Kuier in Nagkantoor – Operasie Cashmere

Drie vure op die strand

Die Muller-gesin se seiljag.

Wanneer Suid-Afrikaners deesdae ʼn idilliese seevakansie aan die Mosambiekse kus beplan, is oorlog die laaste ding waaraan hulle dink. Tog is die tekens van die bitter burgeroorlog wat in die laat tagtigerjare daar gewoed het, steeds sigbaar in die koeëlgate wat sommige geboue ontsier.

In ʼn plasing op Nagkantoor wat De Wet Potgieter op 31 Julie gedeel het, het hy die gedagtes weer teruggevat na die onstuimige tyd toe daar ʼn fel oorlog tussen Frelimo en Renamo in ons buurland gewoed het. In dié plasing vertel hy van die keer toe hy ʼn oproep ontvang het om met sy paspoort aan te meld by Waterkloof-lugmagbasis. Dit was ʼn warrelwind-ervaring want nadat die ligte vliegtuig waarin hy en ʼn paar ander joernaliste gereis het op Maputo-lughawe geland het, is hulle met ʼn helikopter na die SAS Tafelberg op die oop see naby Maputo geneem. Die doel van hierdie sending was om kennis te maak met die Muller-gesin wat kort vantevore na veiligheid gebring is danksy ʼn unieke reddingsoperasie.

Dit was June 1990 en die Suid-Afrikaanse Vloot, in samewerking met die Recces, het hierdie reddingsoperasie aan die kus van Mosambiek uitgevoer. Die Muller-gesin van Oos-Londen se seiljag het op 27 April 1990 aan die Mosambiekse kus, naby Ponta São Sebastião, gestrand. Terwyl die gesin gewag het vir die springgety om weer in te kom sodat die seiljag seevaardig gemaak kon word, het ʼn groepie gewapende jong Renamo-soldate daar opgedaag en Dave Muller en sy vrou, Sandy, en die kinders, Tammy (8) en Seth (5), as gyselaars gevange geneem en na ʼn boskamp sowat 10 kilometer van daar laat loop.

Aan boord van een van die P1569-aanvalsvaartuig

Nick Snyman.

Kaptein Nick Snyman, ʼn afgetrede vlootoffisier, het in Junie ʼn draai in Nagkantoor op Kaapsehoop kom maak en hy het sy herinneringe aan Operasie Cashmere, soos die reddingsoperasie bekendgestaan het, gedeel. In 1990 was Nick ʼn kommandeur in die Vloot en hy was die kaptein van die P1569, later die SAS Magnus Malan, een van die aanvalsvaartuie wat die SAS Tafelberg op hierdie missie vergesel het. Aan boord van die P1569 was ʼn paar Recces en die Barracudas waarmee die reddingspan aan land gegaan het om die Muller-gesin na veiligheid te neem.

“Die P1569 met die Barracudas aan boord, het op Woensdag 6 Junie saam met die SAS Tafelberg en nog ʼn aanvalsvaartuig, die SAS Kobie Coetzee, uit Durban vertrek,” vertel Snyman.

“Ons het vir ʼn dag of twee gewag tot die regte oomblik om die gevangenes te gaan haal. Die Barracudas het op ʼn verkenningstog uitgevaar om al die omstandighede te bestudeer. Daardie aand was daar egter nog geen teken van enige vuur wat op die strand brand nie. Daar is afgespreek dat die soldate drie vure op die strand sou maak as teken dat die gyselaars gehaal kon word. Op die aand van 14 Junie, nadat daar uiteindelik op ʼn skietstaking ooreengekom is tussen Frelimo en Renamo, het die verkenningsvaartuie die vure op die strand gewaar, ʼn hele vier kilometer van die bepaalde plek af, maar die tyd was reg om die gyselaars te gaan haal.

