Kuier in Nagkantoor – Krugersdorp-tonnelroof

Wat onthou jy van 1977? Die lysie van nuushoogtepunte is lank: Dis die jaar waarin Elvis Presley gesterf het, koningin Elizabeth het haar 25ste jaar op die troon gevier, die Concorde onderneem sy eerste kommersiële vlug, die eerste Apple II-rekenaars word verkoop, Star Wars betower rolprentgehore reg oor die wêreld en Steve Biko sterf in aanhouding. Dit is bloot ʼn paar van die nuusgebeure wat uitstaan. ʼn Ander voorval wat hier in Suid-Afrika plaasgevind het, en wat koerantopskrifte reg oor die wêreld gehaal het, is die tonnelroof in Krugersdorp wat oor die Paasnaweek van 1977 uitgevoer is.

Op 30 Maart vanjaar het Wouter Botes ʼn vraag op Nagkantoor gevra en genoem dat hy op soek is na meer inligting oor die Krugersdorp-tonnelroof. Die lesers het vinnig begin saamgesels en ʼn hele paar interessante dinge is genoem, soos iemand wat vertel het dat sy gesien het hoe die sand met kruiwaens weggery is.

In die nadraai van hierdie gewaagde rooftog, het die koerante breedvoerig hieroor berig. Een van die joernaliste wat ook hieroor geskryf het, Dawie van Heerden, sê dat hierdie een van die stories is wat maar altyd aan ʼn mens sal knaag, juis omdat niemand ooit vir die misdaad aangekeer is nie. Baie van die gebeure het vervaag, sê Dawie, maar een ding wat hy wel duidelik kan onthou, was hoe ontstoke kol. Cowboy Saunders was toe hy by hom opdaag om meer inligting te kry. Saunders was by die Wes-Rand se moord- en roofeenheid en het aan die hoof van die ondersoek gestaan.

Dawie van Heerden

“Ek het toe net by Rapport begin werk as verslaggewer toe die nuusredakteur my stuur om met kol. Saunders te praat. Hy was heel omgekrap want een van die ander joernaliste het ʼn storie geskryf waarin hy hom aangehaal het, maar Saunders het gesê hy het nooit met die joernalis gepraat nie. Saunders was toe woedend vir al wat ʼn joernalis is. Ek het toe maar alles probeer om hom te soft soap sodat hy inligting met my sou deel. ʼn Mens het nie sommer met kol. Saunders gemors nie want hy was maar ʼn moeilike man.

“Die kompetisie tussen ons almal was groot om meer inligting te kry. Tog is dit tot vandag toe een van daardie stories wat nie regtig ʼn einde het nie. Dit bly vir my verstommend dat niemand ooit aangekeer is vir hierdie misdaad nie. Hulle het voorwaar hulle huiswerk goed gedoen en seker gemaak hulle laat geen spore nie,” sê Dawie.

Corné Stoltz

Corné Stoltz, wat destyds as Johann Stoltz verslag gedoen het, het in daardie tyd by die Rand Daily Mail gewerk en sy kantoor was net sowat 20 meter van die bank af, reg oorkant die straat. Hy onthou hoe hy meer as twee maande lank daar verby die winkel gestap het, en elke keer gewonder het waarom die vensters met koerantpapier toegeplak is.

“Die oggend toe hulle die misdaad ontdek het, het ek maar weer soos gewoonlik in die straat afgestap en ek het dadelik gesien iets het gebeur. Dit was net polisie en alles was toegespan. Ek het toe verduidelik dat ek moet deurgaan om by my kantoor uit te kom. Toe die polisiemanne hoor ek is ʼn joernalis, wou hulle my glad nie laat deurgaan nie. Gelukkig het ek vir kol. Saunders gesien wat ook op die toneel was. Ek het hom toe reeds goed geken omdat ons gereeld by hom was oor sekere misdaadsake. Hy het my uiteindelik laat deurgaan. Alistair Sparks was toe die redakteur van die Rand Daily Mail en hy het vir my, Mervyn Rees en nog twee ander joernaliste aangestel om die storie op te volg,” vertel Corné.

