Kuier in Nagkantoor: Koos Doep – kind van die wind

Koos was sku vir die kamera.

Sewe en dertigjaar ná sy dood, bly Koos du Plessis op ʼn besonderse wyse steeds lewendig deur sy musiek.

In 2013 het die Afrikaanssprekende publiek sy “Kinders van die wind” onomwonde aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Op 17 Januarie vanjaar, ʼn dag of wat ná die herdenking van Koos se dood in die vroeë oggendure van Sondag 15 Januarie 1984, deel Morné van Rooijen, ʼn redakteur by Protea Boekehuis, sy kort Koos du Plessis-huldeblyk op Nagkantoor. Die reaksie op Morné se plasing is groot: 705 lesers reageer, 71 lewer kommentaar en 94 deel die plasing. Die terugvoer is oorweldigend positief en oor een ding stem die mense saam: Koos het veels te vroeg gesterf en die musiek- en liriekeskat wat hy nagelaat het, is ryk en besonders.

Gerhard Kleijn het destyds baie nou saam met Koos Doep, soos almal hom genoem het, gewerk. Gerhard is steeds aan die skryf en saam met sy vrou Angie gee hulle Die Bronberger, ʼn gemeenskapspublikasie uit.

Gerhard en Angie Kleijn.

“In die vroeë sewentigerjare is ek van Die Transvaler af oorgeplaas na die Oggendblad. Koos was toe die hoofsubredakteur en ek het gereeld saam met hom in die nagkantoor gewerk en ons het goeie vriende geword.

“Wanneer die koerant gesak het, het Koos sy kitaar uitgehaal en dan het ons gesing. Sy kitaar was maar altyd saam met hom. Ons was so ʼn kuiergroepie wat onsself skertsend die Mitchellstraat Mannekoor genoem het. Dit was Koos Doep, die uwe, Kobus Blignaut en Louis Roux wat self ʼn baie goeie musikant was en verskeie instrumente kon speel. Etienne Kriel was deel van die kuiergroep maar hy moes sy mond hou, want hy was baie vals,” onthou Gerhard.

Koos was ʼn woordkunstenaar sonder weerga, sê Gerhard. Nie net was sy redigering onverbeterlik nie, maar hy kon ʼn opskrif vir ʼn berig in ʼn ommesientjie uitdink. Met ʼn glimlag vertel Gerhard van die keer toe daar in die koerant ʼn berig was oor ʼn baie jong meisie van 13 wat ma geword het. Koos het dadelik ʼn opskrif gereed gehad en die koerant het verskyn met die kop boaan die berig: “Mossie maar ma”. Iemand wat nie baie gelukkig oor dié opskrif was nie, was die redakteur Harald Pakendorf en Koos is heel diplomaties berispe, getrou aan die aard van hierdie redakteur. Gerhard onthou ook ʼn keer toe die Apiesrivier sy walle oorstroom het en ʼn Oggendblad-leser heel benoud die koerant geskakel het om te vertel dat die water besig is om alles te oorstroom. Koos het die telefoon beantwoord en rustig vir haar gesê: “Bly kalm Mevrou, ons stuur solank die persskuite uit.”

Koos se ander kant

Mornay du Plessis.

Mornay du Plessis, Koos se weduwee, sê dis juis sy humorsin en sy stoute streek, wat haar as ʼn jong student na hom toe aangetrek het.

“Koos het beslis nie net ʼn donker kant gehad nie. Ek en een van sy studentemaats het nou die dag weer gelag oor daardie tyd. Veral toe ons terugdink aan die manier waarop hy almal poetse gebak het, grappies gemaak en met mense gekgeskeer het. Ongelukkig het die donkerte maar met die jare gekom en dit en drank was nie ʼn goeie kombinasie nie,” sê sy.

ʼn YouTube-video wat ook in dieselfde tyd op Nagkantoor gedeel is, bevat wonderlike beeldmateriaal van Koos du Plessis wat sit en sing en gesels oor sy musiek. Dit was ʼn program wat ʼn paar jaar ná sy dood deur die destydse SAUK gemaak en uitgesaai is. Sy ouers, ouer broer, ʼn suster en van sy vriende gesels openhartig oor Koos en hul herinneringe aan hom. Dit is algemeen bekend dat Koos glad nie lief was vir publisiteit nie en nie sommer sou staan vir ʼn foto nie. Mornay vertel toe dat die opnames van Koos gemaak is deur Tienie Theunissen, wat ook vir ʼn jaar by Oggendblad saam met Koos gewerk het en wat in daardie tyd by die filmskool gestudeer het.

Carl Theunissen, of Tienie soos baie mense hom ken, is een van die vennote van Theunissen en Van den Heever Filmmakers. Hy vertel dat hy as kameraman by die SAUK begin werk het kort nadat hy vir ʼn jaar lank as subredakteur by Oggendblad gewerk het. Hy het voorgestel dat daar ʼn program gemaak word oor al die opkomende jong Afrikaanse kunstenaars. Deel van hierdie opnames is dit wat gesien kan word in die YouTube-video oor Koos du Plessis.

“Omdat ek Koos goed geken het en ons oor en weer gekuier het, het die opnames baie natuurlik gebeur. Veral dié waar hy sit en gesels oor seker aspekte van sy musiek. Hy het voor die tyd geweet watter vrae ek hom gaan vra en wat hy gaan antwoord.

Tienie Theunissen.

Die opnames is sommer in my huis gedoen want hy het my huis goed geken en daar was ook ʼn kitaar waar hy sommer net kon sit en speel. Koos het nie gevoel hy is uitgelewer aan een of ander joernalis wat aan dinge in sy persoonlike lewe wil kom krap nie,” vertel Tienie.