“Ons het nie dadelik die Muller-gesin gesien nie. Hulle is na die SAS Tafelberg geneem waar daar goeie akkommodasie was, die nodige mediese personeel om hulle te ondersteun en sielkundiges vir die ondervraging. Hulle sou ook daar so ʼn bietjie gemak kon ervaar na sewe weke se beproewing in ʼn boskamp. Ons het die volgende dag na die SAS Tafelberg gegaan om die gesin te ontmoet.

“Vandag is ek dankbaar dat ek deel kon wees van hierdie operasie om die gesin te bevry. Ons het ʼn hele paar operasies saam met die Spesmagte uitgevoer, maar hierdie was uniek. Gewoonlik was dit in ʼn aanvalsituasie waar ons saamgewerk het en dan was daar gevaar en opwinding betrokke. Tog kon ons hierdie keer, met hierdie humanitêre operasie, ʼn gesin van vier veilig terugbring na Suid-Afrika. ʼn Wonderlike ervaring.”

Die getoutrek agter die skerms

JJ Needham.

Iemand wat dadelik op die plasing gereageer het, is JJ Needham. JJ werk tans weer in Maputo maar deesdae vir die Broll Property Group. Hy was ook ʼn vlootoffisier en was ʼn lid van militêre intelligensie wat in daardie tyd werksaam was by die Suid-Afrikaanse handelskantoor in Maputo. Hy onthou die voorval goed.

“In daardie stadium was die missie nie ʼn volledige ambassade nie, maar ons het wel diplomatieke paspoorte gehad. Ek was ʼn assistent-handelsverteenwoordiger. Die departement van buitelandse sake het ons ingelig oor die Mullers se lot. In die tyd wat Renamo hulle gevange geneem het, was Suid-Afrika reeds besig om al die verskillende partye bymekaar te kry vir moontlike vredesonderhandelings. Ongelukkig het die Mullers se seiljag op ʼn stukkie strand beland waar Renamo sterk gestaan het. Hulle was dus op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

“Buitelandse sake het intussen kontak gemaak met die Renamo-verteenwoordigers in Portugal. Ons in die handelskantoor het weer baie goeie kontak gehad met die plaaslike ouens wat almal deel van Frelimo was. Die hele idee was om ʼn skietstaking vir ʼn paar uur te bewerkstellig sodat die SA Vloot en die Recces kon inkom om die mense op te pik van die strand af. Ek weet nie wat alles gebruik is in die onderhandelings nie, maar dit het bloedsweet gekos om alles gereël te kry. Kommunikasie was die groot probleem. Die ouens in Portugal moes met die Renamo-mense in Mosambiek gepraat het en met gebrekkige kommunikasiestelsels was dit ʼn nagmerrie.

“Toe die SAS Tafelberg vanaf Durban hier verbyvaar, het hulle ʼn helikopter gestuur om twee militêre ouens hier op te tel wat die proses sou monitor. Intussen het ek saam met ʼn paar militêre ouens opgevlieg en ons het by ʼn huis buite Inhambane gesit en wag vir ongeveer drie dae. Alles totdat die skietstilstand in plek is en die reddingspan kon inbeweeg.

“Daar moes baie toutjies getrek word om alles reg te kry. Frelimo en Renamo het mekaar net eenvoudig doodgeskiet en nie met mekaar gepraat nie. Om albei kante te kry om op ʼn spesifieke tyd ʼn skietstaking te eerbiedig, was nie maklik nie. Dit was ook bloot net vir twee of drie ure en die venstertydperk om die mense uit te kry, was baie klein. Veral omdat dit van die see se kant af moes gebeur het,” sê JJ.

ʼn Storie wat vertel móés word

Dave Muller.

Iemand wat in die middel van al hierdie gebeure staan, is Dave Muller. Dave vertel dat hy en sy vennoot vir meer as tien jaar aan die seiljag gebou het. Op Vrydag 13 April 1990 het hy, sy vrou, Sandy, en die kinders, Tammy en Seth, op die Arwen uit Oos-Londen vertrek op pad na die Bazaruto-eilandgroep aan die ooskus van Afrika.