Hy het ook die geleentheid gekry om af te gaan in die tonnel en foto’s vir die koerant te neem. Hy en ʼn speurder het deur die tonnel gekruip tot binne in die bank se kluis waar hy ook kon foto’s neem. Agterna het hulle by meer as een geleentheid saam met kol. Saunders gegaan wanneer daar nuwe leidrade opgeduik het. Corné vertel ook dat die redakteur hom aangesê het om ʼn leidraad op te volg. Corné het ʼn rukkie voor die rooftog plaasgevind het, eendag gesien hoe ʼn rooi Mercedes met ʼn afslaankap aan die oorkant van sy kantoor stilgehou het, en hoe die twee mans daaruit klim en by die toegeplakte winkel ingaan. Toe die voertuig later iewers by ʼn huis in Roodepoort opgemerk is, het Sparks hom aangesê om so ʼn bietjie ondersoek te gaan instel. Corné het egter vir twee dae tevergeefs in ʼn heining by die huis weggekruip totdat die bure vir hom gesê het die mense wat daar gebly het, kom al vir ʼn paar dae nie meer daarheen nie.

“Daardie ouens het weggekom met meer as wat almal besef. ʼn Mens sal nooit werklik weet wat die waarde van die juwele is wat in die toesluitkissies in die kluis was nie. Mense gaan tog nie altyd daaroor eerlik wees nie. Daar kon selfs van die kissies gewees het met gesteelde juwele daarin. Ek onthou so goed toe ons foto’s in die bank vir die koerant gaan neem het, het daar twee vroue op die trappies gesit en ween. Die een fotograaf van die Mail het ʼn foto van hulle geneem. Die foto is nooit gebruik nie, maar dit was nogal aardig om te sien hoe die twee gehuil het oor al hulle mooi juwele wat saam met die tonnelrotte weg is,” onthou Corné.

Stef Terblanche

ʼn Joernalis wat self maande lank op die storie geloop het, is Stef Terblanche. Stef was in daardie tyd ʼn joernalis vir Rapport.

“Die storie het dadelik my aandag getrek want dit was ʼn tipe roof wat ons nog nooit voorheen in Suid-Afrika gesien het nie. Iets so reg uit ʼn fliek uit. Die Sondagkoerante het natuurlik nie die storie gebreek nie, maar ons moes juis soek na iets meer as bloot net wat gebeur het.

“Op ʼn dag het ons ʼn wenk gekry dat ene Sophocles Nissiotis beweer dat dit sy broer Harry Nissiotis is wat die bankroof uitgevoer het. Sophocles was toe die eienaar van The Clay Oven, ʼn baie bekende restaurant in Bryanston. Daar was baie ooreenkomste en toevallighede wat ons laat glo het daar steek waarheid in sy storie. Hy het onder meer vertel dat sy broer kort vantevore uit die tronk gekom het waar hy ʼn Duitser, ene Herman Broll, ontmoet het. Dit was dan ook Broll wat saam met hom die tonnelroof uitgevoer het. Daar het toe reeds maande verloop sedert die bankroof in April gepleeg is en Harry het toe vir sy boetie ʼn foto gestuur waar hy by ʼn weelderige hotel in Ciprus gesit het. Harry was voorheen ʼn armgat wat nie ʼn duit op sy naam gehad het nie en nou het hy in weelde geleef. Sophocles het vas geglo sy boetie was een van die rowers. Ook die foto van Harry het merkwaardig baie gelyk soos die identikit van mnr. Nightingale wat die polisie opgestel het,” vertel Stef.

Stef en ʼn fotograaf is een naweek af na die Suidkus want Sophocles Nissiotis het sy The Clay Oven verkoop en ʼn hotel in Margate gekoop. Daar het Sophocles die naweek vir Stef en die fotograaf onthaal terwyl hy vir hulle al die inligting gegee het. Dit het egter nie op enige inhegtenisname uitgeloop nie. Volgens Stef is die Duitser ook later onder vreemde omstandighede in ʼn motorongeluk dood. Tot vandag toe is niemand vir die misdaad aangekeer nie, en niks van die juwele of munte wat gesteel is, is ooit weer teruggekry nie.

