Kuier in Nagkantoor: PG in die redakteurstoel

PG du Plessis.

Die geliefde woordsmid, PG du Plessis, sou op Woensdag 14 Julie 87 jaar oud gewees het. Dit was hoeka PG wat in 2004 die teks vir die verhoogproduksie Nagkantoor geskryf het. Hierdie stuk, met Marcel van Heerden en Frantz Dobrowsky in die hoofrolle, was ʼn manier om insae te kry in die werk en lewe van Koos du Plessis, ʼn koerantman wat menig nagte diens gedoen het in die nagkantoor van ʼn paar koerante.

Op 15 Junie het Natie de Swardt in ʼn plasing op Nagkantoor ʼn stuk aangehaal wat PG du Plessis 36 jaar gelede oor ʼn nagkantoor geskryf het. Oor die manier waarop daar geswoeg is om seker te maak dat die nuus die volgende dag in die koerant is. Laatnag is daar dikwels êrens ʼn bottel opgediep want: “kantoorkoffie en kondensmelk is teen eenuur die goorste drinkgoed denkbaar…”

Natie het in die diplomatieke diens gewerk, en was dus nie self ʼn joernalis met binnekennis van die werkinge van ʼn nagkantoor nie, maar het nog altyd ʼn besondere waardering vir die skryfwerk van PG gehad. Die plasing van Natie is ʼn stuk wat opgeneem is in ʼn boek van PG, Het olifante elmboë? Outobiografiese verdigsels wat in 1987 by Tafelberg verskyn het.

Harald Pakendorf onthou

PG du Plessis.

Dr. Pieter Georg du Plessis, het in 1978 assistentredakteur van Die Transvaler geword. In 1979 word hy aangestel as die redakteur van Hoofstad, ʼn posisie wat hy tot in Februarie 1983 sou beklee. Deurwinterde mediaman Harald Pakendorf, wat die stigter-redakteur van Oggendblad was, vertel dat daar in die laat sewentigerjare druk was om die sirkulasiesyfer van onder meer Die Transvaler te laat groei. Marius Jooste, die grootbaas van Perskor het vir Harald gevra om ʼn plan te maak om die sirkulasiesyfer op te stoot.

“‘Daar is twee maniere om dit reg te kry,’ het ek vir Marius gesê. Die eerste sou wees om Die Vaderland verniet weg te gee by kitskosplekke. Hy was egter nie daarvoor te vinde nie en het gesê dat dit darem té goedkoop is. Die ander manier, het ek vir hom gesê, is om aan ʼn klompie kunstenaars elkeen R2 000 te gee sodat hulle dit kon gebruik om hulle kuns te beoefen. Ons sou dan daaroor kon berig. ‘Wie het jy in gedagte?’ wou Marius toe weet. Die eerste naam wat in my kop gespring het, was dié van Pieter. Ons het mekaar in 1973 leer ken toe ek en my gesin uit Rhodesië teruggekom het en ons ons in Pretoria kom vestig het. Toe ek weer hoor is Pieter aangestel as die assistent-redakteur van Die Vaderland. Ek glo my gesprek met Marius het die saadjie vir sy aanstelling geplant,” sê Harald.

Harald en Aletta Pakendorf.

Die Du Plessis- en Parkendorf-gesinne wat naby bure in Meyerspark, Pretoria was, het uiteindelik vir baie jare oor en weer gekuier en Harald het net goeie herinneringe aan sy ou vriend, met wie hy ʼn hond uit ʼn bos oor politieke sake kon gesels.

Altyd op soek na nog ʼn storielyn vir Koöperasiestories

Marius Bakkes.

Een van die joernaliste wat op PG se redaksie was, is Marius Bakkes wat ʼn lang loopbaan as joernalis, televisievervaardiger en reklameman agter die rug het. Marius vertel dat sy pa, Cas Bakkes, en PG saam stigtersdirekteure van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) was. Daar is ook oor en weer gekuier en Marius, sy broers en suster, het gereeld boeke uitgeruil met PG se kinders, Marita en Frits.

“My ma Margaret, en tannie Marie du Plessis het met boeke soos die Hardy Boys seker gemaak die kinders leer die Rooitaal aan. Ek en Jean Oosthuizen het in 1982 en 1983 op die politieke redaksie van Hoofstad gedien. As baas was PG ʼn baie aangename mens wat baie sterk in sy joernaliste geglo en hulle ondersteun het. Ons het ook gereeld op sy plaas Sémoér, buite Rysmierbult gaan kuier waar daar dan tot laat in die nag gekuier is en oor baie dinge gesels is.

