Kuier in Nagkantoor: ʼn Goeie storie verg ʼn vernuftige joernalis

Stef Terblanche.

Die digitale era waarin ons leef, waar jy met die druk van ʼn knoppie onmiddellik ʼn magdom foto’s en inligting kan versend, het die taak van ʼn joernalis en ʼn fotograaf aansienlik vergemaklik. Dit was egter nie altyd so nie. Gesoute joernaliste en fotograwe van ʼn vroeëre era moes behoorlik hulle slag ken om die nuus én foto’s by hulle kantore elders in die land te kry. Saktyd was nie onderhandelbaar nie en alles moontlik moes gedoen word om seker te maak die nuus en die foto’s haal betyds die volgende dag se koerant. Dit het soms vernuftige inisiatief geverg.

Op 20 Augustus deel Stef Terblanche in ʼn plasing op Nagkantoor die wonderlike anekdote van Desmond Blow, ʼn verslaggewer van die Sunday Express, wat probeer het om al die ander joernaliste te fnuik. Die storie moes van ʼn klein Vrystaatse dorpie deurgebel word na die Johannesburgse kantore, en Desmond het sonder meer die tiekieboks gesaboteer.

ʼn Aandete in die hotel

Stef lag lekker wanneer hy vertel dat hy nie hierdie voorval eerstehands beleef het nie, maar wel ʼn paar keer in sy loopbaan ook slim te werk moes gaan om seker te maak die scoop is syne. “In een van die insidente, terwyl ek vir Rapport ʼn verslaggewer was, was daar ʼn babamoord op Kroonstad. Die vrou het saam met haar kêrel gebly, en dié het haar baba vreeslik mishandel en uiteindelik doodgemaak. Ons klomp joernaliste het almal tydens die moordverhoor op Kroonstad toegesak. Die meisie en haar familie het almal daar in die woonwapark gebly.

Stef Terblanche.

“Ons almal het natuurlik probeer om haar te oortuig om met ons ʼn onderhoud te doen sodat ons die storie uit die perd se bek kon hoor. Ek het haar een dag saamgeneem dorp toe om kruideniersware te koop, en te probeer pols om inligting te kry. Toe kom ek agter Gary Dickson, van Sunday Times, vat haar daardie aand vir aandete hotel toe en dan sou hy sommer die onderhoud met haar doen. Net daar het ek haar toe oortuig dat Gary nie die ou is in wie se geselskap sy aandete moet geniet nie. Ek wou haar graag vir ete neem.

“Ek het ʼn tafel in die hotel bespreek, en die aand daag ek toe met die meisie aan my sy by die hotel op. Arme Gary het daar by ʼn tafeltjie vir haar gesit en wag, en tot sy verbasing het ons net verbygestap en buite hoorafstand gaan sit. Die ou was maar lekker suur, maar ek het die storie gekry. Hy het dit maar in die gees van dinge gevat. Jy weet mos hulle sê: All is fair in love and war. Die ergste was dat ek ʼn paar jaar later ook by die Sunday Times gaan werk het en toe was dieselfde Gary my nuusredakteur. Maar nou ja, in Kroonstad kon ek hom uitoorlê, en dit is al wat tel. Vir ʼn Sondagkoerant het jy net een kans om met die beste invalshoek te kom.”

Die kyk in die tannie se oë

Herman Jansen.

Herman Jansen, wat ook ʼn joernalis vir Rapport was, onthou ʼn geleentheid in 1989 toe hy en die fotograaf Eugéne Labuschagne na Mbabane in Swaziland moes ry. Damian de Lange, sy vriendin Susan Westcott en Ian Robertson, ook bekend as die Broederstroom Drie, is weens terrorisme aangekla. Al drie was lede van die toe verbode ANC en is in ʼn klopjag met ammunisie en plofstof betrap. Klaarblyklik was De Lange van plan om Pelindaba op te blaas. Susan se ouers het in Mbabane gewoon en Herman en Eugéne het daarheen gery om foto’s van Susan by haar ouerhuis te kry. Die vorige naweek het Herman en die fotograaf Hoffie Hofmeister Broederstroom platgery vir foto’s van die opslagplek.

