Kuier in Nagkantoor: Die Westdene-busramp 

Die Westdene-busramp.

Vir baie Suid-Afrikaners is die datum 27 Maart baie diep in hulle geheue ingeëts. Dis die dag in 1985 waarop ʼn munisipale bus vol skoolkinders van Hoërskool Vorentoe in die Westdene-dam in Johannesburg beland het. Altesaam 42 kinders het in hierdie busramp hul lewe verloor. Ná 36 jaar is die wonde steeds rou en word baie ouers, broers en susters en familielede steeds geteister deur die ondenkbare gebeure van daardie dag.

Op 25 Maart vanjaar het De Wet Potgieter op Nagkantoor foto’s van die tragedie gedeel. Hy het vertel dat van die koerante se voorblaaie met die nuus daarop nou geraam teen die mure van Nagkantoor, ʼn kuierkroeg op Kaapsehoop, hang en telkens emosionele reaksies uitlok.

Die reaksie op hierdie Facebook-plasing was intens en vol deernis. Dit was veral die inskrywing van Karen van Sittert, waarin sy haar aangrypende verhaal gedeel het, wat mense diep geroer het. Karen was in haar matriekjaar aan Hoërskool Vorentoe. Sy onthou hoe sy en ʼn groepie maats, wat saam aan aktiwiteite soos volkspele en koor deelgeneem het, die Donderdagoggend voor skool onder die bome op die skoolterrein gestaan en lag en gesels het. ʼn Dierbare vriendin, Elsa van Heerden, het haar die oggend nog geterg en die atmosfeer was skertsend en lighartig, maar die volgende oomblik het Pieter (Petrus) Koen, wat uiteindelik een van die helde van die dag sou word, vir sy maters gevra: “Wat dink julle sal gebeur as ons almal vanmiddag moet doodgaan? Wat?”

Te jonk om aan die dood te dink

Karen van Sittert.

“Ons was uit die veld geslaan oor hierdie opmerking van Pieter,” gesels Karen telefonies uit Maastricht in Nederland. “Ons het nooit rêrig oor morbiede dinge gesels nie en dit was heeltemal absurd. Pieter was ook nooit depressief nie. Ons het dit net almal afgelag en gesê ons is heeltemal te jonk om aan die dood te dink, die lewe lê en wag vir ons. Die klok het net daarna gelui en ons skooldag het begin.

“Later die dag het Elsa my gevra om die middag ná skool vir haar kêrel wat op RAU was haar sakboekie te gaan gee. Ek vermoed sy wou met hom opbreek. ‘Ek sal saam met jou gaan en al die pad by jou staan, maar sommige dinge moet ʼn mens self doen,’ het ek vir haar gesê.”

Karen vertel dat daar twee munisipale busse was wat elke dag presies dieselfde roete gery het. Van die skool af het die roete verby die destydse RAU geloop. Ná ʼn afdraande het hulle regs gedraai, en dan weer links in die groot pad wat oor die damwal geloop het. Dieselfde kinders het gewoonlik in dieselfde busse gery. Karen en haar tweelingsussie, Brenda, het in die voorste bus gery en Elsa in die agterste bus. Elsa het hard probeer om Karen te oortuig om saam met haar te ry, sodat sy saam met haar na haar vriend kon gaan. Karen sê egter sy het geweet dat haar ouers verkies dat sy en Brenda altyd met dieselfde bus moet ry. Selfs toe Elsa nog op die trap van die geel bus met die vuurhoutjie-advertensie op gesmeek het dat sy in haar bus moet inklim, het sy vasgeskop en beloof om later met haar fiets na Elsa te gaan.

‘Wees gerus, neem ʼn bus’

“Ek het in die bus ingeklim en my rugsak so tussen die kinders deurgestoot tot by die heel agterste bank waar ek altyd gesit het. Die busse was altyd propvol en selfs die paadjie het vol kinders gestaan. Net voordat ek gaan sit, sien ek dat daar ʼn papier teen die agterruit vasgeplak was. Ek het dit afgetrek om te sien wat daarop staan. ‘Wees gerus, neem ʼn bus,’ was die woorde op die advertensie. Ons was altyd bekommerd oor die busse wat so vol was, en die spoed waarmee hulle gery het en om draaie gegaan het, en ek besluit toe om die woorde te verander met my swart merkpen: ‘Wees NIE gerus, neem NIE ʼn bus!’ het ek daarop geskryf en die stukkie papier met krulle en draaie versier soos wat ʼn matriekmeisie maar sou doen. Toe ek opstaan om weer die advertensie teen die ruit vas te plak, het ek gesien die tweede bus waarin Pieter, Elsa en Conrad gery het, was kort op ons hakke. In stadige aksie het ek gesien hoe die bus begin swaai het en die volgende oomblik het dit deur die heining om die dam gebars.

