Kuier in Nagkantoor – ʼn Geliefde derduiwel

Dr. Danie Craven en Bliksem. Foto: Hoffie Hofmeister

Vir die jonger generasie sal die treffende foto van die bejaarde man met sy hond wat De Wet Potgieter op 10 Desember op Nagkantoor gedeel het, bloot net ʼn mooi foto van ʼn man met ʼn hond wees. Dié foto, geneem deur die bekwame Hoffie Hofmeister, is ʼn besonderse foto van Dok Craven en sy beroemde hond Bliksem. Dis juis die standbeeld van dr. Danie Craven en sy hond by die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch wat vroeër vanjaar die nuus gehaal het toe hulle albei van maskers voorsien is.

Die reaksie op die Nagkantoor-plasing het vinnig ingestroom, want ʼn hele paar geslagte het Daniël Hartman Craven ook geken as Meneer Rugby, die hartklop van Suid-Afrikaanse rugby. Gou is daar ʼn hele klomp staaltjies oor hom gedeel en almal was dit eens, hy was ʼn legende.

ʼn Sonderlinge bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby

Wat van Danie Craven so ʼn besondere mens gemaak het, was dat hy in alle aspekte van rugby ʼn belangrike en besondere bydrae gelewer het. Eers as ʼn Springbokspeler wat ʼn uitstaande skrumskakel was. Sy sukses as speler is ongelukkig kortgeknip met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In 1949 het hy afrigter van die Springbokspan geword, die posisie vir sewe jaar beklee en ongekende sukses behaal. Wie sal dan ooit kan vergeet dat Danie Craven die afrigter was toe die Springbokke in 1949 die All Blacks ná hulle toer in Suid-Afrika met die kous oor die kop huis toe gestuur het sonder ʼn enkele oorwinning? Hy het ook as rugby-administrateur ʼn ongekende bydrae gelewer en was president van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad van 1956 tot sy dood in 1993. Daarby was hy ook die voorsitter van die Internasionale Rugbyraad in 1962, 1973 en 1979. Sy naam word tot vandag toe gekoppel aan die Cravenweek, ʼn jaarlikse rugbytoernooi vir skoolseuns in Suid-Afrika waarin jong spelers die geleentheid kry om hulle rugbytalent ten toon te stel.

Een van die sportverslaggewers wat ʼn lang pad saam met dr. Craven geloop het, is Gerhard Burger. Gerhard lag en sê ʼn mens het gou geleer dat jy nie Dok Craven se tyd moes mors nie. Met sy kenmerkende bry sou hy jou sonder meer die kop behoorlik was indien jy probeer vis het vir feite. Tog was hy altyd bereid om stories vroegoggend te deel, gereed vir die middagkoerant. As jy dit sou waag om hom nié die oggend te bel nie, en daar breek ʼn lekker storie daardie dag, was jy behoorlik in die moeilikheid, sê Gerhard. Hy onthou ook hoe Dok Craven altyd wanneer daar ʼn perskonferensie op die lughawe was ná een van sy oorsese besoeke, gevra het vir ʼn blikkie Fanta Grape.

“Met een van die vergaderings van die Internasionale Rugbyraad wat in Edinburgh, Skotland, gehou is, was ek saam as deel van die mediaspan. Die een dag het Dok Craven my saamgenooi op ʼn besoek aan die kasteel in Edinburgh wat hoog op ʼn koppie uittroon. Ons het so ʼn bietjie rondgekyk en toe sê hy vir my ek moet vir my ʼn wapenrusting van ʼn ridder soek tussen die klomp wat daar uitgestal is. Ek is maar ʼn kort ou, net vyf voet sewe lank en ek was baie groter as al die wapenrustings wat daar uitgestal is. ‘En toe,’ wou Dok Craven weet, ‘kon jy ʼn pak kry wat jou pas?’ Ek het net gelag en gesê dit lyk my hulle was almal skaars groter as ʼn dwerg. Dok Craven het vas geglo dat die mensdom al hoe groter word en soveel te meer die rugbyspelers. Hierdie voorval het in die sewentigerjare gebeur. Ek wonder wat hy sou sê indien hy kon sien hoe groot vandag se rugbyspelers is?” sê Gerhard.

Professionele rugby, ʼn doring in sy vlees

Herman le Roux.

Een van die opmerkings by die plasing op Facebook was oor Dok Craven wat so sterk gekant was teen die idee om van rugby ʼn professionele sport te maak. Hy het hom sterk daarteen uitgespreek dat enigiemand geld wil ontvang om rugby te speel! Benadie Snyman, een van Nagkantoor se lesers, onthou hoedat Dok Craven op ʼn tyd gesê het dat geldrugby aan prostitusie grens. Dok was ook besonder kwaad vir sekere Springbokke wat elders geldrugby gaan speel het.