In die vroeë oggendure van 28 April het Dave met ʼn skok van ʼn slag wakker geword. Die seiljag was op selfstuur gestel, maar dit het op die sand geloop. Hulle sou moes wag tot hulp opdaag, of totdat die gety weer inkom. Seth het intussen besef dat dit sy vyfde verjaarsdag is, en wou graag sy geskenke oopmaak. Terwyl hulle in die skadu van die seiljag gesit het, het Dave en Sandy meteens mense gesien wat aangeloop kom, stokke in die hand. Eers toe hulle by hulle was, kon hulle sien dit is nie stokke nie, maar AK‑47’s. Dit was blote kinders, onthou Dave baie goed. Die kindersoldate het hulle opdrag gegee om alles net daar te los, en saam met hulle te kom. Dit was die begin van ʼn sewe weke lange nagmerrie.

Dave het besluit om die hele ervaring met dagboekinskrywings te dokumenteer. Hulle het hom toegelaat om sy kamera by hom te hou, met die opdrag dat hy nie mag foto’s neem nie. ʼn Opdrag wat hy geïgnoreer het. Met hulle redding was twee van die belangrikste dinge wat hy kon terugneem na Suid-Afrika die kamera en sy dagboek. Sowat ʼn jaar nadat hulle teruggekeer het, het hy sy aantekeninge as ʼn boek aan die uitgewers aangebied, maar dit het byna dertig jaar geneem voordat die boek oor hulle wedervaringe uiteindelik uitgegee is. Not Child’s Play het in November 2019 verskyn.

Van die Renamo-kindersoldate op die strand.

“Die skryf van die boek was ʼn katarsis. Dit wat uiteindelik gepubliseer is, was die derde totale herskryf van die boek. Ek is bly dit het so lank gevat want dit is nou ʼn baie gebalanseerde weergawe van wat daardie tyd gebeur het. Die boek is my eerbetoon aan my familie vir die wyse waarop hulle alles hanteer het. Ek dink hulle was ware sterre,” sê Dave.

Vir Dave en Sandy was dit belangrik om hulle kinders nie te laat besef in watter groot gevaar hulle werklik verkeer het nie. Frelimo het in die tyd wat hulle aangehou is, twee aanvalle op die boskamp geloods – die eerste een  ʼn missielaanval en die tweede een ʼn veel erger mortieraanval waarin ʼn hele paar mense dood is, maar die Mullers het niks oorgekom nie. Hulle het dit bloot as ʼn uitsonderlike avontuur aan die kinders voorgehou, en uiteindelik was daar geen posttraumatiese skade by Tammy en Seth nie. Tammy het ʼn MBA behaal en vir tien jaar in ʼn farmaseutiese rigting in Engeland gewerk. Sy en haar man keer binnekort terug Suid-Afrika toe. Seth is ʼn pediater in die Kaap en het die mooiste twee dogtertjies, sê Dave. Vandag kan hy net dankie sê aan elke liewe persoon wat ʼn rol gespeel het in hulle ontsetting. “Ek dink die mate waarin Tammy en Seth grootgeword het om suksesvolle individue te word, is net ʼn klein eerbewys aan al die verskillende rolspelers – van die presidente tot die skoonmakers op die SAS Tafelberg. Te veel om by die naam te noem.”

Om heling te vind na die nagmerrie

Dave en sy kinders eet vir oulaas in die Renamo-kamp.

Dave vertel dat hy deur die jare op sowat vyf uitreike saam met die kerk na Mosambiek gegaan het. Met die eerste uitreik was hulle sowat tien voertuie wat in Maputo bymekaar gekom het. Van daar is elke voertuig uitgestuur na ʼn ander gemeente in Mosambiek. Hulle het vooraf geen idee gehad waarheen hulle sou gaan nie.

