Kuier in Nagkantoor: Roelf Jacobs, die man met die fluweelstem

Albe Grobbelaar

Op 11 Desember vanjaar sal dit al 31 jaar gelede wees wat die omroeper en televisienuusleser Roelf Jacobs dood is. Hy het in die ouderdom van 49 onverwags aan ʼn hartaanval gesterf terwyl hy saam met sy gesin op vakansie aan die Natalse Suidkus was.

Op 8 September deel die vryskutjoernalis Albe Grobbelaar ʼn plasing op Nagkantoor waarin hy lesers daaraan herinner dat Roelf op 6 September vanjaar sy 80ste verjaardag sou gevier het as hy nie so vroeg gesterf het nie.

Die plasing het wye en baie positiewe reaksie uitgelok en almal het goedvoelherinneringe oor Roelf gedeel. Natuurlik kon dit nie anders nie as dat Otterjasie se naam genoem word. Roelf het vir baie jare lank saans ná die nuus kinderstories voorgelees, en hy was ook die een wat die fiktiewe klein varkie Otterjasie in die lewe geroep het.

Albe sê hy was ʼn jong omroeper wat onder Roelf begin werk het en het altyd die grootste bewondering vir Roelf gehad. Vandag dink hy steeds met respek en bewondering aan Roelf terug, en is hy veral spyt dat hy so vroeg gesterf het.

Gustaf Pienaar onthou sy bulderende lag

Gustaf Pienaar

Nog een van Nagkantoor se gereelde gespreksgenote, Gustaf Pienaar, onthou vir Roelf ook baie goed. Hy vertel dat hy en Roelf in die kantore langs mekaar gesit het in Johannesburg, toe Gustaf destyds die organiseerder was van jeug- en tydskrifprogramme in die Afrikaanse Radiodiens, soos dit toe bekend gestaan het. Daar was bloot ʼn tydelike muur wat die kantore van mekaar geskei het.

“Een ding wat ek baie goed van Roelf onthou, is dat hy altyd besig was. Hy sou nooit met sy duime sit en speel nie. Hy kon natuurlik bulder van die lag en ons dun kantoormure kon die klank nooit keer nie. Ek het my altyd verstom aan sy kreatiewe denke. Tydens ons programkonferensie wat ons jaarliks gehou het om moontlike programme vir die volgende jaar te bespreek, het hy altyd voortreflike voorstelle gemaak. Die feit dat hy uitstekend gevaar het in die hiërargie van die SAUK, en reeds op ʼn taamlike jong ouderdom ʼn direkteur was, getuig van die kwaliteit werk wat hy gelewer het,” sê Gustaf.

ʼn Vrou soos Diekie

Roelf en Diekie Jacobs

Diekie Jacobs en Roelf het mekaar destyds aan die Potchefstroomse Onderwyskollege ontmoet waar hulle saam onderwys geswot het. Sy en Roelf is getroud en hulle het drie dogters, Ané, Renske en Marjulet. Diekie sê mense reageer altyd positief wanneer hulle hoor dat Roelf haar man was. Wat vir haar so kostelik is, is dat Roelf voor sy dood vir tien jaar lank ʼn televisienuusleser was, maar dat mense hom veel eerder onthou vir die Otterjasie-stories wat hy vertel het.

“Ons het nog in Durban gewoon toe Roelf eendag met die idee van Otterjasie vorendag gekom het. Hy het die oggend weer ʼn kontreiprogram aangebied, wat maar dag tot dag baie dieselfde formaat gehad het, en uit verveeldheid het hy begin dink aan die idee van gesprekke met hierdie klein varkie. Sy ma het altyd kleintyd, as hulle vuil gespeel was, vir hulle gesê hulle is regte otterjasies, so sy varkie moes Otterjasie heet.

“Een oggend, nadat Otterjasie nou al vir ʼn wyle aan die gang was, het hy my gebel en vertel dat iemand ʼn klein varkie as geskenk aan hom daar by die SAUK se gebou aangebring het. Ek was opgewonde en het gesê hy moet hom huis toe bring. Gelukkig het Roelf oordeelkundig opgetree en gesê dit sal nie werk nie Die vark gaan groot word en as hy eers daar by ons woon, hoe sal ons ooit van hom ontslae kan raak? Die hele dag het die varkie blykbaar al agter Roelf aangeloop en die mense wat in die voorportaal van die gebou gesit en wag het, wou hulle doodlag toe Roelf en “Otterjasie” daar verbystap. Hy het uiteindelik die varkie vir ʼn boer op ʼn plaas daar naby gegee. Dit was nog nie die einde nie want die mense het dit uitgevind, en sekere kleuterskole het die kinders daarheen geneem om vir die kinders die ware Otterjasie te gaan wys,” sê sy.