Herman le Roux, wat meer as 40 jaar lank as sportskrywer vir verskeie publikasies gewerk het, het ook ʼn lang en interessante pad saam met Dok Craven geloop. Hy was op verskeie van die oorsese toere waar Dok Craven saamgetoer het. Hy lag en sê gelukkig het Dok Craven later toe hy eenmaal in Londen gekom het, vir Tom van Vollenhoven vir ʼn ete genooi om te wys dat hy nie meer só kwaad is vir hom nie.

“ʼn Storie wat my helder bybly, het gebeur tydens die Springbokke se 1965-toer na Nieu-Seeland. Terwyl die Springbokke daar getoer het, het min. HF Verwoerd sy uitlating gemaak dat die All Blacks nie welkom sal wees indien daar Maori’s in die span is nie. Dit het geweldige reaksie by die oorsese pers uitgelok. Almal wou met hom praat om te hoor wat sy siening van die saak is en het gebel na die hotel waar ons tuisgegaan het. Ek was die dag in die voorportaal toe Dok met die trappe afgestap kom. ‘Kom saam met my,’ het hy gesê en ons is toe daar weg na ʼn Turkse stoombad om van die lastige joernaliste ontslae te raak. Hy het gedink hy gaan daar in die stoom onsigbaar wees, maar selfs daar tussen die stoomdampe het mense hom nog genader vir kommentaar,” sê Herman.

Hy het egter die grootste agting vir Dok Craven gehad en ná laasgenoemde se dood het hy in ʼn huldeblyk gesê om ʼn vriend te wees van Dok Craven, en vir meer as 40 jaar gereeld met hom kontak te kon maak om sy rugbystories te skryf, troon uit bo al die ander loopbaanhoogtepunte.

Om op die harde manier te leer

Johan Esterhuizen.

Johan Esterhuizen, nog ʼn sportjoernalis wat onder meer vir Hoofstad, Beeld, Citizen en Rapport geskryf het, onthou Dok Craven as moeilik, maar regverdig. Johan lag wanneer hy vertel dat hy as jong verslaggewer behoorlik by die diepkant ingegooi is deur sy sportredakteur, Neil Steyn.

“Dit was in 1974 met die Britse Leeus se toer na Suid-Afrika. Ek was ʼn youngster en het in daardie tyd net oor netbal en tennis geskryf. Neil wou die een of ander iets van Dok Craven weet en het gevra ek moet hom bel. Dit was ʼn groot oomblik om die vername man te bel en om die gesprek te begin, het ek gesê: ‘Goeiemôre, Dok, hoe gaan dit met jou?’ Hy was nie so vriendelik nie, want hy het my van geen kant af geken nie. ‘Wat het dit met jou te doen?’ het hy kortaf gesê en ek moes toe maar vinnig by my eintlike vraag uitkom.

“Dieselfde ding het twee maal gebeur. Die derde keer, toe my sportredakteur weer vir my vra vir Dok Craven se kommentaar, was ek gereed vir hom. Weer het my vraag gekom: ‘Goeiemôre, Dok. Hoe gaan dit met jou?’ Weer het hy geantwoord: ‘Wat het dit met jou te doen?’ Hierdie keer was ek egter reg vir hom. ‘Dok, as dit goed gaan met jou, dan gaan dit goed met SA rugby.’ Net daar het hy sy hele houding verander en ʼn hele 30 minute met my gepraat oor Suid-Afrikaanse rugby. Van toe af het ons ʼn goeie verhouding gehad en ek het hom graag gaan groet wanneer ons mekaar by geleenthede raakgeloop het,” sê Johan.

Die Vrystaatse seuntjie, gebore op die plaas Steeton in die Lindley-distrik, het voorwaar ʼn merkwaardige pad geloop. Nie net het hy oor drie doktorsgrade beskik nie, maar hy was internasionaal ʼn gerekende rugbykenner en administrateur wat oral waar hy gegaan het diep spore getrap het. Die heerlike storie oor hom en Bliksem is dat wanneer die dominee kom kuier het, het die hond skielik ʼn nuwe naam gehad: Lightning!

Herman le Roux som die lewe en werk van dr. Danie Craven uitstekend op: “ʼn Ou kollega van my, Gert Kotze wat ook die sportredakteur van Die Vaderland was, het dit eenkeer so goed saamgevat: ‘Is daar iemand in die wêreld wat meer van rugby weet as dr. Craven? En is daar iemand wat harder werk vir die spel as dr. Craven?’ Beter kan ek dit nie stel nie!”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebookblad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebookblad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.