Kuier in Nagkantoor: Oom John en die Engelsman

Gustaf Pienaar by John Vorster. Foto: Verskaf

Op 2 November vanjaar het Gustaf Pienaar* in Nagkantoor ʼn heerlike staaltjie gedeel uit die dae wat John Vorster Suid-Afrika se eerste minister was. Gustaf Pienaar, ʼn oud-omroeper by die Afrikaanse radiodiens, het vertel van ʼn keer toe John Vorster doelbewus die aap uit die mou gelaat het. Op 28 Desember 1974 het die eerste minister soos die gewoonte was, van sy vakansiehuis Oubos na die radio-ateljee in Port Elizabeth gegaan vir die opname van die gebruiklike Nuwejaarsboodskap.

Terwyl hulle besig was met die opnames, het minister Vorster se lyfwag vir hom kom sê dat ʼn joernalis van die Evening Post in Port Elizabeth hom graag wil sien. Vorster het hom ingenooi en die joernalis het die een vraag, wat in daardie tyd op almal se lippe was, aan Vorster gestel: “Prime Minister, is there any truth in the rumours that you will shortly be meeting with Mr Callaghan?”

Pienaar verduidelik deeglik in hierdie storie hoe en waar James Callaghan ingepas het en waarom daar soveel bespiegelinge was of Vorster hierdie eertydse Britse minister van buitelandse sake te woord sou staan. Blykbaar het Vorster die gerugte dadelik die nek ingeslaan. Die teleurgestelde joernalis het gegroet en omgedraai om te loop. Maar dit was nie die einde van die storie nie en sonder om iets van Gustaf se storie weg te gee, kan ʼn mens seker sê dat Vorster daardie dag vriend en vyand verras het. Gaan lees gerus die uitstekende vertelling.

Nicholas Brits. Foto: Verskaf

Pienaar verwys in hierdie staaltjie na John Vorster se persoonlike lyfwag: “Altyd was sy lyfwag by – so ’n korterige man met blonde hare en ʼn seunsgesig.” Een van die lesers van Nagkantoor laat weet toe dat sy die man met die seunsgesig ken want hulle was saam op skool. Hy is Nicholas Brits, skryf Sharon Anne du Toit. Daar is kontak gemaak met Nicholas Brits, maar hy was nie ʼn persoonlike lyfwag van Vorster nie. Tog het Brits wonderlike herinneringe aan ʼn tyd in sy lewe toe hy wel deel van die SAP se spesiale wageenheid was wat wag gestaan het by die wonings van die staatspresidente en eerste ministers.

Foto’s van John Vorster uit die album van Nicholas Brits.

Brits het in 1976 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en in 1977 by die spesiale wageenheid. In daardie tyd het hy toe naderby kennis gemaak met Balthazar Johannes (John) Vorster wat vanaf 1966 tot 1978 Suid-Afrika se eerste minister was. Die man met die ruie wenkbroue en die stadige, afgemete manier van praat. Aan sy sy was Tini Vorster, ʼn nooi Malan, wat net so ʼn goeie hart soos oom John gehad het.

Brits vertel: “Een aand het ek wag gestaan naby die kombuisdeur van Groote Schuur waar die eerste minister in die Kaap tuisgegaan het. Ongeveer eenuur die oggend het die deur oopgegaan en hy het uitgestap gekom. Ek het byna op my rug geval want hy was iemand na wie ons opgekyk het. Ek het dadelik op aandag gaan staan, maar hy het vir my gesê om langs hom te kom sit. Dadelik het ek hom geantwoord: “Sir, I am not allowed to sit, as I am on guard.” “O, you are English?” het hy gevra.

Foto’s van John Vorster uit die album van Nicholas Brits.

Daardie jare was daar maar min Engelssprekendes in daardie spesiale wageenheid. Hy het egter opdrag gegee dat ek langs hom moet kom sit en hy het aandagtig met my gesels oor my politieke sienings, waar ek vandaan kom en mettertyd het ons goeie vriende geword want ek is al hoe meer na Groote Schuur gestuur om wag te staan. Hy het my ook altyd gevra vir ʼn sigaret want hy was nie veronderstel om te rook nie, en toe het ek maar gereël dat die wagkantoor altyd ʼn geel pakkie Rembrandt van Rijn-sigarette beskikbaar gehad het.”

