Kuier in Nagkantoor: Doug Lee – meesterfotograaf

Doug Lee

Iemand wat ʼn onuitwisbare nalatenskap in die koerantbedryf gelaat het, is die nuusfotograaf Doug Lee wat op 10 Februarie 2019 aan ʼn hartaanval gesterf het.

Doug het onder meer vir die Sunday Express, Citizen en Rapport gewerk. Praat jy vandag met oudkollegas oor Doug, is dit nie net sy foto’s van gehalte wat hulle so goed onthou nie, dit is ook sy menswees wat hom kop en skouers bo ander laat uitstaan het. In haar Nagkantoor-plasing op 15 November, wat Doug se verjaardag sou wees, deel Sarie van Niekerk wonderlike herinneringe van tye toe sy en Doug die land agter stories aan deurkruis het: van Musina in die noorde, tot Vryburg in die weste.

Hulle het die land van noord na wes deurkruis

Sarie van Niekerk

Sarie vertel dat sy en Doug mekaar maar net altyd in die kantoor se gange raakgeloop en vir mekaar geglimlag het. Die dag nadat sy in 1998 met vervroegde pensioen moes uittree, het Doug haar gebel: “Jy is mos nou ʼn vryskutjoernalis. Van vandag af begin jy saam met my werk,” was sy woorde aan Sarie. Dit was die begin van vele reise agter stories en foto’s aan, en in hierdie tyd het Sarie se respek vir Doug se werkswyse, sy geduld om vir die regte foto te wag en selfs kilometers ver te ry op soek na die regte foto, al hoe meer gegroei.

“Elke storie saam met Doug was ʼn belewenis op sy eie en elke keer het ek nuwe dinge by hom geleer en met iets nuuts daar weggegaan. Die storie wat my egter altyd sal bybly, is die storie van ʼn jong man wat ná matriek Amerika toe gegaan het om daar oeste van die lande af te haal. Hy was nie eens ʼn week in Amerika nie, toe kry sy ouers, wat in Vryburg gewoon het, die boodskap dat hy dood is. Hy het van die trekker af geval en die vrag het bo-op hom beland.

“Ek en Doug is die volgende oggend vroeg weg Vryburg toe. Toe ons in Vryburg aankom, was dit al waaroor die mense gepraat het en teen die tyd wat ons gaan slaap het, het ons reeds ʼn afspraak met die ouers vir die volgende dag gemaak.

“Daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Wat ons nogal geruk het, was toe die ouers vertel het dat hulle die seun se organe geskenk het om oorgeplant te word. Op daardie manier het hulle seker gemaak sy dood was nie verniet nie. Glo my, almal teenwoordig was in trane. Selfs Doug, wat bekend was as ʼn geharde nuusfotograaf, het daardie dag trane afgevee,” sê Sarie.

Elke jaar, op 15 November, gaan eet Sarie ʼn stukkie koek. Spesiaal om Doug se verjaardag te herdenk.

Doug sal ook onthou word vir sy wonderlike natuurfotografie

Buks Pietersen

Buks Pietersen, oudkoerantman, het ook oor die jare dikwels saam met Doug op ʼn soektog na ʼn storie uitgegaan. Wat Buks veral van Doug sal bybly, is Doug se beskeie aard. “Hy het nooit verering of erkenning gesoek nie. Doug was ʼn natuurmens wat elke geleentheid wat hy gehad het gebruik het om in die Kgalagadi of Krugerwildtuin te kom sodat hy natuurfoto’s kon neem. Doug het ook glo altyd ʼn spesiale houtkissie in sy kar saamgery. Daarin was die nodige speserye en toebehore om ʼn impromptu braaivleis moontlik te maak.

“Een van die wonderlikste ervarings wat ek saam met Doug gehad het, wat dadelik in my gedagtes spring, is ons reis na Namibië toe ons met die mense van Sesriem gaan gesels het en in die Kgalagadi gaan oorslaap het. Om dit saam met Doug te doen, was ʼn ongelooflike voorreg,” sê Buks.

ʼn Ander ervaring wat hy ook nie kan vergeet nie, was die keer toe hy, Doug en De Wet Potgieter Lesotho toe is tydens ʼn staatsgreeppoging. “Dit was met tye ʼn angswekkende ervaring,” sê hy. “In die strate van Maseru het die Basotho’s met hulle lang komberse rondgeloop. Gʼn mens kon weet of hulle dalk ʼn vuurwapen daaronder wegsteek nie. Bo, vanuit die koppies, het die skote geklap.

Pietersen en De Wet Potgieter tydens Operasie Boleos in Lesotho

“Dit was Operasie Boleos. Die Suid-Afrikaanse Weermag en die weermag van Botswana het in Lesotho ingegaan om Lesotho in die dreigende burgeroorlog te help. Ons het laatnag deurgery Lesotho toe. Die volgende oggend het ons besluit om uit Maseru uit te ry, in die rigting van die Hoogland Waterskema. De Wet het die voertuig bestuur en Doug het alleen agter gesit sodat hy vanuit albei vensters foto’s kon neem.

“Toe ons êrens om ʼn draai kom, was ons meteens binne-in ʼn lokval van die Suid-Afrikaanse Weermag. Jy het net soldate oral in die koppies sien lê, gereed om te skiet. Hulle het ons voertuig afgetrek, maar het gelukkig gou agtergekom ons is nie deel van die rebellemagte nie. Dougie het koel en kalm gebly en fantastiese foto’s geneem. Ook een van my en De Wet tussen die soldate wat daar gereed gelê het om aan te val. Doug was voorwaar ʼn uitsonderlike mens, vriend en kollega op wie jy te alle tye kon staatmaak,” sê Buks.