Tog reken sy dat daar soveel ander wonderlike prestasies van hom is, dat hy beslis nie net as Otterjasie onthou moet word nie. Hy was veral baie veelsydig in sy werk en het ʼn uitstekende taak as regisseur van radiodramas verrig.

Diekie vertel van die keer toe hy ʼn radiodrama, Die laaste inskrywing, opgevoer het. Die drama was gebaseer op ʼn werklike gebeurtenis toe ʼn duikboot nie na die oppervlakte kon terugkeer weens een of ander menslike fout nie. Agterna is die kaptein se dagboek gevind met sy laaste inskrywings daarin.

Roelf Jacobs en sy gesin

Roelf wou baie graag die akoestiek van ʼn duikboot skep in die ateljee in Durban. Dit was nog in die dae voordat ʼn mens met tegnologie wonderlike klankeffekte kon skep. Hy het toe ʼn klomp sinkplate laat aanry en die hele ateljee aan die binnekant daarmee uitgevoer. Die eindresultaat ten opsigte van die klank was verstommend.

Nog iets waarop sy trots terugkyk is die boekeveilings wat hy in 1978 en 1979 georganiseer het. Die SAUK het skenkings van hoofsaaklik Africana-boeke gekry en Roelf het die boekveiling op die 14 Augustus, die dag waarop Afrikaans haar amptelike verjaardag vier, georganiseer. Mense kon dan inbel en op die lug op die boeke bie en die hoogste aanbod is dan aanvaar. Met die eerste jaar se veiling het hulle R11 250 bymekaargemaak, wat baie geld vir daardie tyd was. Die volgende jaar het hulle dit verdubbel en R23 000 ingesamel. Die geld is gebruik om skrywers te vergoed om opdragwerke te skryf, wat weer as radioteater, soos dit toe bekend was, uitgesaai is.

Sy vertel dat Roelf glad nie siek was nie en dat sy dood ʼn groot skok was. Sy, Roelf en die drie dogters het jaarliks dieselfde huis in Port Edward as vakansiehuis gehuur. Hy het ʼn hartaanval gekry op die tweede dag van hulle seevakansie, ʼn skrale 49 jaar oud.

“Ag, soms dink ek hy was veels te jonk toe hy dood is. ʼn Mens kan nie anders as om te wonder wat hy nog alles sou bereik het nie. Tog het hy voluit gelewe, en elke ding wat hy aangepak het, het hy volstoom gedoen. Hy was so lief vir kinders gewees en het altyd vir my gesê hy sal nooit enige kind wil teleurstel nie. Ná sy dood het ek soveel briefies van kinders ontvang, wat almal baie hartseer was oor Roelf se dood. Hy was ʼn goeie pa en ons was baie gelukkig getroud. Vandag is ek dankbaar oor al die goeie herinneringe” sê Diekie.

Trots in haar pa se voetspore

Renske Jacobs

Renske Jacobs is een van RSG se gewilde aanbieders. Oor die laaste paar jaar het sy veral haar stempel baie suksesvol as regisseur van radiodramas afgedruk. In daardie opsig is dit beslis ʼn geval van aardjie na haar vaartjie. Renske lag en sê sy het daardie tyd drama gaan studeer, nie met die oog daarop om ʼn omroeper te word nie. Sy wou veel eerder op die verhoog uitkom. Tog het radio haar gekies en na ʼn paar jaar as ʼn verslaggewer op Landbouradio, en ʼn paar ander draaie in die vermaakbedryf, het sy ʼn aanstelling by RSG gekry om die nagskof aan te bied. Deesdae kan luisteraars haar stem op Donderdagaande en Saterdag deur die dag hoor.

Oor een ding is Renske baie dankbaar en dit is dat daar ʼn hele dekade verloop het nadat haar pa dood is en sy haar aanstelling by RSG gekry het. Daar was wel nog enkele aanbieders wat saam met hom gewerk het, maar sy het die geleentheid gekry om haar eie paadjie te stap.

