emily Hobhouse, ʼn Suid-Afrikaanse duikboot, skynaanvalle op die SAS Tafelberg van stapel gestuur het. In die vroeë oggendure van 18 Februarie, sowat 78 seemyl (144 km) suidwes van Kaappunt, is die oefening gestaak en moes die vaartuie omdraai. Daar het ʼn sterk wind gewaai en die deinings was meters hoog.

Die onervare offisier wat toe aan diens was, het nie die nodige kwalifikasies gehad om hierdie taak te verrig nie. Hy het ʼn opdrag uitgevoer van die hoof-gevegsrigoffisier vanuit die beheerkamer om na stuurboord te draai en tien grade van roer toe te pas. Daar was blykbaar ʼn argument of daar 10 grade of 15 grade van roer toegepas moet word, maar uiteindelik het die offisier die bevel gegee dat die vaartuig ʼn 10 grade-draai moes maak. Dit is ʼn groter radius waarteen die vaartuig dan draai en neem dus langer om te voltooi. Gevolglik het die SAS Tafelberg baie vinniger inbeweeg. Die SAS Tafelberg mag ook nie van koers verander het sonder om dit te kommunikeer nie, en die nag was nog pikdonker en die sig uiters swak. Terwyl die fregat nog besig was om die draai te maak, het hulle alle radioverbinding met die Tafelberg verloor.

Net voor 04:00 daardie noodlottige oggend ploeg die Tafelberg in die bakboordkant van die PK in, presies waar Menasie 12 geleë was. ʼn Klompie seemanne het daar gelê en slaap tot hul volgende wagbeurt. Van almal wat in Menasie 12 gelê en slaap het, is een gered. Hy het ernstige beserings gehad. ʼn Ander seeman, Donald Webb, is uit ʼn gat in die romp in die see in gesuig en sy liggaam is die dag ná die ongeluk uit die see gehaal.

Om 04:36 gee kaptein Wim de Lange die opdrag dat almal die skip moet verlaat… die gevreesde “Verlaat die skip!”-opdrag. Die skade was te groot en dit was duidelik dat die skip gaan sink. Teen 05:29 verdwyn die SAS Pres. Kruger van die radarskerm.

Nie een van die seemanne wat oorboord gespring het, het hul lewens verloor nie. Die SAS Pres. Pretorius en die SAS Tafelberg het die manne uit die water opgepik. Sommiges het reddingsbaadjies aangehad en ander het aan vlotte, roeibote en stukke wrakstukke geklou om bo te bly. Sommige van die oorlewendes was byna vir twee uur lank in die water. Gelukkig was die skade aan die SAS Tafelberg nie te groot nie en kon die gedeelte wat beskadig is, afgeseël word sodat daardie skip nie ook gesink het nie.

Teen 13:00 die middag het die SAS Tafelberg met 67 oorlewendes en die SAS Pres. Pretorius met 110 oorlewendes teruggedraai na Simonstad. Twee van die beseerde seemanne is reeds om 10:00 per helikopter na 2 Militêre Hospitaal in Wynberg geneem. Die liggaam van bootsman D. Webb is die Vrydagoggend deur bemanningslede van die SAS Protea uit die see gehaal.

Die impak van die gebeure

Iemand wat daardie oggend vroeg deur die Pres. Pretorius opgepik is, is Uil Trauernicht, voormalige uitvoerende hoof van Constructsafe Consultants CC. Ten tyde van die ongeluk was hy ʼn luitenant wat die landing van die helikopters op die fregat moes kontroleer. Uil het gelê en slaap toe die SAS Tafelberg in die SAS Pres. Kruger ingeploeg het.

Uil Trauernicht en sy vrou Helen op hul troudag.

“Ek het dadelik geweet hier is moeilikheid, want die slag van die ongeluk het my vasgedruk in ons kajuit. Daarna het ek en die helikoptervlieënier, kaptein Dick Paxton, gaan kyk of ons die helikopter wat aan boord was, sou kon gebruik, maar moes sien dat die stert afgebreek het,” sê Uil.

Hy onthou hoe die tweede in bevel, kommandeur RAS Myers, op die bakboordkant van die skip gestaan het en op ʼn kalm manier die ontruiming van die skip beheer het. Daar was geen paniek nie.

“Sy professionele en gedissiplineerde optrede het beslis lewens gered. Met sy hantering van die ontruiming, het hy die leuse van die PK, Out of the Storm came Courage, gestand gedoen,” sê Uil.

Op die vraag of ʼn mens anders na die lewe kyk nadat so iets met jou gebeur het, skud hy sy kop.