“Ek het onmiddellik gegil en geskreeu: ‘Stop die bus! Stop die bus!’ Ek het my baadjie en sak gegryp en vorentoe gehardloop. Teen die tyd dat ek voor was, het die busbestuurder steeds nie gestop nie. ‘Julle kinders is altyd stout en lastig,’ het die bestuurder kwaai vir my gesê en ek het hom vas in die oë gekyk: ‘Oom, die agterste bus het nou net in die dam ingery. Stop asseblief.’ Hy was egter vasberade en het gesê hy gaan nie stop nie, hy sal wel stadiger ry. As ek dan wil uitklim moet ek maar uitspring.”

Die eerste noodoproepe

Dit is presies wat Karen gedoen het. Sy het haar skooltas en baadjie uit die steeds bewegende bus gegooi, uitgespring en na ʼn vriend daar naby se huis gehardloop. Daar het sy gevra of sy die telefoon kan gebruik. Dit was in die jare voor selfone en gelukkig het sy die JG Strijdom-hospitaal se nommer uit haar kop geken. Haar ma was in ʼn administratiewe pos by die hospitaal se kleuterskool werksaam en elke middag moes sy of haar sussie haar ma bel om te laat weet hulle is veilig by die huis. Karen onthou dat ʼn mens gewoonlik lank gewag het voordat jou oproep by die hospitaal se sentrale beantwoord is, maar daardie middag het die foon skaars een keer gelui voordat die operateur dit beantwoord het.

Sy het aan hom gesê dat die skoolbus in die dam is en dat hy asseblief ambulanse en noodpersoneel daarheen moes stuur. Sy het hom ook gevra om die polisie te laat weet. Sy sou die skool bel. Karen onthou nou nog die geskokte reaksie op albei hierdie oproepe. Nie die skool of die hospitaal het toe al geweet van die bus wat in die dam is nie. Hierna het sy weer ʼn keer die hospitaal gebel, die keer om met haar ma te praat. Sy het geweet haar ma sou uitvind van die ongeluk en sy wou haar gerusstel dat sy en Brenda veilig is. Daar was egter geen antwoord by die kleuterskool nie, en Karen is terug na die damwal.

“Teen die tyd was daar reeds helikopters in die lug en ek het die sirenes gehoor. Die polisie was ook reeds besig om die gebied af te kordon, maar ek was midde in die chaos op die damwal. Oral het mense in groepe saamgedrom en een van die mense wat ek voor my op die grond sien lê het, was die busbestuurder. Ek kan hom nou nog sien ruk en roggel en snak na sy asem. Sommige van die dinge wat ek daardie middag en aand op die damwal beleef het, het ek genadiglik vergeet. Daaroor is ek dankbaar. Ander dinge bly my weer helder by.

“Terwyl ek verslae na die chaos om my gekyk het, was Elsa se pa meteens by my. Hy het al twee sy hande om my regterhand gesit, my in die oë gekyk en vir my gevra: ‘Waar is my kind?’ Vir ʼn oomblik het ek gewonder waarom hy nie van Elsa gepraat het nie, maar na ‘sy kind’ verwys het. Agterna het ek besef die idee dat dit sy kind is, kom vanuit ʼn plek êrens baie dieper en seerder. Sy hande was ys, ys, yskoud. Wat ek nie vir hom kon sê nie, was dat Elsa reg agter ons gelê het, bedek met ʼn kombers. Sy was een van die eerstes wat uit die water gehaal is. Toe hy my vra waar sy kind is, het ek net my skouers opgetrek. Ek wou nie doelbewus vir hom jok nie, maar ek het eenvoudig nie die moed gehad om vir hom te wys waar Elsa lê nie. Ek het hom met trane in die oë agterna gekyk en gesien hoe hy hulpeloos en verwese wegstap en in daardie oomblik het ek vir die Here gevra om my te vergewe,” vertel Karen, die pyn steeds hoorbaar in haar stem.

