Kuier in Nagkantoor – Iewers wag daar altyd ʼn storie

Op 20 Mei vertel Gerard van Niekerk, joernalis en televisieman, op Nagkantoor van die keer in 1986 toe hy en ʼn kollega, Eugene Gunning, gestuur is om te rapporteer oor ʼn insident in Botswana. Die Suid-Afrikaanse Weermag het ʼn ANC-kamp buite Gaborone aangeval.

Die twee is met die Vaderland se persmotor, ʼn geel Ford Granada, reguit deur na Mogoditshane om nuus oor die insident in te samel en foto’s te neem. Op pad terug na Gaborone, waar hulle aansoek sou doen om akkreditasie, is hulle van die pad gedruk deur Botswana se Veiligheidspolisie, na dié polisie se hoofkantoor geneem en uiteindelik in die Broadhurst tronk geboender. Meer as 24 uur later is hulle eers vrygelaat en teruggeneem na Gaborone, van waar hulle onmiddellik teruggekeer het na Suid-Afrika. Gerard was gelukkig slim genoeg om die filmrol met die foto’s wat hulle in Mogoditshane geneem het, weg te steek in die voertuig voordat die polisie hulle in die tronk gegooi het.

Op ʼn vraag van een van Nagkantoor se lesers, of dit nie dalk ʼn bietjie onverantwoordelik was van die nuusredakteur om die twee op so ʼn gevaarlike sending te stuur nie, het ʼn koor van stemme opgeklink: As daar ʼn storie was wat iewers gelê en wink het, het jy nie ʼn oomblik gehuiwer nie. Dan sou jy maar die ystervuis van die gereg trotseer en doen wat ʼn joernalis móét doen: Kry die bleddie storie!

As die storie daar is, máák jy ʼn plan om daarby uit te kom

Agter tralies

Fantie van der Westhuizen.

Dis natuurlik nie net Gerard van Niekerk en Eugene Gunning wat as joernaliste iewers in die moeilikheid met die gereg beland het nie. Vele joernaliste het een of twee sulke stories om te vertel.

Fantie van der Westhuizen, ʼn geliefde joernalis wat onder meer by Rapport en Vaderland gewerk het, lag alte lekker wanneer hy gevra word of hy ooit toegesluit is. Hy ís toegesluit, erken hy dan ruiterlik, maar dit was alles sy eie doen en late wat hom in die sop laat beland het.

“In 1970 het ek as ʼn jong kadetjoernalis by Die Vaderland begin werk,” vertel hy. “Aanvanklik het ek bloot vertaalwerk gedoen van die SAPA-berigte. In daardie tyd het ek nog skrummie gespeel vir Diggers-klub en soms vir Transvaal. Een van my spanmaats was Dave Frederikson wat lief was om soms geld op die perde te verwed. Op ʼn dag het daar van iewers af geld na die Frederikson-familie se kant gekom. Nogal ʼn aardige bedrag. As ek nou moet terugdink, verbeel ek my dit was iets soos R300 000. Sommer ʼn klomp geld vir daardie tyd.

“Dave se ma was bevriend met ene John-Henry Kenny wat die hoofbestuurder van die Bank van Lissabon in Johannesburg was. Sy ma vra toe vir Kenny om die geld vir haar by die Bank van Lissabon te belê. En toe verdwyn Kenny, met die geld en al. Hy was vir ʼn hele paar maande weg voordat hy uiteindelik iewers gevange geneem is.

“Sy saak kom toe in die landdroshof in Johannesburg voor, daar waar ek soms die kans gekry het om hofstories te doen. Ek was die dag daar toe hy vlugtig voorgekom het, en ek wou die storie uit die perd se bek kry. Kenny het my geken, want hy was altyd by die rugbyoefening wanneer ek en Dave geoefen het. Die polisiemanne by die hof wou niks weet van my pleidooi om met Kenny te gaan praat nie. Ek het die opset geken en geweet daar is aanhoudingselle onder die hof en besluit toe om my kans te waag, ek sóú die storie kry.

ʼn Moeilike hofordonnans

Fantie van der Westhuizen hanteer die ‘bedankings‘ met oorlede Jan Taljaard en Keki Pienaar se foptroue in Vegkop, die mediamense se kuierkroeg in Doornfontein.

“Daar was veral een hofordonnans waarvan ek nie gehou het nie, maar hy het nog minder van my gehou. Ek besluit toe om hom te donner, want dan sou hulle my sekerlik toesluit en onder in die selle gooi. So gesê, so gedaan. Nie lank ná ek die vuishou geplant het nie, is ek toe afgevat onder na die selle toe, waar John-Henry Kenny inderdaad was. Ek het hom nogal jammer gekry. Hy het ʼn hoë posisie in die bank beklee en jy kon hom altyd deur ʼn ring trek. Nou het hy soos ʼn boemelaar gelyk. Terwyl ek toe daar by hom gesit het, het hy my die hele storie van al sy wedervaringe vertel.