“Ek weet nie, maar ek glo dat ek later meer sensitief was vir mense se swaarkry en pyn. Van toe af is ek ʼn diabeet en ek glo dit was weens die skok van daardie donker nag. Uiteindelik was dit wonderlik om weer met my vrou Helen, met wie ek toe net meer as ʼn jaar getroud was, verenig te word. Ná veertig jaar van saamwees het ons twee kinders wat albei getroud is en is die grootouers van twee pragtige kleinkinders. ʼn Mens kan net dankbaar wees dat dinge so uitgedraai het.”

Om jou man te verloor

Margaret Terblanche.

Vir Margaret Terblanche het haar hele lewe daardie nag verander. Sy was getroud met Roy Anthony McMaster, ʼn onderoffisier wat ook in Menasie 12 gelê en slaap het tydens die botsing. Anders as gewoonlik het sy nie daardie oggend op pad werk toe die radio aangeskakel nie, en sy was salig onbewus van die verskriklike ramp wat besig was om af te speel. Uiteindelik het haar baas by die werk haar geroep en gevra of sy gehoor het van die sinking van die skip. Aanvanklik was sy nie te bekommerd nie, maar later die dag het ʼn predikant vir haar die slegte nuus kom meedeel: Roy is een van die vermistes.

“Met die aanhoor van daardie nuus het ek in trane uitgebars, dit kan tog nie wees nie, het ek wanhopig gedink. Ons kinders was nog klein. Ons jongste seun, Michael, was bloot tien maande oud. Ons dogter Shontell was ses jaar en ons oudste seun, Shane wat saam met sy pa verjaar het, was agt.

“In die volgende paar dae het ons bly hoop dat hulle hom wel sal vind saam met ander van Menasie 12 se manne. Uiteindelik moes ons aanvaar dat ons hom nooit weer sou sien nie. Die vloot het ons baie mooi bygestaan en gereël vir berading. My ouers het by my gebly en saam met my skoonouers baie mooi na ons vier omgesien. Roy was ʼn wonderlike eggenoot en pa en sy dood is ʼn verskriklike verlies. Ek is dankbaar dat ek later iemand anders ontmoet het en ek en Leon Terblanche sal in Oktober 25 jaar getroud wees. Ons het ook ʼn dogter, Angelique. ʼn Mens is oneindig dankbaar oor tweede kanse,” sê Margaret.

Die soektog na die vermiste seemanne het vir ʼn paar dae voortgeduur, maar was vrugteloos. Die meeste van die offisiere wat in bevelsposisies gestaan het, is vroeg weg uit die vloot en ʼn kommissie van ondersoek wat deur die vloot aangestel is, het die blaam op die kaptein en die hoof-gevegsrigoffisier geplaas.

“Jy weet, daar gaan bykans nie ʼn dag verby wat ek nie aan die gebeure van 18 Februarie 1982 dink nie,” sê Uil Trauernicht. “Baie nagte droom ek daaroor. Van die 16 oorledenes was ses direk onder my bevel. Ons sal hulle nooit vergeet nie. Rus in vrede, Makkers.”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eragrostis ·

Dankie Maroela Media, vir hierdie interessante storie. Ek was nog ń jong knapie toe dit gebeur het, en het nooit hiervan geweet tot nou toe nie. Wat ń tragedie.

Jaco ·

Ek lees hier iets van ‘n “onervare offisier” wat in beheer was. Hóé is so iets dan in die ou SA toegelaat?

Colin ·

Dit was ‘n oefening en word sekerlik gedoen om onervare offisiere op te lei en ervaring te gee in oorlog/operasionele situasies. Omdat die oefening reeds verby was, het hulle dit seker goed gedink dat die betrokke offisier die skip kan terugneem basis toe? Die meeste ongevalle in die ou SAW was a.g.v. ongelukke/nalatigheid.

OW ·

Hierdie offisiere is absoluut eerste wêrelds opgelei,want ek het self my opleiding in die SA Vloot gehad.Menlike foute kan insluip maak nie saak wie of wat jy is nie.Dit word net weer benadruk wat se verantwoordelikhede enige bestuurder het wat oor mense aangestel is.Hierdie was wel ‘n tragiese gebeurtenis,maar ek kan net met lof van die SA Vloot in die vorige bedeling praat.Geen mens is gewaarborg om nie foute te maak nie.As ek reg onthou was Lt Ricco Visser op die foto van die bemanning se bynaam “snakes” gewees.Nostalgies is nie die woord nie.

Nicolene ·

Dankie Alita! Wat ‘n interessante stukkie geskiedenis!

Sê maar net ·

Baie hartseer. Dankie vir die skrywe, Alita. En die foto’s….Dat jy dit met ons gedeel het. Mens moet onthou. Hoed af vir al ons seemanne en vroue! Xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.