“Een ding wat ek goed onthou, is dat hy in daardie tyd besig was met die skryf van Koöperasiestories en dan het hy desperaat vir ʼn volgende aflewering aan ons deure kom klop. ‘Het jy nie dalk vir my ʼn plot nie? Ek sal dit sommer vinnig in my ma se skindertaal skryf’.

“Een Desember moes ek sy huis in Meyerspark op pas. Hy en sy gesin was met vakansie, maar hy was steeds aan die skryf. Dan het hy die kopie deurgefaks na sy huis. Die volgende oggend vroeg moes ek dan na Maraisburg, daar aan die westekant van Johannesburg gaan. Dit is waar die ou myndorpie was waar hulle Koöperasiestories verfilm het. Ek het die faks met die teks deurgevat daarheen waar dit vinnig omskep is in ʼn draaiboek. PG het reeds die dialoog ingeskryf in sy ma se skindertaal.

PG du Plessis.

“My herinneringe aan PG is net goed. Hy was gewis ʼn groter kunstenaar as redakteur, maar danksy ʼn sterk assistentredakteur by name Blaar Grobbelaar, het hy die vryheid gehad om al twee hierdie dinge uitstekend te bedryf, op dieselfde tyd,” sê Marius.

Jean Oosthuizen en daardie vrypostige brief

Jean Oosthuizen.

Jean Oosthuizen, vryskutjoernalis wat saam met Marius op die politieke redaksie van Hoofstad gedien het, deel die wonderlike staaltjie hoe hy as jong student oral aansoek gedoen het, maar nêrens ʼn aanstelling kon kry nie. Op ʼn dag het hy ʼn persoonlike brief aan PG geskryf. Nie lank daarna nie het PG se sekretaresse hom gebel en meegedeel dat PG hom wil sien.

“Met die intrapslag in sy kantoor sien ek toe my brief lê op sy lessenaar. ‘Is jý die een wat so vrypostig was en dié brief vir my geskryf het?’ het hy met ʼn vonkel in sy oog met die deur in die huis geval. ‘n Uur later het ek by sy kantoor uitgestap met ʼn aanstelling as joernalis. My salaris was ʼn volle R300 per maand.

“Dit was die begin van ʼn lang en intieme werksverhouding waar ek die voorreg gehad het om PG du Plessis beter te leer ken: as redakteur, maar ook as mens. Hy was baie stiptelik en die een ding wat hy nie kon verdra nie, was spelfoute. Ek onthou veral die handgeskrewe nota wat een oggend in my tikmasjien gewag het: Jean, twee woorde in Afrikaans spel mens nóóit verkeerd nie: galery en interessant. PG. Daarna het ek nooit weer galery met twee l’e geskryf nie.

“Toe hy destyds weg is by Hoofstad, het hy ʼn afskeidsbrief aan die redaksie geskryf, in sy eie handskrif. ʼn Woordskepping wat niemand hom sal kan nadoen nie. Die volgende paar paragrawe sal presies vertel waarom almal wat saam met hom gewerk het, soveel respek vir hom gehad het.

Die probleem is: jy kry hulle lief, dié goed wat joernaliste heet. Want in hulle kennis, hulle storie-gejaag, hulle verwerking van die dinge wat hulle beleef, sit daar baie moois van wat menswees is: die sin van die rat race dood toe.

En, jy kry ʼn vertroue in hulle. Nie in wat hulle weer gaan aanvang nie, maar iets baie dieper: dis mense dié wat jou, as die werklike ellende kom – soos kanker, skandale, bankrotskap en die ouderdom – nie gaan drop nie.

Hy het tipies PG, tong-in-die-kies, afgesluit: Vir my opvolger het ek raad. Vertrou joernaliste met jou lewe. Maar nie met jou vrou/meisie/dogter of jou geld nie.

Maar met jou lewe wel!

Chris Barnard en PG du Plessis.

“PG het voorwaar lewenslank lojaal gebly teenoor almal wat saam met hom gewerk het. Hy was iemand met wysheid en humor wie se fyn satire die vrye spel van my eie verbeelding ontsluit en so my hele lewensuitkyk beïnvloed het. ʼn Ware Mensch,” sê Jean.

Dr. Roelof Botha se draai in die joernalistiek, danksy PG

Dr. Roelof Botha.

Ekonoom dr. Roelof Botha het ook vir ʼn wyle die pad van die joernalistiek betree, juis vanweë ʼn gesprek met PG. Roelof vertel dat hy in die laat sewentigerjare ʼn rekenmeester was met ʼn BCom-graad wat hy buitemuurs verwerf het. Sy werk as rekenmeester het hom gefrustreer en een aand in ʼn gesprek oor ʼn glasie wyn, het hy dit aan PG genoem. Hy het hom ook vertel dat hy in sy graad 11-jaar in Affies ʼn resensie geskryf het oor WA de Klerk se toneelstuk Waai Westewind, waai. Dit is in die Patrys gepubliseer. “Hou jy van skryf?” wou PG belangstellend weet en toe hy sê dat hy besonder baie van skryf hou, het PG hom dadelik genooi om vir hom te kom werk.