“ ʼn Paar uur later het Frans du Toit, die assistent-redakteur, my kom haal. Hy was ʼn aangetroude neef van my en het hom oor my ontferm. Die volgende dag het my storie die voorblad gehaal, maar kan jy glo, hulle het my nie eens ʼn byline gegee nie! Daar het bloot gestaan: ‘Hofverslaggewer’.”

Fantie lag heerlik oor hierdie herinneringe. Die storie het boonop netso ʼn lekker nadraai gehad, vertel hy dan. Marius Jooste was in daardie tyd die grootbaas van Perskor. Hy was maar ʼn befoeterde man wat ʼn reputasie as bombasties en effens onbeskof gehad het. Op ʼn dag het Marius Jooste hom na sy kantoor ontbied. Op pad daarheen het Fantie glo gewonder watter een van sy manewales hom nou weer ingehaal het aangesien die ou korrelkop hom persoonlik wou spreek. Toe hy instap, het Jooste hom vir ʼn hele halfuur gekapittel oor sy hare wat so lank was. Dit was immers die sewentigerjare en baie jong manne het hulle hare lank gedra. Uiteindelik het Jooste darem by die punt uitgekom.

“Baie geluk met die storie,” het hy buffelagtig gesê, maar darem bygevoeg: “As jy reg werk, behoort jy dit nog ver te bring!”

ʼn Gevaarlike reis deur Zimbabwe

Foeta op die IIala-boot op pad na Likomo eiland tydens sy en Quinton Coetzee se reis in 1988.

Foeta Krige, skrywer van die boek The SABC8 was ook ʼn koerantjoernalis voordat sy loopbaan by die destydse SAUK begin het. Hy het oor die jare wonderlike avonture in Afrika beleef. Hy lag wanneer hy gevra word of hy ooit in hegtenis geneem is.

“Kom ek vertel jou eerder van die keer toe ek nié in hegtenis geneem is nie,” sê hy en begin dan sy verhaal.

“In 1988 het ek en my vriend Quinton Coetzee besluit om vanaf Pretoria deur Zimbabwe na Malawi te ryloop. Dit was tydens die noodtoestand en verhoudings tussen Suid-Afrika en Zimbabwe was op ʼn laagtepunt ná twee aanvalle op beweerde ANC-basisse in 1986 en ’87 in Zimbabwe. Daar was ook twee bomontploffings in Harare in Oktober 1987 en in Bulawayo in Januarie in 1988 wat aan Suid-Afrikaanse insurgente toegeskryf is.

“Vier Suid-Afrikaners, Michael Smith, Barry Bawden, Guy Bawden en Kevin Woods was in daardie tyd in die Chikurubi-maksimumgevangenis in Harare in verband met vyf aanvalle op ANC-basisse in Zimbabwe. In Junie 1988 was daar ook glo ʼn mislukte poging van die Spesmagte om die vier te bevry. Die gevolg was dat enige Suid-Afrikaner in Zimbabwe met agterdog bejeën is en as ʼn moontlike spioen beskou is. Selfs die departement van Buitelandse Sake het Suid-Afrikaners gewaarsku om nie na Zimbabwe te reis, of êrens foto’s te neem nie.

“Ons grootste uitdaging met hierdie reis was dat ek ʼn joernalis was en Quinton ʼn majoor en oorlewingsdeskundige in die SAW. Op ons visumaansoek was ons beroepe dus liewer aangedui as student en boer.

“In Suid-Afrika het ons nie gesukkel om ryloopgeleenthede te kry nie en op die tweede dag is ons te voet deur die grenspos en oor die Beitbrug. By die grenspos het iemand ons weer opgelaai en by die Lion Elephant Motel langs die Bubye-rivier, sowat 80 km van die grens, afgelaai.

ʼn Foto op ʼn brug

Die foto wat Foeta amper in die moeilikheid laat beland het. Op die brug oor die Bubye-rivier.

“Omdat die grenspos vir die dag toe reeds gesluit was met geen verkeer wat noorde toe gegaan het nie, het ons in die skemer met ʼn paar biere in die middel van die teerpad op die brug gaan sit en wonder waar ons die nag sou slaap. Ons geld was maar min en die motel te duur. Daar en dan besluit ek toe om die oomblik op film vas te vang en aangesien dit byna donker was, moes ek toe ʼn flash gebruik.

