Kuier in Nagkantoor: Pik Botha – charismaties maar ook digter en filosoof

Pik Botha (Foto: WESSEL OOSTHUIZEN/SASPA)

In Chrisjan Schmidt se plasing op 29 April 2022 op Nagkantoor deel hy ʼn foto van Pik Botha se notas vir ʼn huldeblyk. Dié huldeblyk is gelewer op Ciel Schmidt, Chrisjan se tante, se begrafnis op 17 Maart 2018. Enkele maande later, op 12 Oktober 2018, is Pik oorlede. Volgens Chrisjan was Ciel Schmidt ons land se heel eerste vroue-ambassadeur.

“Het oom Pik gedig?” vra Chrisjan in dié plasing en ʼn koor van stemme het hom vinnig vertel dat Pik ʼn knap skrywer was. Nie net van kortverhale en gedigte nie, maar hy het ook die lirieke vir meer as een liedjie geskryf, onder meer die mooi “Hierso in die Soutpansberge” van Anneli van Rooyen.

(Foto: Wessel Oosthuizen)

Roelof Frederik Botha, oftewel Pik Botha soos almal hom geken het, sou vanjaar sy 90ste verjaarsdag gevier het. Die naam Pik kom glo van Pikkie af. As baba het hy ʼn gebreide pakkie gedra waarin hy soos ʼn pikkewyn gelyk het, vandaar die naam. Pikkie het uiteindelik Pik geword.

Adv. RF Botha het vir die eerste keer in die kollig gekom toe hy deel was van die regspan wat Suid-Afrika suksesvol in die Wêreldhof in Den Haag verdedig het. Dit was in die hofsaak teen Libië en Ethiopië oor Suid-Afrika se mandaat oor die destydse Suidwes-Afrika. Voordat hy in 1977 minister van buitelandse aake geword het, was hy onder meer Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, asook Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA. Ná die 1994-verkiesing is Pik Botha as minister van minerale hulpbronne en energiesake aangestel. Hy het die posisie tot in Mei 1996 beklee.

Pik se storie word neergepen

Theresa Papenfus

Theresa Papenfus, ʼn uitgewer by Litera, se biografie oor Pik, Pik Botha en sy Tyd, het in 2010 verskyn. Theresa vertel dat dit eintlik alles begin het met die idee dat Pik sy eie outobiografie moet skryf, juis omdat hy so vaardig met die pen was. In die tyd toe sy nog by JL van Schaik Uitgewers gewerk het, was sy en die hoofbestuurder van die uitgewery, George Louw, eenmaal in die Uniegebou by Pik Botha in die kantoor om aan hom die versoek te rig vir ʼn outobiografie. Pik wou egter nie daaraan byt nie en het hulle onverrigter sake huis toe gestuur. Daar was wel die troos van ʼn versameling kortverhale – tydskrifverhale uit die jare 50 – wat hy as jong diplomaat geskryf het wat hy vir publikasie beskikbaar gestel het. JL van Schaik Uitgewers het dit in 1997 as die bundel Kortverhale uitgegee.

ʼn Outobiografie sal nie sommer gebeur nie, het Theresa egter mettertyd besef en toe het iemand met die voorstel gekom dat daar ʼn biografie oor sy lewe en sy werk geskryf moet word deur ʼn skrywer wat hom goed ken. Die politieke korrespondent Freek Swart was die eerste keuse, maar kort nadat hy ingestem het om die reusetaak aan te pak, is hy dood. Hierna het Theresa vir Alf Ries, gesoute politieke beriggewer, gevra om dit te skryf, maar Alf moes om persoonlike redes die projek staak. Hy het egter tot sy dood sy samewerking aan hierdie projek gegee. Nog ʼn moontlike kandidaat,  ʼn koerantredakteur, het nie kans gesien nie en Theresa het besef as sy die boek wil laat verskyn, sal sy self die taak moet aanpak.

“Ek het aanvanklik geglo dit sal ʼn paar maande neem, maar uiteindelik het die projek sewe jaar geduur,” vertel Theresa. “In daardie tydperk het ek seker 45 persoonlike onderhoude met Pik gevoer, asook dosyne onderhoude met die mense wat hom geken en saam met hom gewerk het. ʼn Waardevolle bron van inligting was ou koerantberigte. Helena Botha, Pik Botha se eerste vrou wat in 1996 oorlede is, het noukeurig plakboek gehou van al die koerantknipsels oor sy loopbaan. Dit is eintlik ʼn kosbare versameling waarin die hele geskiedenis van Suid-Afrika sedert die 1950’s ontvou.”