“Toe ek en Eugéne die dag daar uitklim, het ons gedink ons het ons kanse verspeel. Charmaine Naidoo van Sunday Times was heel tevrede reeds by die Westcotts in die huis en sy het boonop ʼn foto’tjie van Susan in haar hande gehad. Een wat blykbaar daar rondgelê het. Die tannie het ons onmiddellik daar uitgeboender, maar toe ons kar toe stap, het Eugéne vir my gesê: ‘Dié antie lyk asof sy van ʼn dop kan hou.’ Eugéne het my aan die dink gesit en ons het by ʼn drankwinkel gestop, ʼn bottel whiskey gekoop en is toe maar weer terug na Susan se ouerhuis.

“Nadat ek die bottel vir die tannie gegee het, het haar hele houding verander. Sy het meteens alles vertel en selfs vir ons foto’s van haar dogter uit ʼn raam gehaal. Dit was nie bloot net die kiekie waarmee Charmaine daar weg is nie. Agterna was Charmaine goed die duiwel in vir my. ‘Hoe het julle dit reggekry?’ wou sy weet. Sy het gedink sy is in die binnebaan want sy en Susan was saam op skool. Nogal een of ander fancy privaatskool daar in Mbabane. Wat sy nie geweet het nie, is dat die bottel whiskey waarmee ons teruggegaan het, presies soos Ali Baba se open sesame gewerk het.”

Hoe vinnig kan jy op wighakke hol?

Tina Swiegers.

Die laat sewentigerjare was ʼn tydperk van onstuimigheid in suidelike Afrika. Rhodesië, soos ons buurland toe bekendgestaan het, was ʼn kookpot van politieke onrus. Henry Kissinger, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het dit goedgedink om sy neus in almal se sake te kom druk. Hy het onder meer ʼn besoek aan eerste minister John Vorster by die presidensie, Libertas, soos dit voorheen geheet het, te bring. Die media is uitgenooi om foto’s te neem en oor die gebeure verslag te doen. Abrie Swiegers was as fotograaf die afgevaardigde vir Beeld om foto’s te neem en Freek Swart was die politieke verslaggewer. Tina Swiegers, wat later Abrie se vrou geword het, moes ʼn atmosfeerstorie vir die koerant oor die gebeurtenis doen.

“Dis ʼn dag wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie,” vertel Tina. “Daar was ʼn massa persmense. Op ʼn punt tydens die samesprekings het John Vorster die deure laat oopmaak. Die fotograwe kon ingaan en het foto’s geneem dat dit bars. Tot op ʼn punt, toe staan John Vorster soos gebruiklik op en sê: ‘Dankie Menere’. Niemand sou dit dan waag om verder foto’s te neem nie en almal moes maar die vertrek verlaat. Ons het egter gewag tot hulle onderhandelings klaar was sodat daar ook foto’s geneem kon word wanneer hulle uitstap.

“In daardie jare kon die pers nie by Libertas parkeer nie en ons motors was almal in ʼn ry in Kerkstraat, ʼn hele paar blokke ondertoe, geparkeer. Terwyl Abrie die foto’s geneem het, het hy een vir een film uitgehaal en dit vir my gegee totdat hy uiteindelik genoeg foto’s gehad het. Ek het daardie dag sommer met my eie Volksie gery en my motor was ook in Kerkstraat geparkeer. Ek het mooi aangetrek vir hierdie spesiale geleentheid en boonop ʼn paar hoë wighakskoene aangehad. Met al die films in my sak moes ek toe laat waai. Volspoed op hoë wighakke vanaf Libertas tot in Kerkstraat waar my motortjie gestaan het.

“Ons kantoor in Pretoria het altyd ʼn sak gekry waarin alles geplaas is om na Johannesburg te neem. Alles moes op die heel laatste teen halfses die middag daar wees, en ek het met die kosbare films in my kar gespring en met die spoed van Michael Schumacher kantoor toe teruggejaag. Uiteindelik was alles die moeite werd. Die volgende dag was Abrie se foto’s groot op die voorblad.”

Stop die vliegtuig!

De Wet Potgieter en PW Botha.

In 1989 het staatspresident PW Botha se bewind tot ʼn einde gekom. Die Groot Krokodil, soos hy gedoop is, het as staatspresident bedank en gesê dat sy kabinet hom versaak het. Een van die redes wat hy aangevoer het, was die reis van die nuwe leier van die Nasionale Party, FW de Klerk, na Zambië om samesprekings met president Kenneth Kaunda te voer. Hy het nie vir PW Botha toestemming gevra vir die reis nie.

