Kuierplek skenk wins ná moord op uitsmyter

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

ʼn Gewilde kuierplek in Kaapstad se bekende Langstraat sal Maandag die dag se wins skenk aan die familie van ʼn uitsmyter wat Saterdag voor die kroeg met ʼn mes doodgesteek is.

Joe Louis Kazadi Kanyona (32) is Saterdag omstreeks 10:30 deur drie onbekende mans met ʼn mes voor Beerhouse doodgesteek. Drie mans het by die kuierplek opgedaag en met Kanyona by die deur gepraat, voordat een van die mans hom glo met ʼn mes in die nek gesteek en hulle daarna gevlug het.

Volgens ʼn kennisgewing op die kuierplek se webtuiste het die voorval plaasgevind toe Kanyona versoek het om een van die mans se identiteitsdokumente te sien. Alhoewel paramedici Kanyona behandel het, is hy later op die toneel dood. Beerhouse was Sondag gesluit ná die voorval.

Volgens die personeel by Beerhouse was Kanyona ʼn geliefde kollega en vriend, met ʼn vriendelike houding en gewillige glimlag. Hy het voorheen in die veiligheidsbedryf gewerk en is die pa van ʼn vyf maande oue babadogtertjie.

“Ter ere aan ons vriend en kollega, Joe Kanyona, sal Beerhouse om 16:00 Maandag heropen met 100% van die dag se wins wat aan Joe se familie sal gaan,” het die kuierplek gesê.

Konst. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê ʼn saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vic ·

Sjoe – mens sou hoop dat meer as net een dag se wins na die man se familie sal gaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.