“Die kamera was skaars terug in die sak toe word ons omring deur ʼn patrollie Zimbabwiese soldate, elk met ʼn AK-47 op ons gerig.

“Die bevelvoerder wou toe weet watse lig hy gesien het. Ons vertel toe maar dat ons sigarette opgesteek het. Quinton het so ewe ʼn pakkie Peter Stuyvesant en ʼn aansteker uitgehaal ter illustrasie.

“What cigarettes are you smoking?” wou die onvriendelike bevelvoerder toe weet.

“Peter Stuyvesant,” het Quinton geantwoord en die pakkie na hom toe uitgesteek.

“Ah, American cigarettes. Where do you come from?” was die bevelvoerder se volgende vraag.

“Ons het vertel dat ons op ʼn wêreldtoer is en dat ons in Suid-Amerika begin het. Nou is ons vanaf Suid-Afrika op pad na Malawi. Dit was eintlik nie so ʼn groot leuen nie. Ek en Quinton het ʼn paar jaar vantevore ʼn ekspedisie deur die Amasone onderneem en ons was regtig op pad na Malawi.

“Een ding wat ons lankal geleer het, is om nie sonder ekstra kartonne sigarette, en ekstra sonbrille, in Afrika in te gaan nie. Nadat ons vir al die soldate sigarette uitgedeel het, was die situasie minder vyandig. Terwyl ek toe die karton sigarette terugsit in my rugsak, het daar ʼn poo-poo cushion uitgeval. Die een wat so ʼn ongeskikte geluid maak as iemand niksvermoedend daarop gaan sit. Nou wou die bevelvoerder agterdogtig weet wat dit dan is. Ek het dit dadelik opgeblaas en op die teerpad geplaas. “Sit asseblief daarop,” het ek hom uitgenooi.

ʼn Redelike absurde toneel

Quinton Coetzee maak kos onder ʼn kremetartboom.

“Die poepgeluid wat uit die kussing ontsnap het, het die hele groep soldate laat uitbars van die lag, maar die bevelvoerder was woedend. Hy het die kussing opgeblaas en een vir een moes die manskappe daarop gaan sit sodat hy vir hulle kon lag. Dit was ʼn redelike absurde toneel. In die pikdonker Afrika-nag, in die middel van die N1 teerpad na Harare, met AK-47’s wat rondlê, gaan sit ʼn patrollie soldate een vir een op ʼn poepkussing, tot groot vermaak van hul bevelvoerder.

“Teen die tyd wat die soldate ons verlaat het en ons ons tuisgemaak het in die motel se swembadpompkamer, was ons Stuyvesant-voorraad redelik uitgedun, maar ons het geweet hoeveel soldate die omgewing patrolleer, waar hulle opleiding ontvang het en wanneer hul skofte wissel.

“Teen sonsopkoms was ons weer langs die pad met ons rugsakke, omring deur die soldate van die vorige aand. Terwyl hulle ons sigarette rook, vertel hulle van die Britse paartjie wat die nag op die brug betrap is terwyl hulle foto’s geneem het. Ons vind toe uit dat dié brug ʼn strategiese sleutelpunt is en daarom is die neem van foto’s verbode. Hulle vertel toe hoe hulle die paartjie kaal laat uittrek het en motel toe laat stap het waar hulle verder ondervra is.

Foeta Krige oorhandig ’n paar van oorlede Lou Henning se spotprente aan De Wet Potgieter by Nagkantoor, Kaapsehoop.

“Intussen het die grenspos oopgemaak, en die motors het een-een begin verbyry, maar niemand het dit gewaag om by ons stil te hou nie. Ons was dan omring deur soldate.

“Do you think it’s possible for you to go and stand somewhere else?” het ek effens versigtig vir die bevelvoerder gevra. Dadelik was hy weer agterdogtig.

“Why?”

“Ons het toe verduidelik dat ons nog graag daardie aand in Harare wil wees, maar dat die motoriste bang is vir die soldate en daarom nie wil stop nie.

Nadat hy ons lank stip aangekyk het, het hy sy AK-47 gegryp en voor ʼn aankomende motor ingespring. “Take these people to Harare,” het hy gebulder.

Ons het by die oorblufte vrou in die motor geklim en haar gou gepaai en verduidelik dat sy ons nie regtig tot in Harare hoef te neem nie. ʼn Paar honderd kilometer verder het sy van die grootpad afgedraai, en ons daar afgelaai. Daardie aand was ons wel in Harare. Danksy die weermag van Zimbabwe, en Peter Stuyvesant!”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.