“Ek en die res van die Sterling Baptiste-gemeente in Oos-Londen het saam met Thomas, ʼn tolk, in die kombi gery. Ons het al hoe nader aan die gebied gekom waar ons gevange gehou is, ʼn geweldige angstige ervaring. Op pad na Maxixe, ʼn stad net suid van die Steenbokskeerkring, het ek hom gevra waarheen ons op pad is. Hy het gesê die plek se naam is Agostinho Neto. “Dis ʼn vreemde naam vir ʼn plek in Mosambiek,” het ek gesê want Neto was ʼn voormalige leier van Angola. ‘Ja,’ het Thomas geantwoord en verduidelik dat dit die Inhambane‑hoofkantoor van Frelimo was. Met ʼn skok het ek besef dit is van daar wat al die aanvalle op ons kamp geloods is en dit was vreemd om myself daar terug te kry, maar op ʼn manier ʼn helende ervaring. Veral om te sien hoe die Mosambiekers die oorlog agter hulle gesit het, en aanbeweeg het.”

In No Child’s Play vertel Dave breedweg van al hulle skrikwekkende ervarings, maar daar is geen bitterheid by hom te bespeur nie. Hy het geweldige empatie met die jong soldate ervaar want in ʼn oorloggeteisterde land, waar daar geen toekoms op ʼn jong mens wag nie, is dit so maklik om hoop te verloor. Op ʼn manier het die AK‑47’s waarmee hulle rondgeloop het, hulle bemagtig en dit het die plek van hoop ingeneem. Geen land mag ooit toelaat dat jongmense hoop verloor nie, sê hy dan.

Dave vertel dat hy die oomblik op die strand, toe die Recce in sy duikpak nader gestap het en gevra het of hy Dave Muller is, nooit sal vergeet nie. “Gavin Christie se volgende woorde was: ‘Boy, am I glad to see you!’ Die manne het ons gevra of ons op die strand wou wag tot later die aand wanneer die maan op is en die helikopter ons kon oppik om na die SAS Tafelberg te neem. Die ander keuse was om met die skiboot terug te gaan na die SAS Tafelberg. Dit was ʼn maklike keuse. Ek onthou nou nog dat die see rof was en die boot het byna regop gaan staan en in die sproeireën het die fosfor blink geskitter. Dit het my asem weggeslaan. Hoe verder ons wegbeweeg het van die Mosambiekse kus, hoe kleiner het die vure geword. Dit het my oneindig hartseer gemaak want in daardie oomblik het ek fel onder die indruk gekom van die gruwels en verskrikking van ʼn oorlog.”

Not Child’s Play – Kidnapped. Imprisoned. A true Story

Dave Muller

NB Uitgewers

SBN: 9781928420651

Epub ISBN: 9781928420866

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Goeie storie. Daardie jare was ons veiligheidsmagte goed opgeleide mense en paraat. Vandag is hulle tot bitter min in staat.

Harley Davidson ·

En die arme kaptein du toit wat hulle daar vir twee en ‘n half jaar aangehou het as ek reg onthou was hy ook ‘n recce en is hy uitgelewer aan sa en niemand het hom gaan Red nie.

Jan Seerot ·

Geagte Jasper, daar is ‘n lekker lang video op YouTube van Wynand du Toit waarin hy sy verhaal vertel. Ons het mekaar nie geken nie, maar ek het mense soos hy geken en ek het ‘n soortgelyke verhaal wat nooit vertel is nie.

Soek sy video en kyk dit gerus. Die politiek daaragter is skrikwekkend.

Kerneels ·

Fassinerend! Maar iets wat ek nie mooi verstaan nie, is dat ons ou regering destyds bande of goed gesind wees teenoor Renamo?

Frank John ·

Awesome herhinderinge. Verbasend hoeveel ons in ons kort lewens deur gaan en dan klink en voel dit of sekere dinge Baie lank gelede gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.