Brits vertel hoedat hy ook deel was van die wageenheid wat op Oubos gesorg het vir die veiligheid van die premierspaar. Vorster het blykbaar graag in die Eersterivier gaan afkoel. Daar het hy heerlik op ʼn plastiekbootjie wat aan ʼn tou vas was rondgedobber, ʼn groot hoed op die kop. By een so ʼn geleentheid het Brits van ʼn rots af geklim en sy hakskeen op ʼn skerp klip oopgesny. Vorster se voertuigbestuurder, ene Fourie, het hom deur die rivier gedra terug na die woning waar tannie Tini haar dadelik oor hom ontferm het.

Foto’s van John Vorster uit die album van Nicholas Brits.

“Sy het die wond skoongemaak en verbind, maar gesien dat ek moet steke kry en het die motorbestuurder opdrag gegee om my dokter toe te vat. Daarna het sy die wond getrou verbind en ook vir my ʼn paar van minister Vorster se weermagkouse gegee om oor die verbinde voet te dra. Ek het nou nog die paar,” vertel Brits.

Hy lag oor die hele storie wat Pienaar aangeraak het met die Britse minister wat Vorster eers nie wou te woord staan nie. Dit was beslis een van sy kenmerke, sê hy gou. As Vorster besluit het hy wil jou nie sien nie, kon jy maar vergeet om ʼn afspraak met hom te kry. Die joernaliste wat ongeskik met hom was, het gewoonlik hul moses teëgekom, maar vir die wat hom met respek behandel het, het hy net soveel respek gehad, sê Brits.

“Hy was absoluut ʼn genoeglike karakter. Hy het selfs sommige van die kere wat hulle hom met die helikopter kom aflaai het, gevra dat die helikoptervlieënier ons wagte ook vir ʼn kort rit vat. Dan staan hy alleen op die grond, met niemand om hom op te pas nie. Hy en sy vrou Tini was albei net besondere goeie mense wat altyd besorg was oor die mense om hulle, veral die wat na hulle omgesien het.

“Ek het vir twee dienstydperke gebly en toe ek uiteindelik weg is, so loop die storie, het meneer Vorster in ʼn brief opdrag gegee dat die veiligheidstak van die Polisie waarheen ek oorgeplaas is, mooi na ‘sy Engelsman’ moet kyk. Ek was ook die heel eerste Engelsman in die veiligheidstak, maar het daar ook mettertyd die mense se vertroue gewen,” sê Brits.

Nicholas Brits het in 2017, na 43 jaar in die tegniese afdeling van die polisie se veiligheidstak, uitgetree. Hy woon in Pretoria en bly steeds besig met allerlei nutswerke.

Gustaf Pienaar.

*Gustaf Pienaar is die skrywer van Regsalmanak: 100 stories uit ons regserfenis.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebookblad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebookblad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Selfs eerste ministers is maar net mens! ‘n Praatjie en sigaret in die middernag ure.

Grassie

Ek onthou een opmerking van minister Vorster. Op ‘n perskonferensie het iemand vir hom gesê hy moet plan maak met werkskepping omdat daar witmense is wat werkloos is. Sy antwoord was “Wys vir my een werklose witman en ek wys vir jou iemand wat te lui is om te werk” Dit was goeie dae in ons volksgeskiedenis. Vandag is baie witmense werkloos bloot omdat hulle velle wit is.

Hennie J

Dankie Alita, n lekker leesstuk so in die verdrukking!

Genis

Lekker ou dae… kyk daai mooi ou Super Frelon

Suzette

Dit is werklik aangenaam om van iets anders as moord, doodslag en/of korrupsie te lees. Boonop nog in netjiese Afrikaans.
Dankie.
Ns Maroela Media mag maar sulke artikels se frekwensie opstoot.