Pik Botha en sy Tyd het in 2010 by Litera Uitgewers verskyn. In haar skrywersnotas skryf Theresa: “Pik, dit was ʼn voorreg om jou verhaal, en dié van ons land, ons mense en ons tyd te vertel – ten dele net. Ek is dankbaar vir die geleentheid, en vir die opdrag wat van Iewers af gekom het. Tog vermoed ek die helfte is my nie vertel nie. Daarom sien ek steeds uit na jou storie.”

Die flambojante Pik Botha sou uiteindelik nooit sy eie verhaal vertel nie. Tog is daar meer as genoeg bronne, soos Pik Botha en sy Tyd, waarin ʼn mens meer oor hierdie briljante man kan lees. “Niemand kon sy sjarme ontkom nie, sy ooglopende plesier om uit die digters, die filosofie aan te haal, sy eie gedagtes op ʼn weggooimanier uit te saai … Pik die bon vivant, die drinkebroer, die flankeerder het wel die bewonderde gawe gehad om polities en op diplomatieke terrein te oorleef. Dikwels verguis deur die media, soms gespot, soms bejammer, was hy nogtans ʼn liefling,” som Martie Retief-Meiring vir Pik in haar huldeblyk op LitNet op.

Selfs ʼn ondeunde vraag kon Pik nie sonder woorde laat nie

Johan Pretorius en Pik Botha

Johan Pretorius, voormalige hoof- politieke korrespondent en nuushoof by die SAUK, het in sy loopbaan vanaf 1978 tot Pik Botha se dood in 2018 ʼn besondere verstandhouding en gereelde wisselwerking met Pik gehad. Hy onthou Pik Botha as buitengewoon intelligent.

“Pik was hiperintelligent, in die boonste vlak van intelligensie, en het ʼn ongelooflike verwysingsraamwerk gehad. Hy was iemand wat daarvan gehou het om te filosofeer. Die een ding waaroor hy graag gesels het, was die sogenaamde Black Hole. Dis eintlik die astronomie in sy geheel wat hom besonder geïnteresseer het en hy het wyd gelees daaroor. Pik het ook ʼn lysie vrae aan Stephen Hawking, skrywer van A Brief History of Time, gestuur en hy het hom in 1997 en 1999 in Engeland gaan besoek. Uiteindelik het Hawking in 2008 na Suid-Afrika gekom en ingestem vir ʼn onderhoud met die astronoom prof. David Block. Die enigste voorwaarde wat Hawking gestel het, was dat Pik deel moet wees van die gesprek en hy moet toegelaat word om vrae te vra!”

Johan Pretorius en Pik Botha

Johan deel ook ʼn baie interessante staaltjie oor Pik. Hy vertel dat hy in 1991 saam is toe daar ʼn nuwe Suid-Afrikaanse ambassade in Moskou geopen is. Daar is ook by die geleentheid ʼn onderhoud met min. Pik Botha gevoer en ʼn Russiese kameraspan, wat ook Engels redelik magtig was, het die opname op die Rooiplein, reg voor die Kremlin, gedoen. Johan vertel dat al die nodige vrae gevra is: vrae oor die ambassade en sy prioriteite, die nuwe betrekkinge met Rusland en sy indrukke oor Moskou en Rusland. Net voordat hy die onderhoud afsluit, het ʼn duiweltjie ʼn vraag in Johan se oor geplant. Hy wou sien hoe Pik wat soos ʼn wafferse showman altyd vir die gehoor gespeel het, gaan reageer. “Ter afsluiting, minister, wat is u indrukke van die bordele van Moskou?” het Johan die stoute vraag gevra.