“So ʼn jaar of twee gelede het ek besef dat ek my pa eintlik nie geken het nie. Ons het in Pretoria gewoon en my pa het in Johannesburg gewerk. Hy was dus al vroegoggend op pad en dan het hy eers in die aand tuis gekom. Vandag is ek baie spyt daaroor en waar ek kan, vra ek mense om hulle herinneringe aan pa Roelf met my te deel,” sê sy.

Renske was op pad na haar matriekjaar toe haar pa so onverwags dood is. Sy sê hoewel sy net grepies onthou, is die een ding wat haar helder bybly hoe toegewyd haar pa aan sy werk was. “Moenie dink hy het ons afgeskeep nie. Ek dink hy het dit in ʼn mate reggekry om sy werk en sy familieverpligtinge te balanseer. Ek onthou hoe hy altyd sit en lees het. Wanneer ons met vakansie vertrek, was ek altyd verstom oor die stapel boeke wat saam met hom gegaan het.

“As mense soms vir my sê jy het seker lekker geluister na al die kinderstories wat jou pa vertel het, dan voel ek altyd so ʼn bietjie skuldig. Hy was ons pa, en dit was sy werk. Dit was ʼn openbare werk en ons het daarvan geweet, maar hy was in essensie net ons pa. As ek nou terugkyk, is ek dankbaar oor die talente wat ek by hom en natuurlik my ma geërf het. Sy is immers vir baie jare ʼn drama-onderwyser gewees. Oor die voorbeeld wat hulle vir my gestel het ten opsigte van werksetiek en toegewydheid, is ek besonder dankbaar. Daar is soms tye wanneer ek werk aan ʼn radiodrama wat ek wens dat ek ʼn bietjie by hom kon kers opsteek,” sê sy.

Wanneer ʼn mens Renske por om ʼn staaltjie of twee te deel, klink haar helder lag op. Sy vertel dat haar pa nooit geleer het om te swem nie. Hy het in die stad grootgeword, en daar was nie maats met swembaddens nie. Hy het dit egter altyd vir hulle drie dogters weggesteek. Tog was die huis waarin sy grootgeword het in Lyttelton, die enigste huis in die hele omtrek met ʼn swembad. Hulle maats het gereeld daar kom swem.

Roelf Jacobs

“So once in a blue moon het my pa gesê hy gaan nou swem. Die opwinding was dan altyd besonder groot. My pa het dan saam met ons ingespring en gemaak asof hy swem met sy arms. Intussen het hy met sy voete op die bodem van die swembad geloop, hy was mos ʼn lang man. Ons het nooit geweet hy kan nie swem nie,” lag sy.

Renske vertel ook hoe nougeset Roelf na die radio geluister het wanneer hy soggens staan en skeer het. As iemand dit gewaag het om ʼn woord verkeerd uit te spreek, het hy net daar sy skeermes in die wasbak neergegooi, en telefoon toe gestorm om ateljee toe te bel, en die saak aan te spreek. As baas was hy streng, maar nooit onbillik nie.

Daar is oomblikke in die gesprek wanneer die verlange na haar pa in haar stem deurslaan.

“Ek was vir lank glad nie emosioneel oor my pa se dood nie, maar nou dat ek ouer word, raak ek meer emosioneel oor die storie. Ek dink dit is omdat ek nou naby aan die ouderdom kom waarop hy dood is,” sê Renske gelate. “Veral in die laaste twee jaar voel ek hom baie na aan my. Dit skeel my min as mense sien dat ek emosioneel is. Dis eintlik baie bevrydend. Ek het baie goeie herinneringe aan hom en is trots om Roelf Jacobs se dogter te wees. Bitter trots. Wanneer mense dan met my gesels oor hom, en ek kom agter hoeveel respek hulle vir hom gehad het, maak dit my hart warm. Hy verdien dit dat sy nalatenskap en sy naam voortleef. Hy het immers sy lewe vir die uitsaaibedryf gegee.”

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebook-blad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebook-blad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

groenboer ·

“Goue lint, my storie begint…” As ek nou reg onthou is dit hoe sy voorlesings van kindervehale altyd begin het.

Blomme ·

Roelf sou beslis trots gewees het op sy talentvolle dogter.

Realis Thailand ·

Wat n mooi artikel oor n persoon wat ek altyd bewonder het
Ek het sy insig in baie dinge altyd bewonder en het ook nie besef hy is al so lankal oorlede nie
Ja die tyd vlieg verby
Ek het sowaar nie geweet Renske is sy dogter nie
Hy kan waar hy is trots wees op haar en sy trots op hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.