Een van die heerlike stories wat De Wet Potgieter in sy arsenaal het, is van ʼn keer wat hy na Die Anker, PW se woonplek in Wildernis, ontbied is.

“Op ʼn dag het ek die boodskap gekry dat ek ʼn draai by hom moet gaan maak. Hy het ʼn mens nooit direk gebel nie, maar altyd iemand anders gekry om die boodskap vir jou te gee. In daardie tyd was ek ʼn verslaggewer by Sunday Times. Ek en ʼn fotograaf het afgevlieg George toe om te gaan hoor wat PW te sê het.

“PW het besluit om sy memoires te begin skryf en een van die dinge waaroor hy wou skryf, was sy gesprek met Nelson Mandela terwyl dié nog in die tronk was. Dit was ʼn geheime ontmoeting en Kobie Coetzee het vir Mandela uit die gevangenis gaan haal om met PW te kom gesels. Een ding wat nie meer ʼn geheim is nie, is dat PW se kantore altyd vol meeluisterapparaat geplant was. Elke gesprek is op band opgeneem, so ook die gesprek met Mandela. Daar is daarna as die Mandela tapes verwys.

“PW was van plan om sy memoires, en van hierdie bande wat so in sy kantoor opgeneem is, aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) te skenk. Toe PW vir Niël Barnard, sy toentertydse goue seun van Nasionale Intelligensie, vra waar die bande is, moes hy tot sy ontsteltenis uitvind dat sy voormalige spioenbaas in sy onverstaanbare ‘wysheid’ besluit het om die bande te vernietig. Niël se adjunk, Mike Louw, het dit in ʼn kruiwa verbrand. PW was woedend en het vir Niël, kort voor ons gesprek, ook na Die Anker ontbied. Die dag het PW vir my die transkripsie van sy gesprek met Niël Barnard gegee en my presies vertel wat daardie dag gebeur het. Ons afspraak met PW was op ʼn Saterdagoggend. Uiteindelik het ons gesprek met PW langer aangehou as wat ons beplan het, en ons het gevolglik die vlug vanaf George-lughawe verpas.

De Wet Potgieter.

“Die enigste ander opsie was om Port Elizabeth toe te ry vir ʼn latere vlug. Die fotograaf het bestuur en ek het op die agtersitplek van die huurmotor gesit en my berigte getik. Daardie dag het ek niks van die skoonheid van die Tuinroete raakgesien nie. Die instrument waarop ek getik het, was so ʼn klein Olivetti megaftertjie waarop jy net drie reëls kon sien. Daar was ook ʼn konsole daaraan en wanneer die storie dan klaar is en dit koerant toe gestuur moes word, moes jy by ʼn telefoon uitkom en die gehoorstuk daar indruk. Wanneer die kantoor aan die ander kant die sein stuur, kon jy dan jou storie wegstuur. Ons het op pad na Port Elizabeth vinnig by ʼn hotel gestop waar ek my storie gestuur het. Nou moes ons net die films in Johannesburg kry.

“Intussen het Sunday Times die lughawe laat weet dat ons op pad is en dat die vlug vir ons moet wag. Ek onthou toe ons by die lughawe kom het ons stilgehou, die sleutels vir die huurmotor teruggegooi en na die aanloopbaan gehaas waar die vliegtuig al gereed gestaan het om te vertrek. Ek het liewer nie na die ander passasiers gekyk nie, maar ek dink nie hulle was gelukkig met hierdie twee [email protected] wat hulle laat wag het nie. Die oomblik toe ons sit, het die vliegtuig vertrek. Die volgende dag was die storie met die foto’s op Sunday Times se voorblad. Ook op bladsy twee, drie, vier én vyf. Dis ʼn jaagtog wat ek nooit sal vergeet nie.”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Julle kan gerus vir Harald Pakendorf nader vir ‘n paar lekker stories uit die dae toe Jeanne Goosen en Koos du Plessis by die destydse Oggendblad gewerk het en die waarskuwing geloop het dat iemand van die veiligheidsdiens glo daar geplant was om die spul glo te verligte joernaliste dop te hou.