Johan Pretorius

“Pik se amptenare, onder andere Awie Marais, Vic Zazeraj en Rusty Evans, het dubbel gevou van die lag en hul proesgeluide probeer verbloem,” onthou Johan. “Daar is ook ʼn foto geneem van Pik op daardie oomblik. Pik het egter nie ʼn oog geknip nie en met ʼn skewe glimlag ʼn impromptu antwoord, so uit die duim gesuig, op die vraag gegee. Ek kan nie meer sy presiese woorde onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat ek eerder iemand moet vra wat eerstehandse ondervinding het. Alles met ʼn uitdrukkinglose gesig. Gesofistikeerd en skreeusnaaks. Toe die onderhoud eindig, was hy egter nie so uitdrukkingloos nie. ‘Johan, jou bl**sem, hoe kon jy my dit vra?’ Gelukkig het hy geweet ons sou dit nooit uitsaai nie, maar ons lagbuie op die Rooiplein moes selfs die slapende Lenin in sy mausoleum laat wonder het wat aangaan.”

Groot vriende ondanks politieke verskille

Pik Botha, Elsa de Jager en Nic Anicic by die Voortrekkermonument. (Foto: Wessel Oosthuizen)

Wessel Oosthuizen is ʼn persfotograaf wat Pik Botha as ʼn besonderse vriend onthou. Hy vertel dat hy oor die jare verskeie kere die geleentheid gekry het om vir Pik af te neem, maar hulle vriendskap het egter begin een aand toe ʼn gesamentlike vriend van die twee, die Serwiër Nic Anicic, ʼn nuwe fabriek in Benoni ingewy het.

“Toe ek daar opdaag die aand, het Nic na my toe gestap met Pik aan sy sy. ‘I want to introduce you to a fellow Afrikaner,’ sê Nic toe vir my. ‘I am not an Afrikaner,’ het ek van my kant af laat hoor. Die verbaasde Nic wil toe by my weet wat ek dan is as ek nie ʼn Afrikaner is nie. My woorde aan hom was die volgende: ‘I am a Boer.’ Toe ek dit sê, kon ek sien Pik staan met ʼn breë glimlag op sy gesig. Nic wou toe weet wat die verskil tussen ʼn Boer en ʼn Afrikaner is. ‘Wel,’ sê ek toe vir Nic, ‘ons Boere het ons gatte afgetrek oor die berge en die Afrikaners het agternagekom via Kulula.com.’ Hierdie vriend van my het my woordeloos, totaal verstom, aangekyk, maar Pik wou hom morsdood lag. Op daardie oomblik het ons vriende geword. Ons het mekaar verskeie kere gesien, selfs een aand saam by die Russiese ambassadeur gaan eet en ek het by hom aan huis gaan kuier. Ek het agterna baie kere oor daardie oomblik by Nic Anicic se daknatmaakparty gedink. Indien Pik Botha nie so ʼn ordentlike, goed opgevoede en hoogs intelligente man was nie, kon hy dalk anders opgetree het.

Pik en Ina Botha saam met Wessel en sy vriendin Tilla van Vuuren

“Ons vriendskap het oor etlike jare gestrek en ons het nooit toegelaat dat ons politieke verskille inmeng met ons vriendskap nie. Toe ek uiteindelik my outobiografie geskryf het, Boesman van Val, het ek vir Pik gevra om die voorwoord te skryf. Ek het ʼn paar maande daarvoor gewag en toe dit uiteindelik by my opdaag, was dit 11 bladsye lank. Veels te lank vir ʼn voorwoord. Die redakteur van my boek, Gerhard Burger, het toe voorgestel ons moet dit ʼn bydrae maak, en ons het dit toe so gedoen. Hierin het Pik onder meer ʼn wonderlike gedig oor vriendskap geskryf, geïnspireer deur my, sy en Nic se vriendskap. Dit is bloot een van sy pragtige gedigte. Ek glo hierdie skryfwerk van hom wat nou in my boek opgeneem is, was die laaste ernstige skryfwerk wat hy ooit gedoen het. Ek mis hom steeds, maar soos hy in sy gedig sê, op ʼn sekere manier sal ons lewens onuitwisbaar bly, al vergaan ons liggame uiteindelik. Rus sag, my ou vriend.”

As time flows over our lives

Like the tides of the ocean

Wiping out our footprints

On the beach of our agony and ecstasy

Our joy and our sorrow

We wonder

What will remain of our memories?

And suddenly we realise

That the stars will survive as witnesses

Of our exultation and grief

Our distress and triumph

While our wandering planet

Continues to turn around

To mark each night and day.