Vir haar familie het daar ook baie angstige ure verbygeloop. Iemand het haar skooltas en baadjie op die sypaadjie gekry, maar haar nie tussen die massa mense op die oewer raakgesien nie. Haar pa en ouer suster Sonja het na al die hospitale en lykshuise gegaan om haar te soek, maar moes uiteindelik onverrigter sake huis toe keer. Karen vertel dat haar pa in een nag spierwit grys geword het. Hy is ook kort daarna as ʼn diabeet gediagnoseer, ook weens die skok. Toe sy heelwat later die aand van die dam af by die huis kom, het ʼn radiostasie vanuit hulle huis nuusberigte uit gesaai. Deel van hierdie nuusberigte was dat Conrad Marx, Elsa van Heerden en Pieter Koen, drie van die vriende met wie sy nog die oggend gestaan en skerts het, hulle lewens verloor het. Die berigte het ook vertel hoedat Pieter ongelooflik dapper was en vyf kinders gered het, maar met die sesde probeerslag self verdrink het.

Die stilte na die tyd

Sy onthou hoe hulle die volgende dag verslae op die skoolgrond rondgestaan het. Sommige mediamense het toestemming gekry om onderhoude met die oorlewendes te voer, maar niemand wou praat nie. Selfs nou ná 36 jaar is daar min mense wat bereid is om hulle ervarings te deel. Tog het die Facebook-inskrywing op Nagkantoor haar laat besluit om tog met haar storie na vore te kom. Die tyd was uiteindelik ryp vir haar om haar verhaal te vertel, sê sy. In 1997, met die tienjarige herdenking van die voorval, het sy ʼn afspraak met ʼn joernalis van De Kat gehad om haar weergawe van die noodlottige dag te deel, maar sy het op die laaste nippertjie gekanselleer. Dit was bloot nog te seer en te rou en sy wou nie wonde weer oopkrap nie.

“Mense wat nie daarby betrokke was nie kan dalk dink dat ʼn mens teen dié tyd lankal moes aanbeweeg het. Dis nie so maklik nie. Ek is nie ʼn oor-emosionele persoon nie, maar hierdie voorval het baie diep gesny. ʼn Mens dink daar moet al ʼn rofie gevorm wees, maar voor die rofie nog nie so droog is dat dit vanself afval nie, is die wond nog nie gesond nie. Ek glo almal wat op ʼn manier hierby betrokke was, wat kinders of boeties en sussies verloor het, se pyn is na al die jare nog niks minder nie. Dis ʼn baie diep en pynlike wond en daarom skram mense daarvan af weg. Dit is bloot makliker om stil te bly.

“Het dit my uitkyk op die lewe verander? Ja beslis. Ek moes daardie dag eensklaps grootword. Ná daardie dag weet ek die lewe is kort en ʼn mens moet jou vriendskappe koester.

“Die datum 27 Maart is soos ʼn tatoeëermerk permanent op my hart aangebring. Dis ʼn swart merk wat nooit sal weggaan nie. Dit het ʼn geweldige effek op my gehad, maar met die tyd het die impak bietjie vir bietjie minder geword. Jy vergeet nooit heeltemal daarvan nie, maar party van die fasette raak sagter. ʼn Mens sal altyd na die sorgvrye tienervriendskappe verlang, maar dan leer jy ook om aan te gaan. Jy leer om die mooi te onthou. Terselfdertyd het ek geleer jy moet dáár wees vir die mense vir wie jy lief is en wat jou liefhet. Binne letterlik ʼn oogwink kan iets ingrypend gebeur en dinge kan so verander dat niks daarna ooit weer dieselfde sal wees nie.”

Karen, nou Erasmus, woon saam met haar man, Pieter, en hulle kinders in Maastricht, Nederland.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Irma

Ek het geen kind geken wat in hierdie busramp betrokke was nie maar na al die jare bly dit vir my nog steeds ‘n baie hartseer en tragiese gebeurtenis.

Boeing

Westdene en wie onthou nog Coalbrook ook?

Kattebol

My man op daardie tydstip was in Vorentoe hoërskool. Sy jonger sibbe was op daardie dag nog leerlinge daar. Gelukkig kon hulle huistoe stap. Ons het soveel keer daar gery, dit was die pad na sy ouerhuis. Mag almal wat deel van daardie tragedie was God se krag en liefde ervaar.

Smurf

Was voorwaar n bitter swart dag….dit het almal landswyd verslae en met skok gelaat…….selfs ons wat daai tyd nog op skool was…