Wanneer Tienie aan Koos terugdink, fokus hy graag op Koos se briljante brein. Hy was een van die twee slimste mense wat hy ooit ontmoet het, sê hy reguit. Koos was die een en die ander een was ook ʼn Du Plessis, PG du Plessis. Hy wil graag hê dat Koos vandag beoordeel moet word op die styl en die inhoud van sy werk en hoe tydloos sy musiek was en steeds is. Hy vertel dat hy gereeld vir Koos gevra het waarom hy nie na kunstenaars soos Herman van Veen, Bob Dylan of Leonard Cohen luister nie. Dan het Koos altyd gesê dat hy nie beïnvloed wil word nie.

Koos het geglo in die musiek wat hy geskep het

Mornay sê dit het Koos moedeloos gemaak dat die groot platemaatskappye nie in sy musiek belanggestel het nie.

“Hy het altyd baie vertroue in sy eie goed gehad en geweet dat dit goeie materiaal is. Die feit dat Koos se musiek nog altyd gebruik word en al hoe meer gebruik word en baie erkenning kry, het ons glad nie verwag nie. Dit is darem ʼn besonderse eer dat sy “Kinders van die wind” as die beste Afrikaanse liedjie ooit aangewys is. Koos het op ʼn keer vir my gesê dat sy musiek nog eendag my pensioen gaan wees. Ongelukkig is dit nie heeltemal waar nie, want in Suid-Afrika kom die tantieme vir musiek maar met dribs en drabs in.”

‘n Koerantuitknipsel uit Koos se dae.

Sy onthou hoe Koos destyds van sy musiek vir Katinka Heyns gespeel het toe Sonneblom Films op soek was na musiek vir hul nuwe televisiereeks, Phoenix en Kie. Elke keer as Katinka gesê het dat ʼn spesifieke liedjie nie gaan werk nie, wou Koos moed opgee omdat hy dan aangeneem het sy musiek is nie goed genoeg nie. Hy was in ekstase toe hulle wel ʼn paar van sy liedjies gekies het om in die reeks te gebruik, waarvan “Kinders van die wind” as die temalied gekies is.

“Ons was met vakansie in die Suidkus toe van ons vriende uit die ou Transvaal ons gebel het om te sê dat daar nou ʼn televisiereeks met Koos se musiek daarin op die kassie is en dat almal mal is oor die temalied. Ons het maar in ʼn restaurant gaan sit en eet net om dit ook te kan sien,” sê Mornay laggend.

Die klop aan die deur

‘n Bloedjong Koos en Mornay du Plessis op Touwsrivier-stasie.

Op Sondag 15 Januarie 1984 het die polisie om halfeen die middag aan haar voordeur kom klop, vertel Mornay. Sy was eintlik nog nie bekommerd nie, want Koos het hom nie aan tyd gesteur nie. Hy het nie eens ʼn horlosie aan sy arm gedra nie. Hy het baie dae van vyfuur die middag tot tweeuur in die oggend gewerk, en dan het hy enige tyd huis toe gekom: drieuur, vyfuur en soms eers die volgende oggend tienuur.

“Hy het my baie mooi geleer dat ek my nie moet bekommer nie,” sê Mornay. Toe die polisieman die nuus van haar man se dood in ‘n motorongeluk aan haar oordra, was sy verstom. Dit was die laaste ding wat sy verwag het. Vandag is sy dankbaar wanneer sy aan die goeie tye terugdink. Niks kan hierdie herinneringe wegneem nie.

Al het Koos du Plessis in die vroeë oggendure van daardie noodlottige Sondagmôre gesterf, sal sy musiek altyd by ons bly. Sy mooi melodieë, sy betekenisvolle, maar gestroopte lirieke, sy treffende beelde en metafore. Op ʼn keer het Koos Doep gesê: “My liedjies, hulle praat van my. Ek het niks meer oor myself te sê nie. Trek hulle uitmekaar en skryf oor hulle, maar los my maar uit. Ek is ʼn doodgewone ou.”

Doodgewoon? Aikôna! Hoe verkeerd was Koos nie met daardie beskrywing nie!

Laat ons nie praat nie,

Die tyd is verby.

Niemand is kwaad nie,

En albei is vry.

Kom kyk deur die ruite,

die nag staan en blom.

Woorde hoort buite,

Want hartseer is stom.

Jy hoor my nie meer nie

ek sê maar totsiens.

Ek sal jou nie steur nie

ek loop ongesiens.

Want jy is in oorde

waar woorde nog blom.

Ek groet sonder woorde

want hartseer is stom.

Woorde uit “Groet sonder woorde”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wessel ·

Hy sou nog so baie kon skryf , wat ‘n groot verlies was sy vroeë afsterwe nie !? Ek luister gereeld na sy (4) cds . Die beste !

Tanniepetoors ·

Ek luister nog steeds baie graag na sy musiek en geniet dit elke keer. Diep mens gewees met iewers baie hartseer weggesteek.

koos10 ·

Ek was bevoorreg en saam met sy dogter. Karla, in ‘n koor in Pretoria te sing. Ons het altyd informeel tydens kampe, Koos se liedjies gesing, en Karla eenmaal daaroor uitgevra. Sy het geantwoord dat dit ‘n eer was dat haar pa se musiek so onthou word. Dis nou nie verbatim nie.

Sandra ·

Musiek wat met die hart praat. Mag Koos Doep altyd deur sy musiek voortleef. ‘n Diep siel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.