We believe somewhere, somehow

A record will remain eternally

Of the Intensity

Of our affinity

And the indelibility

’n Kosbare skenking

Pik Botha (Foto: Wessel Oosthuizen)

Wessel deel die volgende kosbare staaltjie oor sy vriend Anicic en wyle Botha. “In die ou Jan Smuts-lughawe se vertreksaal was daar ʼn groot standbeeld van die kunstenaar Danie de Jager wat van 1971 tot 1998 daar gepryk het. Baie keer as ek iemand moes ontmoet vir die eerste keer, het ek sommer gesê ons ontmoet mekaar daar onder die abstrakte standbeeld wat so geroteer het. Toe die lughawe vergroot en vernuwe is, is die kunswerk van Danie de Jager, met die titel In vlug, iewers gestoor. Ongelukkig is dele daarvan afgebreek en gesteel. Iemand het waarskynlik gedink dit is goud.

Elsa de Jager, Danie se weduwee, het egter uiteindelik die beskadigde kunswerk teruggekry. Sy het besluit om dit aan Pik Botha te skenk. Pik op sy beurt het dit weer aan sy vriend Nic Anicic gegee om by sy fabriek in Benoni op te rig. Maar Nic is ʼn baie groot Suid-Afrikaanse en Serwiese patriot. Hy het toe vir Pik gesê dit is ʼn kosbare stuk volkserfenis wat by ʼn plek soos die Voortrekkermonument hoort. Hy besit groot ingenieurswerke en het die kunswerk gaan haal, baie geld bestee om dit te herstel, en dit is toe aan die Voortrekkermonument geskenk. Op 13 Februarie 2013, die dag met die inwyding daarvan, was Nic, Pik en Elsa de Jager daar en ek kon die foto’s neem. Nou het Danie se kunswerk ʼn veilige nuwe tuiste gekry. Die kunswerk is intussen herdoop tot Quo Vadis,” vertel Wessel.

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Harley Davidson ·

En toe wed hy op die verkeerde perd en help ‘om ‘n redelike leier uit te dryf en ‘n onstabiele leunaar as president te kry en die res is geskiedenis

Martie Smartie ·

Daar is ‘n hele klomp witmans wat hierdie fout begaan het, so kom ons laat hom maar rus in vrede. Mens kan ‘n redelike lang lys opstel van ouens wat nou nog leef en ander wat nie meer hier is nie wat die grein en siel van hulle opponente nie begryp het nie en totaal onderskat het. Ons almal sit nou ongelukkig met die gebakte pere.

Gaitsigubib ·

Harley hy het presies geweet waar hy sy wed plaas, dit strook egter nie met dit wat hy vir almal vertel het nie. As ek nog iets se delete hulle my en jou kommentaar.

Treurwilger ·

Baie lekker gelees aan die interessante stuk!
Mal oor sulke vertellinge uit die ‘goeie ou dae’, ongeag die huidige situasie waarin ons ons bevind.
Pik Botha was ook ‘n gewilde Tuks- rasieleier op sy tyd, so vertel sy mede-studente!

Gaitsigubib ·

Ja my vriend die goeie ou dae van die groot gekonkel, nou moet ons kinders ons verlaat vir n ander land, want hulle deel toe eintlik in niks nie. Die wenner vat alles, korrek?

Treurwilger ·

Heeltemal reg, ek is ook nie lid van die bewonderaarsklub nie, daarom, “ongeag die huidige situasie … ”
‘n Interessante stuk oor ‘n invloedryke karakter uit die ou lewe, dis al.

Cherokee ·

Daar was ‘n tyd waartydens sommige konserwatiewes op hom gehoop het, en toe stem hy anc.

Republikein in die Wes Kaap ·

Glad nie my held nie. Een van die oorsake vir ons huidige gemors. Kon sy “bogemiddelde” intelligensie mos beter gebruik het.

Marcello ·

Dankiie vir die deel van die berig, het so heerlik gelees, en terug gegaan in tyd.

Gaitsigubib ·

Ek vind die grappie oor die besoek aan ‘n bordeel in Rusland maar lekker flou. Ek wonder net, as daar iemand was wat hom nie ten minste dubbel gevou het van die lag nie, sou hy dan ‘n verplasing na Put Sonder Water in die gesig staar. Ek dink nogal so!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.