Wanneer ʼn mens na al die stories oor die tonnelroof luister, draai ʼn mens se kop behoorlik. Daar word vertel dat die Duitser een aand, ʼn rukkie voor die roof, deur die polisie voorgekeer is in die omgewing van die Standard Bank, ʼn maatband in die hand, en ʼn kaart van die omgewing in die ander hand. Hy is daardie aand laat gaan want dit is tog geen oortreding van enige wet nie. Wie binne die bank het hulle gehelp? Waar het die ondersoek skeef geloop? Wat het van die geld geword? In vandag se waarde sekerlik na aan R100 miljoen. Was Harry Nissiotis werklik mnr. Nightingale? Wat het van hom geword…

Die vrae sal altyd meer as die antwoorde wees.

Hoe is die Krugersdorp tonnelroof uitgevoer?

Een van die mees opspraakwekkende misdade in Suid-Afrika, is die Krugersdorp-tonnelroof wat oor die Paasnaweek van 1977 uitgevoer is. Ene meneer Nightingale het ʼn leë winkelperseel in Krugersdorp gehuur met die klaarblyklike doel om self ʼn besigheid daar oop te maak. Al die inligting wat hy gegee het, was vals: sy adres, en die uiteindelike winkel wat beplan word. Die persoon wat by die verkeerde adres gewoon het wat opgegee is, het nie die moeite gedoen om te laat weet dat die pos aan meneer Nightingale by die verkeerde adres uitgekom het nie.

Intussen het die twee rowers alles gereed gekry vir hulle avontuur. Die leë winkel was bloot vier winkels van die Standard Bank in Krugersdorp af. Hulle het die ruite van die leë winkel met koerantpapier toegeplak, ʼn luik in die vloer ingesit en ʼn tonnel begin grawe. Vir drie maande het hulle daagliks gegrawe, die grond in sakke geprop en dan weer die sakke grond verwyder en elders gaan gooi. Wat boonop in hulle guns getel het, is dat daar ook ander aanbouings in die onmiddellike omgewing was en die kompressors se geluid het ander geraas verdoof. Die bank se sensitiewe trillingsalarm is afgeskakel, juis omdat die ander bouwerk dit onnodig laat afgaan het. Mnr. Nightingale en sy maat het ongestoord gegrawe. In die tonnel het hulle stutte opgesit om die tonnel te beveilig, soortgelyk aan die wat in myne gebruik word.

Gedurende die Paasnaweek het die rowers uiteindelik toegeslaan. Die tonnel het by die bank se ondergrondse kluis uitgekom en hulle het die sementmuur stukkend geslaan en die brandkluis met ʼn oksiasetileenbrander oopgemaak. Die bankrowers het weggekom met R170 000 se kontant, R243 000 se blanko reisigerstjeks, ʼn muntversameling en ʼn verskeidenheid waardevolle juwele wat in die toesluitkissies was. Daar is geskat dat dit ongeveer R587 000 se juwele is, maar niemand kon ooit die presiese waarde bepaal nie. Niks hiervan is ooit gevind nie en die rowers is nooit aangekeer nie. Mnr. Nightingale het waarskynlik in gerief oud geword. Fanus Rautenbach, wat destyds ʼn geliefde radio-omroeper was, het skertsend gesê dat die drie hoofverdagtes in hierdie saak Pik Botha, Sir de Villiers Graaff en Riaan Cruywagen is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Realis Thailand ·

Ek was destyds n Polisie offisier en speurder en weet van die roof
Ek het jare daarna met die toe huidige Hoof van die Speurders sit en eet en hy het my vertel dat die roof deur n Duitser en sy vriend gepleeg is wie na die VSA gevlug het en wie hom later gebel het en in detail van die roof vertel het en dat hulle n soortgelyke roof in die VSA getrek het.
Dit is vir n feit aan my vertel en ek het dit maar vir myself gehou. Die Gnl se hy het die ou bewonder wie die roof getrek het en weggekom het daarmee.
Die is nie n braaivleis storie nie

Harley Davidson ·

Dit was voor my tyd maar wat ‘n klassieke meesterstuk, dit moes mense gewees het met myn ondervinding veral ‘n myn surveyor/ opmeter met ‘n teodilite en ‘n myn kundige vir die bestutting sou ‘n moet gewees het .

SjN ·

Dit het verseker goeie beplanning en harde werk gekos en die skelms het weggekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.