“Ek het dadelik my werk bedank en die volgende dag by Hoofstad aangekom, en eers net as ʼn gewone joernalis begin werk. My salaris het geweldig gekrimp: van R1 000 per maand as rekenmeester, tot R320 per maand as joernalis, maar vandag is ek dankbaar vir hierdie geleentheid wat eintlik net ʼn wonderlike trapklip in my loopbaan was.

“Ná ʼn tyd het die finansiële redakteur van Hoofstad bedank en Kaap toe getrek, en ek is aangestel as finansiële redakteur. Danksy PG, die artikelredakteur Dave Viljoen, die subredakteurs waarvan wyle Koos du Plessis een was, het hulle my geleer om ʼn storie te skryf en ek het soos ʼn hand in ʼn handskoen in die rol van finansiële redakteur gepas. Uiteindelik het die gebrek aan ʼn voldoende inkomste my gevang en het dit my gedwing om weer ʼn loopbaanskuif te maak. Ek het bedank en weer my salaris verdriedubbel toe ek as ekonomiese beleidsraadgewer by die Nasionale Tesourie begin werk het. Dit was ʼn heerlike ervaring en ek sou my hele lewe lank ʼn joernalis kon wees, as dit nie vir die swak betaling was nie.

“PG was geniaal en hy het presies geweet wie om aan te stel om te sorg dat hy ʼn goeie koerant uitgee. Met sy persoonlikheid het hy die hele tyd sy redaksie soos ʼn span benader en hy was ʼn uitstekende bestuurder. As redakteur was hy omring deur kreatiewe mense en dit het hom besonder goed gepas. Sy mensekennis was ongelooflik en hy kon binne ʼn paar minute enigeen se vertroue wen. Boonop was hy visionêr met ʼn oopkop- politieke benadering waaroor hy ook heerlik kon gesels.

PG se entoesiasme het samehorigheid gekweek,” onthou Roelof. “As ek hom kan vergelyk met ʼn drankie, sal hy vonkelwyn wees. Hy was nie net vir my ʼn redakteur nie maar ook ʼn vriend en ʼn mentor. Ek mis hom baie!”

Alita Steenkamp en PG du Plessis.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Charles ·

Baie dankie vir die interessante nuusbrokkies oor PG du Plessis! Dit laat my terugverlang na die goeie Afrikanerdae!

Marietha ·

Goeie artikel oor PG, waardeer dit en mis die stories al meer. Het nooit koöperasiestories gemis nie. Dit kan maar weer ‘n keer uitgesaai word.

Sonia ·

Ek hoop ek is verkeerd, maar sover ek weet was PGDuPlessis by al sy intelligentie ook ‘n Godloënaar, en nie iemand wat eintlik ‘n rolmodel was nie – iets wat ons in ons tyd broodnodig het

Wielspore ·

Dit is altyd lekker om te sit en luister na iemand wat uitstekende kennis het van sy onderwerp en deur taal en stemtoon sy boodskap na die luisteraar oor te dra. Kaapsehoop is lekker naby aan ons en Marius Bakkes lewer gereeld op Laeveld platforms sy bydrae.
Kom kuier by Kaapsehoop Nagkantoor, jy sal weer wil terugkom om weer te kuier.

Karina ·

PG was mos op ‘n stadium Minister van Vervoer. SAL het onder hom geval. Hy besluit toe vol etes op binnelandse vlugte gaan nie meer bedien word nie. Mense was omgekrap. Toe vra hy “Wil julle vlieg of wil julle vreet” Ek onthou hoe lekker my Ma gelag het toe dit oor die radio nuus uitgesaai is.

Delene ·

Jy dink nou aan Min. Hendrik Schoeman. Dis hy wat gevra het, “wil julle vlieg, of wil julle vreet….”

Cherokee ·

Jy is heeltemal reg, Delene, En as ek reg onthou, het Hendrik Schoeman ook op Rysmierbult geboer. Ek neig te dink Pik Botha was ook vanaf daardie geweste.
Ek het op ‘n plaas sowat 15 kilos daarvandaan opgegroei.

Elmarie ·

Karina jy het die kat aan die stert beet. Oud min Hendrik Schoeman was minister van vervoer wat gevra het wil julle vlieg of vreet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.