Doug het die stories gaan háál

Herman Jansen

Iemand wat ʼn baie lang pad saam met Doug Lee geloop het, is Herman Jansen wat vanaf 1991 ʼn nuusredakteur by Rapport was en uiteindelik in 2015 as adjunkredakteur van Rapport uitgetree het. “In hierdie tyd het Doug met menige stories by Rapport opgedaag, want,” sê Herman, “hy wou beslis nie net knoppies druk en foto’s neem nie, maar ook die stories gaan haal. Rêrigwaar ʼn wonderlike koerantman.” Herman lag en sê sommige joernaliste was nie altyd so beïndruk met Doug se werkswyse nie, want Doug sou nie wag dat die son behoorlik op is voordat hy agter ʼn storie aanry nie. Hy sou sommer douvoordag vertrek en dan moes die laatslapers maar inklim of agterbly.

“Daar is niemand soortgelyk wat ek in my vyf, ses en dertig jaar by die koerante ervaar het nie. Hy was die stil, sterk tipe. Absoluut solied en ʼn moerse goeie, ordentlike en eerlike ou. Hy het krag en waardigheid uitgestraal en my altyd aan ʼn karakter in ʼn cowboy-fliek laat dink. Ek was so lief vir hom,” vertel Herman.

Herman sonder Doug se storie oor die polisieman wat met liggaamsdele gesmous het uit as ʼn wonderlike voorbeeld van dit wat Doug met die samewerking van sy informante kon regkry. Hierdie is een van die fotostories wat in Herman se boek Ikone, Skurke en Scoops – Die beste fotostories 1970 – 2010, opgeneem is. Hierdie boek is tydens die veertigste verjaarsdag van Rapport uitgegee. Dit bevat van die belangrikste nuusgebeure uit daardie tydperk, maar bied ook aangrypende vertellings van die fotograwe wat meer agtergrond oor die stories en foto’s verskaf.

Dirk Colsby met die menshart wat hy gekoop het

“Doug het altyd sulke wonderlike wenke by ʼn privaatspeurder met die naam Dirk Colsby gekry. Op ʼn dag vertel hy toe vir Doug dat hy weet waar om body parts te koop. Doug dog toe Colsby praat van motoronderdele, maar toe hy en die verslaggewer Leon Coetzee die storie opvolg, vind hulle uit dit is liggaamsdele waarvan Colsby gepraat het. Die skuldige, sersant Andre Schutte, was ʼn sersant in die polisie en hy het by die staatslykshuis in Braamfontein gewerk. Daar het hy toe die onwettige besigheid op die kantlyn bedryf.

Doug het vertel dat sy mond oopgehang het toe hy uitvind hierdie ou het feitlik ʼn supermark van liggaamsdele: menslike harte teen R2 000, niere vir R1 000, testikels en galstene teen R500 stuk. Doug het toe na my toe gekom, want hy wou die foto kry. Ons is saam na oom Izak de Villiers toe wat in daardie stadium die redakteur was. Hy het toe ingestem om vir ons die R2 000 te gee sodat Colsby die hart kan ‘koop’ en Doug die nodige foto’s kan neem. Terwyl Colsby toe met die transaksie besig was om die hart by Schutte te koop, het Doug en Leon in die kar gesit en Doug het foto’s geneem. Hulle het toe die hart gekry wat Colsby gekoop het, en Doug het dit die aand huis toe geneem en in die yskas geplaas. Die volgende oggend het hy die hart kantoor toe gebring.

“Ek het besluit om dit dadelik na ʼn patoloog te neem, want ons was bang dit was dalk ʼn varkhart. Die patoloog het egter bevestig dis ʼn menshart, en ons het geweet hier is ʼn storie. Die organe was bestem vir die moetiemark en sangomas het dit gereeld by Schutte gekoop. Doug en Leon het na Transkei gereis om op die spoor van iemand te kom wat die organe koop. Uiteindelik was dit ʼn baie lang ondersoek.

“Intussen het De Wet Potgieter een van sy polisiekontakte, kolonel Paul Loock, gebel wat met die ondersoek gehelp het en uiteindelik vir Schutte in hegtenis geneem het. Doug het boonop die foto geneem waar kolonel Loock en nog ʼn polisieman die oorblufte Schutte in hegtenis neem.

Rapport-span op die trappe van die streekshof

“Later moes ons almal in die Johannesburgse streekshof gaan getuig oor elkeen se rol in die ondersoek. Een van die kosbare foto’s wat ook in Ikone, Skurke en Scoops opgeneem is, is juis waar ons almal so half selftevrede op die trappe van die streekshof staan: Chris Karsten, wat toe die adjunkredakteur van Rapport was, ek, De Wet Potgieter, Leon Coetzee en Doug Lee. ʼn Klomp cowboys wat baie tevrede met hulle werk gevoel het.

“Andre Schutte is in die Johannesburgse streekshof tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis nadat hy aan lykskending en korrupsie skuldig bevind is.

Sersant Schutte word deur die polisie in hegtenis geneem

Die storie van die Suid-Afrikaanse polisieman en sy onwettige handel in menslike liggaamsdele het wêreldwyd opslae gemaak en selfs die voorblad van die Londense Sunday Times gehaal.

“Ek dink vir Doug het die grootste vreugde van hierdie ondersoek daarin gelê dat hy weereens die kans gekry het om die storie te gaan soek,” sê Herman. “Dit kon hy regkry met sy landswye netwerk van kontakte wat hom altyd laat weet het as daar iewers ʼn goeie storie opduik. Met sy dood in 2019 het ek my ou vriend gegroet en op Facebook gesê: Totsiens, meester Lee. Hy was immers ʼn meester!”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.